Monday, October 16, 2006

'n Naweek van nostalgie

Photobucket - Video and Image Hosting

Het jy geweet dat ‘n mens se neus en ore nooit ophou groei nie? So sê my Chappies-papiertjie, in alle geval. “Feit” nommer 47, vir wat dit werd is.

Kan dit regtig waar wees? Ek weet my neus is nie klein nie, maar die ding is darem seker nie groter as laasjaar hierdie tyd nie, of hoe? My naam is tog nie Pinocchio nie? En dis darem ook heel anders as ‘n mens se hare, wat natuurlik wel heeltyd groei, maar dit word darem elke nou en dan gesny?

Maar dit moet waar wees: die Chappie-papiertjie sê so.

Die Chappie self, ‘n groene, is in my mond. Nou-nou, as hy lekker deurgekou is, gaan ek ‘n borrel blaas. Hoop ek kan nog.

Die stukkie gom het ek vroeër vandag gekoop by Betty’s Tea Room, ‘n eetplek by 44 Stanley Avenue in Johannesburg. Dertig sent daarvoor betaal. Kan jy glo: toe ek ‘n kind was, het ons twee vir ‘n sent gekry. Gewoonlik het die kafee-eienaar sommer vir ons een of twee daarvan gegee in plaas van kleingeld. Dis ‘n wonder dat ek nie opgeëindig het met selfs meer stopsels in my tande nie.

Behalwe vir die hare wat op jou ore begin groei, is dit die die seker die duidelikste teken dat ‘n mens self begin oud word: as jy eers begin om nostalgies te raak oor die pryse van jou kleintyd. Halfsent vir ‘n Chappie, een sent vir ‘n Wilson’s toffie, vyf sent vir ‘n pakkie chips. Dis wat ons betaal het in die vroeë sewentigerjare, voordat ons lekker verstaan het van inflasie.

Nou verkoop Betty’s Tea Room een Wilson’s toffie vir 50 sent. Miskien moes ek meer van die goed gekoop het toe ek ‘n klein seuntjie was – bloot as belegging. Oor die laaste dertig jaar of wat het die prys van Chappies en Wilson’s Toffies immers meer gestyg as dié van eiendomme (as jy persentasiegewys daarna kyk, in elk geval).

Maar so van eiendom gepraat: terwyl ek die naweek in Johannesburg was vir my ma se tagtigste verjaarsdagpartytjie, het ek sommer ook vinnig gaan kyk na die huis waarin ons gesin al die jare gebly het. Die plek lyk nog basies dieselfde, behalwe natuurlik vir die hoë tralieheinings (geëlektrifiseerd aan die bokant) wat intussen hulle verskyning gemaak het bo-op die lae steenmuurtjie van my kinderjare. Ma sal verheug wees as ek haar vertel dat die roosboom wat sy altyd so gekoester het (die een naby die voordeur, met die geel rose), in ‘n goeie toestand is. Lyk my die Indiërs aan wie sy verkoop het, kyk mooi na die plek.

Af in die pad is die ou NG Kerk waar ons hele gesin elke Sondag ons plekke ingeneem het. Langs die kerk is ‘n paar tennisbane wat ewe besig was op die tipiese Sondagoggend. Die lede van die tennisklub het dit juis maklik gemaak vir die dominee om ‘n teiken te kies wanneer hy gepreek het oor die mens en sy sondige natuur: nooit hoef hy verder te gekyk het as die tennis-spelers langsaan wat mos eintlik ook op die kerkbanke gehoort het nie!

Vandag is die kerk vervalle en daar’s onkruid en gras wat groei uit die krake op die tennisbaan. Die stryd tussen die twee opponerende belangegroepe het duidelik geen wenners opgelewer nie.

Op met die bult en af aan die anderkant lyk Meville ook heel anders. Ek herken amper nie een van die winkels of restaurante nie. Die Scala haarkappersalon is wel nog waar hy altyd was, net om die hoek op Vierde Laan…ek wonder of ou Fred nog daar is?

Ek ry verby die hoek waar die Melville Swembad destyds was. Laerskooldae het ons sommer afgestap soontoe om te gaan swem in die LO-periodes; deesdae is daar ‘n inkopiekompleks. Skuins-oorkant die pad, waar die Melville Hotel eens gestaan het, is daar ‘n winkel wat beddens verkoop. Asook ‘n Hustler Adult Shop. Praat van vertikale integrasie.

Nie ver van daar af nie is Wespark se begrafplaas. Pa lê ook al meer as twaalf jaar daar, maar ek sal maar anderdag weer na die graf gaan kyk. Dis tyd dat ek koers kry lughawe toe.

‘n Goeie naweek kom tot ‘n einde. Dit was heerlik om al die familie weer te sien. Die ou mense word ouer en die kinders word vinnig groot.

Dis die prys wat jy betaal as jy nie bly waar jou mense is nie: jy sien hulle te min, jy mis uit op baie detail. En af en toe probeer jy opvang, so veel en so vinnig as moontlik. Jou kontak met geliefdes word gereduseer tot ‘n mikrogolf-verhouding.

Ek blaas ‘n borrel: nie te groot nie, maar lekker stewig. Dan blaas ek hard en vinnig uit, tot die ding bars met daai kenmerkende klapgeluid. Lyk my mens verloor darem nooit die slag nie. Ja-nee, dis net soos fietsry. Wat my laat dink: miskien moet ek weer probeer fietsry ook, soos toe ek klein was.

Maar intussen wonder ek steeds oor my groeiende neus.

En kan iemand asseblief vir my sê hoekom is daar nog steeds sente in Suid-Afrika, as jy dan dertig van hulle nodig het om net een Chappie te koop?


Voetstoots van Tonder
15 Oktober 2006

3 Comments:

Anonymous Anonymous said...

Dit was nou lekker lees :-)

Mens hoef nie vreeslik oud te wees voor jy begin nostalgies raak oor jou kleintyd nie! Ek was onlangs weer in die woonbuurt in Bellville waar ek grootgeword het, en het soortgelyke gedagtes gehad - die parkie waar ons altyd krieket gespeel het is nog steeds vol kinders wat speel, behalwe dat daar nou 'n paar bruin gesiggies ook is. Die maak my bly. Die huis waar ons gebly het, het nou 'n grys staalheining om, die tuin is verwaarloos en daar lê 'n rotweiler op die stoep waar my kat altyd gelê en bak het in die son. Dit pis my so bietjie af. Af in die pad is nog steeds die Total garage waar ek my Chappie-wyshede gekoop het vir 5c. Nostalgies op 21.

Terloops, meeste 1c en 2c stukke is nou al uit sirkulasie geneem. Die kleinste wat jy nou kry is 'n 5c.

10:55 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

dankie vir die kommentaar bloute - ja nee, nadat ek hierdie geskryf het, hoor ek daar is nie meer een en tweesente nie - maar dan kan ek dit seker herformuleer: hoe lank nog vir die 5c? en 10c? ens - binnekort sal 50c waarskynlik die kleinste muntstuk wees waarvoor jy enigiets onder die son kan koop (en dan kan mens weer 2 of 3 chappies kry ipv kleingeld...)

8:47 am  
Blogger ericat said...

Dit was lekker om 'n Afrikaanse blog te vind wat net dood normaal geskryf is. Lekker rustig om te lees en saam te onthou hoe die pryse was. Kom kuier gerus by my afrikaanse blog oor aalwyne en die natuur in Namibia hou die sonkant bo
Is dit moontlik om skakels te ruil daar is so min Afrikaans op die www. My kontak is op my Afrikaans webwerf http://storm.prohosting.com/farm4u/afrikaans.aalwyne.htm

6:56 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >