Sunday, November 05, 2006

Die einde van 'n era

Photobucket - Video and Image Hosting

Dis met ‘n tikkie nostalgie wat ek verlede week die huldeblyk aan PW Botha in The Times gelees het. Nostalgie, nie omdat die nagedagtenis aan die man my nou juis met veel warmte vul nie, maar bloot omdat baie van die detail in die artikel die gemoed van ‘n hele era opgesom het.

Dit was die era van my jeug.

Ek was ongeveer een en ‘n half jaar oud toe PW Botha aangestel is as Minister van Verdediging in Hendrik Verwoerd se kabinet. Daarvan onthou ek natuurlik nie veel nie, maar wat ek wel onthou asof dit gister gebeur het, is Suid-Afrika se ongelukkige betrokkenheid in die Angola-oorlog tien jaar later. Ons Minister van Verdediging het oornag verander in ‘n Minister van Aanval. Miskien is dit waar die term vandaan kom dat aanval op die ou end die beste vorm van verdediging is.

Teen hierdie tyd was ek ‘n jong tiener; die oumense het gesê ek’s in my puberteit. Vir my twaalfde verjaarsdag het ek boeke soos “Wat Seuns Wil Weet” van Dr Jan van Elfen gekry, my stem het gebreek, die puisies het op my gesig uitgeslaan en ek het teen wil en dank begin skeer – alles min of meer in dieselfde week.

Dit was nie ‘n maklike tyd nie: in my hart het ek nog gevoel soos ‘n kind, maar ek het ook besef dat die grootmenslewe en al sy probleme vinnig besig was om nader te snel. En daar was niks wat my meer daarvan bewus gemaak het as die rampspoedige gevolge van PW Botha se Angola-oorlog nie: week vir week (of so het dit gevoel) het die agtuurnuus ons vertel van nog ‘n klomp “helde” wat hulle lewe afgelê het op die grens.

Ek onthou nog hoe ek met groot oë gesit en kyk het na die lyste en lyste name afgestorwenes wat oor die televisieskerm rol teen die agtergrond van daardie standbeeld van ‘n man en sy geweer. Net om dit in te vryf, het ons elke Vrydag nog ‘n dubbelperiode kadette ook gehad, uniforms en al, met ‘n hoop ongeskikte onderwysers (almal luitenante in hulle vrye tyd) wat bevele uitblaf terwyl die son steek en ons hard probeer om regs te rig. En ek onthou nog baie goed hoe dit alles my afgesit het van die gedagte aan diensplig.

Wat ‘n woord was dit tog nie wat PW en sy trawante uitgedink het nie: diensplig. Diens, om op ons Calvinistiese gevoel te speel, en plig, net om ons te herinner daaraan dat ons geen keuse gehad het in die saak nie.

Desnieteenstaande daarvan het die regime ons egter toegelaat om vir uitstel te vra op grond van studies. En jy weet mos: van uitstel kom afstel. So, ek was nooit in die Weermag nie. Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Dit was egter die tagtigerjare in Suid-Afrika wat veral onthou sal word as PW Botha se era. Nadat hy in 1978 verkies is tot Eerste Minister, het Botha in 1982 moes toekyk hoe Andries Treurnicht en 15 ander lede van die parlement die Konserwatiewe Party op die been bring. Skielik was Afrikaner-politiek weer witwarm (voor dit het die Progs in elk geval nooit juis hond haaraf kon maak nie, en die ANC was gerieflikheidshalwe nog verban).

Teen hierdie tyd was ek ‘n student aan ‘n Afrikaanse universiteit, en derhalwe het ek ‘n sitplek in een van die voorste rye gehad om die emosionele verwikkelinge dop te hou en die witwarm debat te volg. In 1985 het PW sy mees beroemde toespraak gebruik om ons te herinner dat ‘n Rubicon nie net ‘n wyn is nie. En ‘n jaar later het hy ‘n noodtoestand oor die hele land afgekondig – op min of meer dieselfde stadium wat ek my studies in soortgelyke terme sou kon beskryf.

In die tweede helfte van die tagtigerjare het PW Botha en sy party se kragdadigheid egter begin uitrafel in simpatie met die leier se kwynende gesondheid. Maar terselfdertyd was daar ‘n ander, selfs sterker beweging wat op die been begin kom het, naamlik die genre van Afrikaanse protesmusiek. En niemand het hierdie era beter versinnebeeld as Johannes Kerkorrel en sy Gereformeerde Blues Band nie.

Johannes (soos wat Kerkorrel in latere jare eenvoudigheidshalwe na homself begin verwys het) het natuurlik op die ou end meer as een liedjie oor die karikatuur van PW Botha geskryf. Trouens, my gunsteling CD van alle tye deur hierdie kunstenaar (een waarop snitte soos Hillbrow, Halala Afrika, Somer en Al Lê Die Berge Nog So Blou almal ingesluit is) begin en eindig met liedjies oor PW. Is dit toevallig dat die album se naam Tien Jaar Later is, en dat dit vrygelaat is in 1998 – presies tien jaar na Botha se laaste vol jaar in die politiek?

Die eerste liedjie op hierdie CD is Sit Dit Af – ‘n klaaglied oor die nare gesig van PW Botha met sy vinger in die lug wat die sanger se TV-skerm ontsier. En die laaste liedjie is getiteld Wat ‘n Vriend het Ons In PW – ‘n sarkastiese verwysing na hoe veilig Suid-Afrika is met al die kommuniste wat verban is: “elke aand gaan slaap ons rustig / niks wat ons gemoed beswaar / vensters, deure dig gegrendel / teen die bose swart gevaar…”

Dalk is dit die heel beste opsomming van die PW Botha-dae: ‘n tyd van valse veiligheid, ‘n era van ontkenning.

Nil nisi mortuis bene – sê niks behalwe goed van die dooies nie; so het my Latyn-juffrou my geleer. Dalk is dit hoekom selfs Nelson Mandela – wie se kwarteeu in die tronk amper 100% oorvleuel het met PW Botha se tyd in die NP-kabinet – ook verlede week hulde gebring het aan die Groot Krokodil. Of dalk is dit maar net nog ‘n bewys van Madiba se groter grootsheid.

Maar mag PW Botha in vrede rus. Alhoewel ek moet sê dat ek vir Johannes Kerkorrel heelwat meer sal mis.


Voetstoots van Tonder
5 November 2006

2 Comments:

Blogger Lammervanger said...

Ek onthou hoe my Aardrykskunde-onderwyser altyd 'n stukkie opgefrommelde papier uit sy leertas gepluk het sodra hy begin dink het dat Nelson 'n aangename swart man was...die stukkie papier het 'n lys bevat van al die wapens (en hoeveelheid van elk) wat die ANC (en dus Nelson) in SA ingesmokkel het. 'n Vinnige lees van al die landmyne, kleefmyne en AK-47's, gevolg deur 'n kort verposing om die inligting te laat assimileer, en dan was Nelson weer in die plek waar hy duidelik hoort...die tronk. Dan was daar my vriend wat vertel het dat helfte van elke kadetperiode by sy skool aan dril gewy was, terwyl die ander helfte gewy was aan die Swart Gevaar wat oral was. Die betrokke onderwyser het op een of ander manier uitgewerk en bereken (tot op die sekonde) hoe lank dit sou vat om oorrompel te word as die drie grootste plakkerskampe van Durban sou besluit het dat dit nou die tyd is om die Blankes in die see in te vee. Dit was dan gebruik as herinnering hoekom dit so belangrik is om paraat te wees...

9:02 am  
Blogger Do Kwang said...

Ek het al byna vergeet van daai gestorwe soldate wie se name soms so oor die TV-skerm gerol het tydens die nuusberig. Daar was altyd so 'n silhoeeet van 'n soldate-standbeeld in die agtergrond en ek en my een maatjie het altyd gecheer as daar meer terries as SA soldate dood is. Sjemel, dis nogals moerse tragies om daaraan te dink. Daai kinders was almal minstens tien jaar jonger as wat ek nou is (en wie weet hoe jonk was die "vyand"), en wie weet vandag waarvoor hulle moes sterf. Ek vergeet nou die naam van die betrokke wysgeer, maar iemand het een keer 'n droom uitgespreek vir 'n dag wanneer ou mans nie meer sal rondsit en oorloe uitdink vir jong mans om in te sterf nie.

1:13 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >