Sunday, November 26, 2006

Is die gras regtig soveel groener?

Omtrent twee maande gelede het ek geskryf oor die heel beste jop in die wêreld. Met verwysing na onder meer wynmakers, sportkommentators en die fotograaf vir Sports Illustrated se swemklere-uitgawe, het ek die argument geformuleer dat party mense darem seker regtig hulle werk geniet. Dink jy enigeen van hierdie mense staan in die oggend op en verwens die feit dat hulle kantoor toe moet gaan? Kry hulle daai beklemmende gevoel aan die einde van elke vakansie wat ek so goed kan onthou van laerskooldae af: môre begin die skooltermyn weer, en ek wens ek kan tandarts toe gaan eerder as om my onderwyser in die oë te kyk?

Ek glo nie.

Maar vir ‘n verandering het ek bietjie reaksie gekry op daardie stuk oor die beste jop in die wêreld. ‘n Vriend van my wat in Kaapstad bly (kom ons noem hom Jan, net om sy identiteit te beskerm) het byvoorbeeld laat weet dat niemand volgens hom ‘n lekkerder werk het as Jeremy Clarkson nie.

Vir dié wat nie weet nie, Clarkson se lewe bestaan daaruit om in duur motors rond te ry, mense sleg te sê en oor die algemeen polities-inkorrekte uitlatings te maak. Een voorbeeld: die man hou vol dat globale verwarming ‘n fiksie is.

Jeremy Clarkson is natuurlik ook die hoofaanbieder van Top Gear, die uiters gewilde televisieprogram waarin seuntjies van alle ouderdomme nooit ophou om met karretjies te speel nie. En hy is ‘n uiters vermaaklike skrywer, maar jy sal waarskynlik net van sy rubrieke en artikels hou as jy ook (a) ‘n manlike chauvinistiese vark is, (b) ‘n redelik sarkastiese sin vir humor het, en (c) nie simpatiseer met dié wat arm van gees of beursie is nie.

Ek moet sê ek is nie heeltemal seker hoekom my vriend Jan oënskynlik so jaloers is op Jeremy Clarkson nie, veral as jy in ag neem dat Jan ‘n aktuaris is wat by ‘n groot lewensversekeringsmaatskappy werk. Ek bedoel: wat kan tog lekkerder wees as om in jou hoekie agter ‘n rekenaar te sit en met mortaliteitstabelle te speel? Is daar enigiets meer opwindend as om te probeer bereken hoeveel mense in 2050 gaan sterf aan VIGS?

Jan en ek is vriende ten spyte daarvan dat hy sover ek weet nie regtig ‘n chauvinistiese vark met ‘n sarkastiese streep of ‘n onsimpatieke gesindheid is nie. Wat my laat vermoed dat Jan waarskynlik ‘n aanhanger is van Jeremy Clarkson, die aanbieder van Top Gear, eerder as Jeremy Clarkson, die rubriekskrywer. En soos ek gesê het: Jan bly nie eers in Engeland nie maar wel in Suid-Afrika, so hy kry seker die program ‘n paar weke laat te siene op ‘n DSTV-kanaal soos BBC Prime.

Kan dit wees dat aktuarisse ook inteken op satelliet, nes gewone mense? Dink jy hierdie mense kyk dalk selfs van tyd tot tyd na die rugby op M-Net se Supersport-kanaal?

Hoe dit ookal sy, die woorde wat Jan daardie week oor Jeremy Clarkson kwytgeraak het, was skaars koud of die nuusberig flits oor my televieskerm: Richard Hammond, een van Clarkson se mede-aanbieders op Top Gear, is in ‘n bedenklike toestand na ‘n ernstige motorongeluk. Vir diegene wat dalk hierdie stukkie nuus destyds gemis het: Hammond was besig met ‘n insetsel vir Top Gear waarin hy gepoog het om die Britse landspoed-rekord te breek in ‘n jet-aangedrewe voertuig, maar teen ‘n spoed van ongeveer 300 m.p.h. het die wiele ongelukkig ‘n bietjie afgekom. Letterlik.

Dit bly darem maar interessant hoe die meeste van ons identifiseer met die lot van openbare persoonlikhede, selfs al ken ons hulle van g’n sout of water op ‘n persoonlike vlak nie. Toe Brett Goldin ‘n paar maande gelede vermoor is, het ek mos daaroor ook geskryf. So, ja, die nuus het my ook effe geruk, al is ek nie nie eers ‘n Top Gear-aanhanger soos my vriend Jan nie. Trouens, karre gaan my verstand geheel en al te bowe. Ek kyk eerder in ‘n asblik as onder die enjinkap. Wat my aanbetref is kruisies en nulletjies meer van ‘n sport as Formule 1-wedrenne.

Maar ek het ook al een of twee keer die program per ongeluk gesien wanneer ek uit pure verveeldheid soek na iets om te kyk tussen ITV se skinderprogramme en Sky News se sensasionele beriggewing oor die tussenverkiesing in Wolverhampton. En selfs vir ‘n geswore kar-hater soos ek, moet ek bieg dat daar iets aan die program is wat maak dat mens aanhou kyk, selfs al identifiseer jy nie regtig daarmee nie. Amper soos Big Brother en Strictly Come Dancing.

Met ander woorde ek “ken” eintlik ook vir Richard Hammond. En derhalwe het ek onmiddellik daardie dag my rekenaar aangeskakel en ‘n epos teruggestuur na Jan toe: die ouens van Top Gear het miskien ‘n lekker jop, maar op ‘n dag soos vandag besef mens dat ‘n ander man se lot ook nie altyd maanskyn en rose is nie… is die gras regtig soveel groener aan die ander kant van die draad?

Ek moet sê dat ek nie gedink het dat Richard Hammond dit gaan maak nie – ek het nog altyd gedink dat mens nie regtig terugkom van ‘n “bedenklike toestand! af nie. Maar ek is dankbaar om te hoor dat dit deesdae weer heelwat beter gaan met die man: hy het selfs al ‘n paar redelik winsgewende onderhoude met die poniekoerante gevoer.

Met ander woorde eind goed, alles goed. Persoonlik is ek egter nog steeds nie seker of ek met iemand soos Hammond wil jops ruil nie. Daar is darem heelwat meer aan die lewe as motor-enjins wat brul.

Ter afsluiting wil ek ook net sê dat jy nie die tipiese aktuaris moet onderskat as jy hom agter sy dikraam-bril raakdrink in die naaste kroeg nie. Jy dink miskien die man is besig om te konsentreer op daardie mortaliteitstabel waar hy in sy hoekie agter die rekenaar sit, maar intussen fantaseer hy daarvan om net soos Jeremy Clarkson met karretjies te speel.

Ja-nee, stille waters, diepe grond, onder draai die duiwel in ‘n resiesmotor rond.


Voetstoots van Tonder
26 November 2006

5 Comments:

Anonymous Anonymous said...

Nie vir sensitiewe kykers nie.

Die gehoor by 'n vriend - dalk is die gras aan die anderkant van die draad so groen, omdat daar so baie stront is...

6:08 am  
Anonymous Anonymous said...

Voetstoots, soos jy tereg uitgewys het moet mens nie iemand op sy baadjie takseer nie. Jy mag verbaas wees om te hoor dat aktuarisse wel ook DSTV in hul huise toelaat. Meer as dit, van hulle stel ook baie belang in sport (en nee, kruisies en kringetjies is nie n sport nie). Maar voordat enige iemand dalk wonder of ek die opmerkings ernstig opneem, ek doen nie.

Dit het my wel laat dink dat ons baie maklik is om "labels" op ander mense se koppe te plak. Vir my as aktuaris, wat al soveel keer gehoor het dat as ek vir iemand anders se skoene kyk tydens n gesprek is ek n ekstrovert, is dit ook so.

Maar dit gaan baie wyer as net dit. Hier in SA dink ek byvoorbeeld dat enige Brit maar eintlik onbeskof en 'n "snob" is. En alhoewel ek nie van die "windgat" Ausies hou nie verdra ek hulle darem baie makliker as die Britte. Kan ek so wye aanname maak? Beslis nie! Ek het great Engelse vriende wat beslis nie snobs is nie.

'n Ander voorbeeld is byvoorbeeld Saterdag se rugby. Ai weet jy! Hoekom is dit nog vir mense nodig om vas te klou aan die ou SA landsvlag?! Kan die mense nie asb maar dit wat agter is agter los en saam die nuwe toekoms instap nie? Maar weet jy, ek moet seker nie te vinnig oordeel nie. Miskien is dit die enigste SA vlae wat te koop was by die rugby. Of miskien is dit iemand wat regtig baie na SA verlang en ENIGE iets sou gebruik om hulle verlange op hul moue te dra.

Op die einde van die dag moet ons seker baie meer verdraagsaam wees teenoor mekaar. Nie so maklik uit ons eie verwyssingsraamwerk optree nie en meer male vir ander die voordeel van die twyfel gee eerder as om sommer net die negatiewe te dink.

So, selfs al stem ek nie saam met die ou landsvlag wat so gewapper het op Twickenham nie, sal ek dit verdra. Bloot omdat ek ook verwag mense moet heirdie aktuaris se "foute" verdra.

En ja, ek dink steeds Clarkson het n lekker job! Ten minste kyk hynie vir mense se skoene as hy met hulle praat nie.....en hy dra nie dikraam brille nie!

Cheers en thanx vir die artikels!

Jan

ps. My Afrikaanse "spelchecker" werk nie, sorry.

12:57 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

thanks Jan - re die ou SA vlae by Twickenham, 'n interessante storie inderdaad - ek is bevriend met Pieter Malan wat Naspers hier in Londen verteenwoordig, en ons was Saterdag saam by die wedstryd - hy't juis 'n storie daarvan gemaak wat jy dalk eersdaags in Rapport of Die Burger sal sien - ironies genoeg het min van die mense hoegenaamd 'n sterk politieke rede daarvoor - antwoorde het gewissel van "ons weet nie regtig hoekom ons dit doen nie" tot "die ou vlag verteenwoordig die tyd toe dit nog beter gegaan het met ons land se rugby..." - ander interessante punt: meeste van die mense wat die vlag swaai, is skaars 20 jaar oud, maw teen die tyd wat hulle hul gedagte gekry het, was die nuwe SA al in plek - maw waarna hunker hulle regtig, indien hulle dan wel vir hulleself dink? - laaste punt: grootste ironie is diegene wat albei vlae dra/swaai...

cheers

2:11 pm  
Blogger Lammervanger said...

Of die feit dat 'n jong swart Springbokondersteuner ook die ou vlag gedra het (http://www.dieburger.com/Stories/News/12.0.1583155919.aspx). Miskien is die ou vlag al oud genoeg dat dit 'n retro funkygeid begin optel het!

5:31 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

inderdaad...lieflike foto, daai

9:51 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >