Sunday, December 03, 2006

Danger pay om in Londen te bly

Photobucket - Video and Image Hosting

As jy ooit gedink het dat mens ‘n lewe in Johannesburg of Kaapstad kan ruil vir een in Londen omdat dit kwansuis veiliger is aan hierdie kant van die water, dink weer.

Toegegee, daar’s betreklik min gewelddadige motorkapings op Moddereiland, grotendeels as gevolg van die feit dat die tipiese boef nie die Congestion Charge kan bekostig wanneer hy in die onlangs-gesteelde 4x4 deur die buitewyke van Westminster probeer ontsnap nie. Verder gaan enige potensiële kaper op die ou end in ‘n ellelange verkeersknoop op die M25 vassit, wat beteken dat die polisie-helikopters ten minste drie ure tot hulle beskikking gaan hê om hom in hegtenis te neem.

Maar daar’s ‘n hele klomp ander gevare hier in Engeland. Indien jy byvoorbeeld gelukkig genoeg is om al die bomme op die moltreine te vermy, gaan twee jong mans in sweetpakke met kappies jou agtervolg wanneer jy laat in die aand van die stasie af huis toe loop. Dan gaan hulle jou oorrompel en met ‘n mes steek net om jou Oyster-kaart in die hande te kry.

Wanneer jy mooi daaraan dink, is dit eintlik die presiese ekwivalent van ‘n motorkaping in Suid-Afrika: ‘n oomblik van geweld, en een persoon se mobiliteit word van hom afgeneem deur iemand anders. Want is dit nie waar vir soveel van ons wat in Londen bly dat ‘n Oyster-kaart eintlik maar die enigste “wiele” is wat ons het nie?

Dis egter nie waar jou probleme eindig nie. As jy gelukkig genoeg is om die aanvanklike insident te oorleef, gaan ‘n ambulans jou oplaai en ‘n halwe dag later eers by die naaste noodeenheid besorg. Hierdie keer is dit nie die verkeer wat die probleem is nie (die Engelse gee nogal pad vir loeiende sirenes en rooi ligte wat flikker op die dak). Maar die voertuig se satelliet-toestel gaan die stomme bestuurder op ‘n skouspelagtige roete via Wallis en die Lake Districts navigeer.

Wanneer jy op die ou end by die plaaslike hospitaal arriveer, gaan die NHS jou ten minste ses maande laat wag voor jy behandel mag word. En as jy uiteindelik gelukkig genoeg is om die binnekant van ‘n saal te sien, gaan die veelbesproke “superbug” jou opspoor en finaal uitwis.

Maar selfs die alledaagse lewe hier op Moddereiland is vol lewensgevaar. Net nou die dag nog was die hamburgers besmet met malkoeisiekte, so onlangs soos ‘n jaar gelede het die Chicken Tikka Masala by jou plaaslike kerrieplek genoeg giftige rooi kleurstof bevat om ‘n hele vloot brandweerwaens mee te sprei, en deesdae is Cadbury se sjokolade vol salmonella.

En nou, om alles te kroon, die grootste gevaar van alles: die een wat jy nie eers kan sien of hoor of ruik nie. Een Russiese spioen te veel wat besluit om in Londen af te tree, en skielik is die hele dorp vol van die radio-aktiewe bestraling. Wat my nogal laat wonder oor die vet ou met die potblou oë wat by die tafel langs my hier in Starbucks sit: is sy pofferige wange so rooi omdat hy maar net gisteraand te veel Vodka gedrink het? Of moet ek bekommerd wees oor die feit dat hy so gloei?

Dis eintlik snaaks as jy daaraan dink: so onlangs soos sewe dae gelede het nie een van ons nog ooit gehoor van Polonium 210 nie, en skaars ‘n week later is al wat leef en beef doodbang dat hulle moontlik met die metaal in aanraking gekom het op die terugvlug na daai stoute langnaweek in Praag. Of dalk Strontium 90 – ‘n ewe gevaarlike element wat homself na bewering net so neffens Polonium op die periodieke tabel bevind…

Om die waarheid te sê was ek sedert laas naweek bekommerd oor ‘n paar van my eie simptome. Die hare op my kop is juis aan’t uitval… maar dan moet ek ook bysê dat die proses eintlik al destyds die naweek voor my matriekafskeid begin het (en ek het genadiglik darem nog ‘n hele klompie om te gaan voordat ek heeltemal bles is).

Maar wat my regtig sleg laat slaap het, was toe ek verlede Sondagoggend so verskriklik naar begin voel het. Aanvanklik het ek gedink dis dalk maar net SASGMA (Suid-Afrikaanse Sport-Geïnduseerde Maag Aandoening), maar toe besef ek dat dit darem seker nie kan wees nie want die Bokke het immers die vorige dag op Twickenham gewen. Om nie eers te praat van die feit dat die Proteas onder aanvoering van Graham Smith (die nie-spelende kaptein) die afgelope tyd vir die arme Indiërs behoorlik begin wys het waar Dawid die spreekwoordelike wortel gegrawe het nie.

Op die ou end het die naarheid en die maagkrampe ‘n volle 48 uur lank aangehou, met ander woorde net mooi genoeg vir die duiwel om op ‘n mens se linkerskouer vas te skop en jou te oortuig daarvan dat jy wel vrot is van die Polonium-bestraling. Genadiglik het die toestand homself egter uitgewoed, en ek leef om die storie te vertel. So, as die Russe my dan regtig wil uitwis, sal hulle maar weer moet probeer…

Nêrens is mens meer veilig nie; miskien gebeur dit selfs môre-oggend wanneer ek by die werk opdaag. Ek het hoeka my vermoedens oor al die nonsens wat ek dag vir dag moet opvreet – nie net van veeleisende kliënte nie, maar ook van moeilike kollegas. En nou besef ek: dit kan nie anders nie, dis Strontium 90!

So, daar’s geen tyd om te mors nie. Voor ek weer siek word, gaan ek onmiddellik vir my baas ‘n epos stuur en aandring op danger pay.


Voetstoots van Tonder
3 Desember 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >