Sunday, December 10, 2006

Twee tornado’s in een week

Photobucket - Video and Image Hosting

Goeiste. My woorde van verlede week oor al die gevare van die lewe in Londen was skaars koud, of ‘n jong tornado tref die dorp. ‘n Halfminuut later, en twintig families is nie net dakloos, haweloos, moedeloos. Vader Kersfees is waarskynlik die enigste persoon wat bly is: daar’s ‘n hele klompie skoorstene minder waarteen hy hoef af te klouter; oor twee weke kan hy sommer sy hele slee parkeer in die mense van Kensal Rise se hoofslaapkamers op die tweede verdieping van hulle huise.

Die ergste van alles is egter dat hierdie maar net die tweede grootste ou stormpie is wat Engeland in die laaste week getref het. En die ander een gaan inderdaad veel langer onthou word; daar bestaan nie ‘n sweempie twyfel dat die gevolge daarvan heelwat meer omvangryk is nie. Want waar die tornado van Noord-Londen skaars ‘n honderd mense geaffekteer het, het die ander een ‘n hele nasie in sak en as gelaat.

Jip, dis die Ashes-krieket tussen Engeland en Australië waarvan ek praat. Maandagaand, ‘n uur of wat voor dit tyd was vir die eerste bal van die laaste dag se spel in die Adelaide-toets, het ek ‘n doelbewuste besluit geneem om vroeg te gaan slaap. Wat sou tog die punt daarvan wees om op te bly soos menige vorige nagte en die volgende oggend weer met rooierige oë en ‘n muwwerige kop by die werk op te daag? As daar ooit ‘n vervelige dag se spel sou wees, dan was dit immers hierdie een: Engeland stewig in die saal met ‘n gesonde voorsprong, baie paaltjies staande, en slegs ses ure se spel wat oorbly in die wedstryd.

Moenie glo nie, ‘n tornado was op pad om die Engelse tussen die blaaie te tref. Man vir man het hulle kolwers gaan lê soos ‘n stokou labrador voor ‘n snoesige kaggelvuur. Die res is natuurlik geskiedenis: al wat die Aussies op die ou end nodig gehad het om te doen, was om op te daag. Die klomp van Doer Onder het dan ook verspot maklik gewen: wat aanvanklik gelyk het soos ‘n statistiese onmoontlikheid, was uiteindelik ‘n blote formaliteit.

Ek kon dit nie glo toe ek die volgende oggend opstaan en die skade aanskou toe ek my televisiestel aanskakel nie. Hoe kan dit wees, het ek myself afgevra, dat die span van Australië skielik in volle beheer van ‘n wedstryd is waarin hulle die eerste vier dae lank aanhoudend die onderspit gedelf het. Dit wys jou net hoe interessant krieket by tye kan wees en dit wys jou hoe ongelooflik baie veggees die Aussies het. Meer as enigiets wys dit jou egter eintlik maar net hoe verskriklik vrot die klomp Engelse is.

Want as jy my vra, was die tornado wat vir Andrew Flintoff en sy maters getref het, nie Shane Warne en sy skitterende boulwerk, of die vernuftige kapteinskap van Ricky Ponting nie. Nee wat, dit was veel eerder die Engelse se gebrek aan temperament en swakheid van karakter wat die deurslag gegee het op hierdie droewige dag. Hulle is geweeg en gans en al te lig gevind. Aarde, sluk my in.

Dit help ook nie om ‘n rits beserings of twyfelagtige spankeuses die skuld te wil gee nie. Gaan môre-oggend in kantoor toe en sê dit gerus vir elkeen van jou Engelse kollegas: hulle krieketspan is in een woord pateties, nes hulle kollegas in rugby en voetbal – daar’s eenvoudig nie ‘n ander manier om dit te stel nie. En hulle het nie eers ‘n kwotastelsel om te blameer nie…

Hoe op aarde het hierdie skepsels dit ooit verlede jaar reg gekry om die Ashes te wen?

Ironies genoeg het ek net mooi hierdie week my Engelse bestuurderslisensie deur die pos gekry. Ironies genoeg het dit my meer as ooit laat “Engels” voel toe ek daai pienkerige kaartjie vir die eerste keer in my hand vashou: die klein fototjie laat my nou wel soos ‘n boef lyk (die Bengaalse fotograaf by Piccadilly Circus het aangedring daarop dat ek nie glimlag nie), maar dis tog lekker om te sien hoe my bakkies regonder die Europese vlag sit, die letters “UK” reg in die middel daarvan.

Terloops, as jy die lisensie omdraai, is daar ‘n prentjie wat kompleet lyk soos ‘n outydse Volkswagen Beatle – ek hoop nie dis die enigste tipe kar wat ek wettiglik hier mag bestuur nie? Daar’s verder ook ‘n tweede Beatle (hierdie keer met ‘n sleepwaentjie) asook ‘n kleinerige trokkie (of is dit ‘n gholfkarretjie?).

En net soos ‘n wegneemete van Marks & Spencer se rakke af, het ek ook ‘n vervaldatum: die lisensie is geldig tot een dag voor my sewentigste verjaarsdag, om presies te wees. Ek weet regtig nie of ek solank gaan lewe nie, en verder weet ek ook nie of ek heeltemal so lank op Moddereiland gaan uithou nie. Indien wel, beter die lisensie net geldig wees vir ‘n boot ook, teen die pas wat globale verwarming besig is om die Noordpool te smelt…

Hoe dit ookal sy, die lisensie het gevoel soos ‘n verdere stap in die proses van ankers-gooi hier in Engeland, en dit het my nogmaals laat uitsien na die dag wat ek uiteindelik ook kwalifiseer vir my Britse paspoort (nog ‘n bietjie meer as twee jaar, as alles goed gaan). Dan kan ek ook net deurstap op Heathrow; dan kan ek uiteindelik ophou om te sukkel met ‘n Schengen-visa elke keer wat ek wil gaan ski.

Maar na hierdie week se krieket is ek nie meer so seker nie. Want wie wil nou regtig ‘n Britse paspoort hê en identifiseer met so ‘n klomp verloorders? Ja-nee, die huise van Kensal Rise gaan binne ‘n paar maande herbou wees, maar wat verlede week in die krieket afgespeel het, gaan tot in lengte van dae spook by die Engelse span en hulle ondersteuners.

Miskien moet ek maar eerder gaan vir ‘n paspoort van Kazakhstan.


Voetstoots van Tonder
10 Desember 2006

3 Comments:

Blogger Rendier said...

Daai UK lisensies is great by SA padblokkades. Julie-maand was ek oppad Knysna toe vir die Oesterfees toe ons gestop word. Ek het in die tyd wat ons terug is reeds weer 'n SA lisensie gekry,m maar dog toe ek gaan die UK-een gebruik. Die beampte vra ewe mooi in Afrikaans: "Lisensie asseblief". toe hy "UK" sien, was hy uit die veld geslaan en het in sy mooiste Ingels geuiter: "Enjoy your stay"

Priceless

2:29 pm  
Blogger Lammervanger said...

Ek stem saam dat dit meer 'n geval was van die Engelse wat die toets weggebliksem het eerder as die Ozze wat hom ingekrul het. Onbelangrik natuurlik, aangesien die oorwinning reeds as "die beste ooit" beskryf word deur die Oz pers. Na daai patetiese vertoning hoop ek die Engelse verloor 5-0.

1:15 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

ek hoop ook die Ingelse verloor nou 5-0: die potensiaal daarvoor is al wat die reeks nou "kompeterend" maak

en ek sien uit na daai eerste SA padblokkade!

cheers

5:35 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >