Sunday, December 17, 2006

Twee vlieë met een klap

Photobucket - Video and Image Hosting

So, dis weer sulke tyd. Tyd vir ‘n blaaskans, tyd om familie op te soek en te veel kalkoen te eet, tyd om die kersboom staan te maak, liggies te kyk in Regent Street en allerlei onnodige persente te koop vir ‘n verskeidenheid mense vir wie se geselskap ons nie noodwendig lus is nie. En natuurlik tyd vir Ouma om laasjaar se geskenkpapier uit die kas te gaan haal en van voor af te gebruik.

Persoonlik is ek nie baie goed met kersinkopies nie. Ek dink ek het ‘n effense gly gevang in die tradisie toe ek ‘n dekade of drie uitgevind het dat die plaaslike winkelsentrum se Vader Krismis eintlik een van ons kerk se ouderlinge is wat agter ‘n kunsmatige watte-baard skuil. Ek het hom – en die res van die kerkraad – tot vandag toe nog nie vergewe nie.

Vandat ek vir ‘n Groot Maatskappy werk, het ek egter ‘n probleem. Elke jaar word daar ‘n groot krismisete vir die personeel gereël, en elke jaar moet elkeen van ons die naam van ‘n arbitrêre kollega uit ‘n hoed trek vir wie daar dan ‘n geskenk ter waarde van tien pond of minder gekoop moet word. Secret Santa, noem die mense van HR dit. In meer polities korrekte omgewings sterf die tradisie blykbaar vinnig uit, maar tot dusver het niemand in ons kantoor nog ‘n probleem daarmee gehad nie.

Dis nou afgesien van myself, natuurlik. Ek koop skaars persente vir my geliefdes, en nou dit. Wat koop mens in elk geval vir iemand wat jy skaars ken? En wat kan jy regtig in die hande kry vir tien pond, behalwe vir ‘n bottel wyn of twee pakkies sigarette?

Maar genadiglik vind ek toe mos uit van die nuwe konsep van liefdadigheids-persente wat in die laaste paar jaar sy kop uitgesteek het. Dis alles gebaseer op die beginsel dat meeste kersgeskenke in elk geval ‘n mors van geld is, en dat mens derhalwe die geld eerder kan aanwend deur ‘n skenking namens iemand anders te maak aan een of ander edele saak soos die hongeres in Afrika of die haweloses in Tsunami-land.

Die persoon namens wie jy die geld in die water gegooi het, ontvang dan ‘n kaartjie waarin die volle besonderhede van die donasie uiteengesit word. So kan die gewer sowel as die ontvanger goed voel, want vir die prys van een donasie sal albei van julle dink dat julle iets vir die minderbevoorregtes gedoen het. Praat van twee vlieë met een klap.

As jy natuurlik ‘n bietjie meer geld het, kan jy seker ‘n stappie verder gaan en die Donker Kontinent verlos van sy bevolkingsprobleem. Ek onthou nog hoe opgewonde ek geraak het toe ek destyds gehoor het dat Madonna ‘n seuntjie van Afrika gaan aanneem: waar kan ek aansoek doen? Ek is nog steeds bitter teleurgesteld dat haar uiteindelike keuse op klein David Banda geval het: persoonlik het ek tog veel meer om aan te bied?

Maar hoe dit ookal sy, daar stap ek toe ook nou die dag af na my plaaslike Oxfam-winkel toe en blaai deur die brosjure wat al die opsies van hulle kersfees-donasies uiteensit. Op die voorblad is daar ‘n foto van die oulikste wolhaar-bok: maak ‘n donasie van twintig pond, en ‘n familie in die suide van Soedan spog binnekort met een in die agtertuin. Maar vermoedelik nie as troeteldier nie; ek dink die idee is dat die bok elke dag gemelk word. Wanneer jy moeg is om hom op te pas, kan jy seker enige tyd besluit om die ding te slag. En as Oxfam aflewerings gedoen het in Australië, was daar dalk ‘n paar ander moontlikhede ook...

Wat my laat wonder: waar is al hierdie bokke op die oomblik? Is daar dalk ‘n hele trop van hulle in ‘n hok, êrens in die buitewyke van die Soedanese hoofstad? Wag elkeen van hulle in spanning vir iemand in Londen om twintig pond te skenk, net sodat hulle in ‘n trok gelaai kan word om die armes se bokloosheids-probleme voor Kersfees te kan oplos? Wie sorg intussen vir hulle?

En sê nou maar net dat die mense van Soedan nie genoeg water het om die bokke aan die lewe te hou nie? Is dit dan nie ‘n effense droë plek, soos die meeste ander woestynlande nie?

Maar daarvoor het Oxfam gelukkig ook ‘n oplossing. In ruil vir ‘n donasie van ‘n skamele vyftig pond, kan jy seker maak dat ‘n hele plaas vir ses maande natgehou word. (Hulle sê nie hoe groot die plaas is nie.)

Daar is ander opsies ook: muskietnette, donkies, buite-toilette, mango-plantjies – voorwaar iets om elke sak te pas. Vir twintig pond kan jy byvoorbeeld ook ‘n hele voorraad kondome koop vir ‘n gemeenskap êrens in Afrika. Letterlik.

Maar Secret Santa het mos ‘n tien pond-beperking, wat beteken dat die keuse eintlik redelik beperk was. Welsyn is duidelik nie vir sissies nie; Afrika is ‘n duur plek om aan die gang te hou.

Op die ou end het ek maar besluit om ‘n sak kunsmis te skenk aan een van daai huishoudings wat nie ‘n bok het om te sorg vir natuurlike bemesting nie. Met ander woorde ‘n k** geskenk. Letterlik.

Die kunsmis het ses pond gekos. Met die oorblywende vier pond het ek pub toe gegaan, ‘n pint en ‘n pakkie tjips gekoop en gemediteer oor die betekenis van Kersfees. Want soos die Engelse sê: liefdadigheid begin immers by die huis.

Heppie Krismis, mense. Geniet die breek, ry versigtig, eet gesond, drink lekker, stuur groete vir die familie.

En maak asseblief tog net Ouma se persente versigtig oop sodat sy die geskenkpapier volgende jaar weer kan gebruik.


Voetstoots van Tonder
17 Desember 2006

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >