Sunday, January 28, 2007

My gat se deksel

Photobucket - Video and Image Hosting

Steek weg die kinders, Pappa is kwaad. Ja-nee, hou my vas, asseblief mense, voor ek iemand te lyf gaan – ek is behoorlik die vieste in. En dit het alles te doen met die onbeheptheid en die dubbele standaarde van die Home Office in Engeland.

Net mooi hierdie week was die mense mos weer in die nuus, dié keer omdat hulle die regsbank versoek het om asseblief minder gevangenisstraf uit te deel omdat die tronke so vol is. Gewoontemisdadigers word derhalwe oor die vingers getik en weggestuur met ‘n stywe bolip; intussen is die Engelse pers in rep en roer. Nodeloos om te sê dat die Britse Minister van Binnelandse Sake (of Home Secretary, soos hulle eufemisties na John Reid verwys) vir die soveelste keer in ‘n paar maande veg vir sy politieke lewe.

En ek gun die man elke oomblik van sy lyding. As jy dink dat Andy Robinson drooggemaak het toe hy laasjaar die Engelse rugbyspan gelei het na ‘n dal so diep dat hulle bes moontlik nooit weer daaruit sal verrys nie, dan is dit nog niks in vergelyking met al die flaters en foefies van John Reid en sy trawante die afgelope tyd nie.

Die 2007-jaar het skaars begin, of ons moes byvoorbeeld hoor hoedat polisie-rekords van nie minder nie as 27,000 Britte wat voorheen in die buiteland vervolg is vir ‘n verskeidenheid oortredings, tussen neus en ore in die Home Office “weggeraak” het. Die ergste van als is dat meer as 500 hiervan ernstige misdade was, insluitende moord, poging tot moord, manslag, roof, verkragting en kindermolestering. Die algehele gebrek aan rekords beteken met ander woorde dat daar geen beheer is oor dit waarmee al hierdie skelms en skobbejakke hulleself nou besighou nie; die vrees is dat elke tweede een van hulle intussen by die personeel van ‘n kleuterskool aangesluit het om voort te gaan met ‘n loopbaan as pedofiel.

‘n Week later kom dit op die lappe dat meer as 40 van daai manne in uniform wat parkeerkaartjies in Londen uitdeel, eintlik onwettig in die land is: hulle werkgewers het oënskynlik “vergeet” om al die nodige dokumente na te gaan in die aanstellingsproses. En dan het HIERDIE MENSE die durf om MY te beboet as ek ‘n minuut of twee te laat by my kar opdaag?

Praat van my gat se deksel!

Toe, nie lank na hierdie brokkie nuus nie, vind ons uit van ‘n veeltal Europese dokters en ander mediese werkers wat vir ‘n verskeidenheid van redes van die rol geskrap is in die land van hulle herkoms, en hulleself nou sonder enige probleme in Engeland bevind. Intussen het die meeste van hulle dan ook by die NHS se personeel aangesluit, of ‘n praktyk begin in ‘n area om die draai van jou en my af.

Maar dis mos hoe dit deesdae werk in ‘n verenigde Europa: enige Pool of Boelgaar of Sloveniër (of is dit Sloveen?) kan oorkom Londen toe en wettig hier begin plak, en verder is daar net mooi niks wat hulle keer om die arbeidsmark ook te betree sonder enige beperkinge nie.

Dis darem maar so anders as in die geval van ons arme, arme, arme Suid-Afrikaners. Moet tog nie vir ‘n oomblik dink dat ons met dieselfde tipe moord kan wegkom nie (en ja, so sterk as wat dit dalk mag klink, bedoel ek dit ten minste gedeeltelik letterlik – as jy kyk na sommige van die voorbeelde hierbo). Dit maak net mooi niks saak hoe bona fide ons is nie, dit maak glad nie saak hoe goed ons opgelei is of hoeveel belasting ons die afgelope paar jaar in hierdie land betaal het of hoe mooi ons glimlag nie: die Home Office sal ons nog steeds laat voel soos indringers en uitgeworpenes by elke moontlike geleentheid.

Vat byvoorbeeld die dag in Maart verlede jaar toe die Britte hulle reëls met betrekking tot permanente verblyf uit die bloute verander het. Skielik is dit nie meer ‘n vierjaarplan nie, maar ‘n vyfjaar-beproewing (die verdien van ‘n Britse paspoort vat natuurlik nog ‘n verdere jaar).

Dit was die eerste bittere pil om te sluk. Nou beteken dit egter dat my HSMP-visa – wat eersdaags verstryk – skielik hernu moet word. En mens sou dink dat dit ‘n formaliteit moet wees: ek het mos immers vier jaar gelede al die Home Office se lang vorms ingevul, graadsertifikate voorgelê, gelde betaal, ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts. Maar moenie glo nie, intussen het hulle die HSMP-skema se reëls ook verander, en skielik moet ek onder meer formele bewys lewer dat ek die Engelse taal behoorlik kan gooi.

Geen probleem nie, het ek aanvanklik gedink, ek het mos darem ‘n klompie jare gelede ‘n meestersgraad gedoen by ‘n universiteit in Engeland. Maar nee, dis ook nie goed genoeg nie, daar word net gekyk na Baccalaureus-grade.

Nee, ek maak dit nie op nie, mense: volgens die Home Office se brosjure kan iemand ‘n Meestersgraad in Engels verwerf sonder dat hy noodwendig die taal behoorlik magtig is – en dit net omdat ‘n Meestersgraad soms binne ‘n jaar of twee afgehandel kan word, in teenstelling met ‘n Baccalaureus-graad wat tipies drie jaar vat.

Het ek nie al voorheen vandag verwys na my gat se deksel nie?

Die bottom-line (sien, ek ken wel ‘n bietjie Engels!) is dat ek volgende Saterdag, wanneer jy lekker lê en laatslaap of park toe gaan vir ‘n draffie, moet inklok om ‘n Engelse toets te skryf. Dít, terwyl die Engelse howe dwelmsmokkelaars vrylaat op John Reid se aandrang, bewese pedofiele aanhou klasgee by kleuterskole, onwettige immigrante voortgaan met die uitdeel van parkeerkaartjies in Londen, en geskorsde dokters uit Pole, Boelgarye en Slovenië steeds pasiënte behandel (ten spyte daarvan dat baie van hierdie mense dalk nog nooit ‘n enkele Engelse woord kon praat in hulle hele lewe nie!).

“Here will be an old abusing of God's patience, and the queen's English” – om Shakespeare se woorde uit The Merry Wives of Windsor te parafraseer…

En nee, ek maak nie ‘n grap nie – die toets is nou die enigste alternatief, siende dat ek my B.Com destyds in Afrikaans gedoen het toe die Universiteit van Johannesburg nog die Randse AFRIKAANSE Universiteit was. Ten einde my HSMP-visa te kan hernu, het ek naamlik nodig om die IELTS-toets (International English Language Testing System) deur te kom op ten minste vlak 6 – wat dit ookal mag beteken. Ek hoop regtig nie dis te moeilik nie.

Een of ander tyd belowe ek om terug te rapporteer. Maar intussen moet jy maar vir my duim vashou: ek hou juis nie baie van eksamens nie.


Voetstoots van Tonder
28 Januarie 2007

2 Comments:

Blogger Lammervanger said...

Ek moes ook amper 'n Engelse eksamen aflê sodat ek my TB- en VIGS-lose liggaam op hierdie Eiland kon opkry om drie jaar van my lewe aan die Universiteit van Sydney te skenk. Gelukkig het ek hulle met 'n kunsgreep gefnuik deur te sê dat ek my honneurs en M in Engels gedoen het. Dan luister ek na huurmotorbestuurders die hele stad vol wat nie 'n woord Engels kan praat of verstaan nie en wonder hoe die sisteem veronderstel is om te werk...

11:12 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

juis, Lam, juis...

6:17 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >