Sunday, January 14, 2007

Tjoklits vir die taal

Photobucket - Video and Image Hosting

Ai, weet jy. Hier’s min genoeg geleentheid vir Afrikaners soos ek en jy om lekker ons taal te kan praat op die Moddereiland, en nou moet ek toekyk hoedat ‘n leser swaarde kruis met een van my mede-rubriekskrywers in verlede week se uitgawe van die SA Times – en dit alles oor suiwer taalgebruik, kan jy glo.

Een van die verwyte wat die leser rondslinger is dat daar nie ‘n uitdrukking soos “daar kom ‘n tyd om aan te beweeg” in Afrikaans is nie. Wat my laat wonder: hoekom het ek die frase dan al soveel kere in my lewe gehoor?

OK, dis dalk nie heeltemal handboek-Afrikaans nie. Miskien is dit selfs ‘n aaklige anglisisme. Maar myns insiens is daar tog heelwat erger dinge in die lewe, en ‘n anglisisme is dikwels soos ‘n pak op sy tyd, soos brood en konfyt…

Ekself is ook verlede jaar uitgekryt oor die gebruik van anglisismes en leenwoorde – deur die redakteur van die koerant, nogal. In een van my skrywes het ek naamlik verwys na Frankryk se superieure wynmakers. En die redakteur het glad nie daarvan gehou nie, nie omdat sy iets teen die Franse en hulle wyn het nie, maar omdat sy klaarblyklik ‘n broertjie dood het aan anglisismes. (Sy’s natuurlik ook nie die enigste een nie: net nou die dag het ek en Lam hieroor gesit en redekawel oor ‘n James Boag’s of twee – hy’s definitief aan die redakteur se kant.) (Dis nou Lam wat aan haar kant is; ek dink nie James Boag gee enigsins om nie.)

Die redakteur was naamlik geïrriteerd nadat sy al by meer as een vorige okkasie haar dissatisfaksie geïndikeer het, gebaseer daarop dat hierdie kolom te veel anglisismes bevat op ‘n frekwente basis, in haar opinie. Persoonlik het ek egter nooit gemeen dat haar haar allegasies behoorlik gesubstansieer is nie; ek gebruik net anglisismes as sulks wanneer dit absoluut essensieel is. In my opinie is al haar erupsies in die resente verlede met ander woorde totaal onnodig.

Watse anglisisme, vra ek derhalwe toe ons die dag Frankryk se superieure wynmakers bespreek. Superieur, sê sy vir my – hoekom noem ek dit nie bloot beter, meerdere, of dalk selfs voortreflik nie? Maar dis dan juis ‘n wynterm, antwoord ek haar, daar’s mos een of ander paneel wat kwalifiserende bottels as sodanig sertifiseer. En dan kry die bottel so ‘n goue plakker ter bevestiging.

Of was dit net in die ou dae?

Ek onthou nog my oorlede Oom Kerneels en sy “superieure” wyn, ‘n paar dekades gelede. Die ou omie was ‘n afgetrede kolonel wat baie gehou het van sy laatmiddag-sopie.

Is die Boeing al verby, wou hy altyd weet wanneer ons daar op Stilbaai gaan kuier en hy opstaan van die stoep af om die eerste een van die dag te gaan skink. ‘n Retoriese vraag, as daar al ooit een was. Dan sukkel-sukkel hy na die ou jonkmanskas se kant toe in die hoek van die donker sitkamer: die eerste ware drankkabinet wat ek ooit in ons familie teëgekom het.

As ek die dag aangebied het om te “help”, sou Oom Kerneels soos klokslag die geleentheid aangryp om te spog met die gehalte van sy versameling. Wat ek die heel beste onthou, is al die wynbottels met hulle goue plakkers. Kyk Boetie: ‘n SUPERIEURTJIE, het hy altyd met heelwat genoegdoening en ‘n uitroepteken of twee aangekondig. En dan moes ek maar sekermaak dat ek beïndruk lyk, al het ek in daardie dae nog niks van wyn geweet of enigsins daarvan gehou nie (ek werk nou nog hard om op te vang).

So, jy sien, superieur is definitief ‘n erkende wynterm in suiwer Afrikaans. Oom Kerneels sou tog nie lieg oor so iets, of oorweeg om sy taal te meng soos wat hy gemaak het met sy goedkoop whiskey en soda nie.

Maar die onderonsie tussen my en die redakteur het my tog genoop om die werklike betekenis van ‘n anglisisme te gaan navors. So vind ek toe uit dat ‘n anglisisme ‘n vorm is wat onder Engelse invloed in ‘n ander taal opgeneem word – aldus die ou HAT wat staan en stof versamel op my boekrak.

Presies, roep ek uit, nóg ‘n bewys dat superieur met ander woorde geensins ‘n anglisisme is nie. ‘n Latinisme, miskien (of wat sou die regte term tog wees?) maar definitief nie ‘n anglisisme nie. Want net soos die Engelse, het ons Boere ook maar net die woord (soos vele ander) by ons Romeinse voorouers gaan leen.

Maar wie wil in elk geval suiwer Afrikaans praat? My hoërskooljuffrou het ons byvoorbeeld probeer leer om eerder te praat van ‘n beeldradio as van ‘n televisiestel. Jammer om jou teleur te stel Juffrou, maar ek dink jy het die stryd verloor – as jy nog lewe, is jy waarskynlik die enigste persoon in die hele wêreld wat nog praat van ‘n beeldradio. En jou ambisie was tog so groot om van elkeen van ons ‘n taalpuris te maak…

Wat my verder laat wonder: kan ek hoegenaamd wegkom met ‘n woord soos “puris” uit die oogpunt van die tipiese taalbul?

Daar is nog vele ander voorbeelde in die spreektaal. Vat ‘n woord soos “lift”, byvoorbeeld. Self sal ek dit nooit gebruik wanneer ek ‘n hysbak betree nie, maar as ek saam met iemand huis toe ry, is dit ‘n baie beter woord as ‘n “geleentheid”.

‘n Krismispartytjie is ‘n geleentheid. Jou broer se dogtertjie se doop is ‘n geleentheid. Nelson Mandela se inhuldiging as staatspresident was ‘n geleentheid. Maar ‘n lift is ‘n lift en dis baie gerieflik as een beskikbaar is wanneer jy te veel superieurtjies agter die blad het.

So kan ek aanhou. En ek probeer nie sê dat ‘n mens doelbewus moet angliseer of jou taal moet mieks terwyl daar duidelik ‘n Afrikaanse woord is wat meer toepaslik is nie. Maar as daar wel ‘n Engelse (of Latynse of Hollandse) woord is wat beter op die tong val as die “suiwer” Afrikaans, moet jy vry voel om dit te gebruik – veral as dit die betekenis beter vasvat van dit wat jy wil sê.

Anglisismes is soos tjoklits vir die taal: jy behoort dit vir seker nie te veel te gebruik nie, en niemand sê dis goed vir jou nie. Maar partykeer is jy net lus vir een. En weet jy wat? Dis partykeer bitter lekker om jou skuldig te maak daaraan; om die waarheid te sê, dis sommer superieur.

En dis al wat ek te sê het oor die saak. Dis tyd om aan te beweeg.


Voetstoots van Tonder
14 Januarie 2007

3 Comments:

Anonymous Anonymous said...

Net nie "frekwent" nie, asseblief tog! OF "resent"! Dit is onnodige woorde - "dikwels" en "onlangs" is mos maklik. Persoonlik dink ek dat mens anglisismes kan gebruik as dit normaal klink. Ek het 'n kleintjie dood aan mense wat aspris anglisismes gebruik. Ons ou skoolhoof by Menlopark het dit altyd gedoen, en ek sweer dit was net om slim te klink.

8:52 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

'n kleintjie dood - of 'n broertjie?

9:03 am  
Anonymous Anonymous said...

Oeps! Ja, jammer man. "'n broertjie dood"...

9:45 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >