Sunday, January 21, 2007

Rassisme as nasionale sport

Photobucket - Video and Image Hosting

Presies ‘n jaar gelede was daar ‘n walvis in die Teems, en by gebrek aan enige ander nuus, het die Engelse media ons vir ‘n volle 48 uur op hoogte gehou van iets wat myns insiens omtrent tien minute se dekking verdien het (sien die Voetstoots-argiewe, 22 Januarie 2006).

Maar dit was net mooi niks as mens dit vergelyk met die storm in hierdie week se teekoppie nie. En ek praat nie van die verwoestende windstorm nie – al was dit dan ook die ergste een om hierdie ou eilandjie te tref in sewentien jaar, en al het dit gelei tot ‘n velerlei sterftes.

Nee, dis die belaglike polemiek rondom die rassistiese voorval op Channel 4 se Big Brother waarna ek verwys.

Die koerante was vol daarvan. Al wat nuusbulletin is op elke televisiekanaal het daarop gefokus. Meer as 50,000 mense het Ofcom (die Britse TV-reguleerder) gebel om te kla. Borgskappe is onttrek. Die storie het selfs ‘n draai gemaak in die Indiese parlement.

Hoekom? ‘n Opgesmukte vrou met twee groot borste en een klein breinselletjie sê ‘n beeldskone Bollywood-prinses sleg op ‘n “realiteitstelevisie”-program met verwysing na haar ras, en skielik is almal van ons ongemaklik? Presies watter weergawe van realiteit wil die mense dan hê?

So, dis sogenaamd “realiteit” as ons ‘n handvol mense in ‘n huis vol kameras en mikrofone opsluit vir ‘n paar weke lank. Dis “realiteit” as hulle allerhande simpel take kry net om die kykers te vermaak. Dis “realiteit” as onse eie Ferdie sy besigheid in die tuin doen in Suid-Afrika se eerste Big Brother-reeks in 2001 – onthou jy nog?

Maar wanneer Jade Goody haar skuldig maak aan rassistiese opmerkings – iets wat seer sekerlik meer van ‘n regte, egte realiteit is as enigiets anders wat ooit in die program afgespeel het – dan is die gort gaar, die kat is tussen die duiwe, en ‘n opstand breek uit wat die Franse Rewolusie na ‘n Tupperware-partytjie laat lyk.

Jade Goody is een van daai tragiese skepsels van die moderne era: iemand wat bekend is bloot omdat sy bekend is, en nie omdat sy ooit enigiets besonders vermag het nie. En sy het oorspronklik bekendheid verwerf juis toe sy die eerste keer aan Big Brother deelgeneem het in 2002. Met ander woorde ‘n professionele celebrity, as daar al ooit een was. Net soos Ferdie, wat bekend is vir daai besigheid in die tuin, meer as enigiets anders.

Derhalwe behoort die Britse publiek ook nie kwaad te wees vir Jade Goody omdat sy ‘n rassis is nie (sy’s ten minste eerlik en reguit – iets waarop iemand soos Tony Blair byvoorbeeld nie eers kan aanspraak maak nie). Nee wat, die Britse publiek moet maar eerder kwaad wees vir hulleself omdat hulle vir Jade Goody gemaak het wat sy vandag is. Hulle het haar gemaak deur keer op keer na haar te kyk op televisie, en hulle het haar gemaak deur oor en oor vir haar te stem. Sy’s die onbeheerbare monster in die slaapkamer van dokter Frankenstein. En nou sit hulle opgeskeep met haar.

Maar dis natuurlik ook nie net in Engeland wat rassisme heeltemal uit verband uit geruk word nie. In ons geliefde Suid-Afrika – waar rassisme tot betreklik onlangs nog ‘n nasionale sport was – het daar juis ‘n week gelede ‘n voorval plaasgevind wat myns insiens amper ewe belaglik is as die Jade Goody-affêre. ‘n Mikrofoon op die speelveld het naamlik verklik hoe Herschelle Gibbs ‘n deel van die skare beskryf as “a bunch of bloody animals” toe hulle een van sy spanmaats ‘n harde tyd gegee het in die toets teen Pakistan. En op grond hiervan is Gibbs skuldig bevind aan die maak van rassistiese opmerkings.

Huh? Watse rassisties opmerkings?

Beledigende kommentaar, ja. ‘n Slegte voorbeeld vir die kinders, beslis. Dalk selfs haatspraak. Maar rassisme?

Ek sou dit dalk verstaan het as die SPCA in opstand gekom het oor Gibbs se uitlatings (dis immers nie mooi om ‘n klomp onbeskofte krieket-ondersteuners te vergelyk met onskuldige diere nie) – maar rassisme?

As gevolg van die feit dat Gibbs egter sy tirade juis op Pakistan-ondersteuners gemik het, vereis die oorsensitiewe en polities-korrekte omgewing waarin ons leef, dat die hele voorval aan die hand van rasse-lyne beoordeel moet word. Belaglik, as jy my vra.

Teen hierdie hele agtergrond was dit derhalwe verfrissend om te sien hoe ‘n Britse regter net mooi hierdie week ‘n heel ander benadering volg met betrekking tot ‘n vermeende voorval van rassisme. ‘n Beskonke man wat gearresteer is en toe in aanhouding na ‘n polisie-dokter verwys het as ‘n “f***ing Paki”, het skotvry daarvan afgekom toe die regter besluit het dat die rasse-aanklag nie meriete het nie. Hoe kan ons dit so ernstig opneem, het die regter gevra, wanneer ‘n dronk man iets sê aan ‘n persoon wat nie net voor-die-hand-liggend professioneel en opgevoed is nie, maar wat verder ook ‘n gerespekteerde lid van die samelewing is én homself bevind in ‘n posisie van gesag relatief tot die arme ou dronkie?

Hoor, hoor, sê ek. Maar die heel beste was die regter se boodskap aan die beskuldigde (en ek haal aan): “Next time call him a fat bastard and don’t say anything about his colour”.

Alhoewel dit seker ook nie sou werk nie – want wat sal Weight Watchers daarvan sê? Mens kan ook nie wen nie.

Dit alles laat my sommer verlang na laasjaar se walvis. Die hele storie het wel tragies geëindig toe die arme ding op die ou end gesterf het, maar ten minste het die mense nie vir Wallie gehaat omdat hy donker van kleur was nie. En selfs al was hy kolossaal, het niemand na hom verwys as ‘n “fat bastard” nie.

Ek hoop die walvis rus in vrede. En mag hy, en al sy maters in die dierehemel, vir Herschelle Gibbs ook vergewe dat hy hulle vergelyk het met ‘n klomp onbeskofte krieketondersteuners.


Voetstoots van Tonder
21 Januarie 2007

5 Comments:

Blogger Lammervanger said...

Sinvolle denke en logika het al lankal padgegee en plek gemaak vir politiese korrekheid...

9:59 pm  
Anonymous Anonymous said...

Ek het al gewonder: gestel dit word wetenskaplik bewys dat 'n klomp mense meer gevorder is op die evolusieleer (evolusieboom?) as ander.

Om 'n uiterste voorbeeld te neem, gestel 'n klomp kinders word gebore met bietjie groter breine, nul verstandtande en bietjie dunner, langer vingers om beter te kan programmeer. 'n Nuwe "ras" mense.

Sal die bevinding bekend gemaak word? Of sal dit 'n geheim gehou word ter wille van politiese korrektheid?

5:10 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

goeie vraag, en as ek reg onthou is daar elke nou en dan 'n ou wat juis 'n boek skryf / studie probeer uitbring ingevolge min of meer hierdie tema (deur bv. "wetenskaplik" te ontleed hoe die ras van die wenners/kampioene van verskillende sportitems oor tyd verander het...) - die goed is sonder uitsondering hoogs kontroversieel, die skrywer word afgemaak as 'n ketter, ens. ens. - jy kan natuurlik die punt ook van toepassing maak op bv. sekere studies oor die verskil tussen breinfunksionering van mans versus vrouens (!) - so onlangs soos laasjaar het die voorsitter/rektor/watookal(?) van Harvard (as ek reg onthou?) in die moeilikheid gekom omdat hy juis uitlatings gemaak het in hierdie verband

bottom-line: in terme van hedendaagse standaarde sal logika/wetenskaplike redevoering ongelukkig altyd getroef word deur polities-korrektheid (soos Lam hierbo tereg opmerk)

6:24 pm  
Anonymous Anonymous said...

Die kontroversie rondom sulke tipe studies is seker daar as gevolg van twee redes: die motiverings wat dikwels daaragter sit, sowel as die feit dat baie van die bewyse op statistiek gebaseer is.

Dan is daar die implikasies van die studies...

Die ding is net, as iets bewys kan word, het mense 'n reg om daarvan te weet - of dit polities korrek is of nie. Anders skep ons tog vir onsself 'n samelewing wat op leuens (of dan 'n weerhouding van die waarheid) gegrond is, nie waar nie?

10:52 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

inderdaad - selektiewe waarhede is een van die grootste vorm van leuens wat daar is...

3:23 pm  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >