Sunday, January 07, 2007

Skouer aan die wiel

Photobucket - Video and Image Hosting

Terwyl ek so aan die begin van 2007 sit en staar oor die groot oseaan op die laaste dag van my vakansie, is dit ‘n strofe uit een van Johannes Kerkorrel se liedjies wat aanhou om by my te spook:

“Die branders rol iiiiiiin
by die see…
die branders rol uuuuuuit
by die see…”


Wat my aan die dink sit: kan ‘n mens die sinneloosheid van uitspattige nuwejaarsvieringe hoegenaamd beter as dit versinnebeeld? Is daar enigiets meer gepas as die natuurlike siklus van die see om ons te herinner aan die feit dat die 1ste Januarie op die ou end maar net nog ‘n dag is… met die branders wat ongestoord inrol en uitrol… op ‘n druppel water (ha-ha) soos hulle gister gedoen het?

Of dink jy regtig dat jou gewigsprobleem en die oortrokke bankrekening soos mis voor die son gaan verdwyn net omdat jy ‘n paar ambisieuse voornemens geformuleer het in ‘n oomblik van dronkenskap?

En tog is daar uitsonderings; tog is daar mense vir wie die aanbreek van ‘n nuwe jaar inderdaad ‘n heel nuwe lewensfase beteken. Soos wanneer ‘n kind vir die eerste keer skool toe gaan. Of hoërskool toe. Of universiteit toe. Of weermag toe – as jy een van die ongelukkiges is wat terugdateer na die tyd van die Groot Krokodil.

Tyd om skouer aan die wiel te sit. Tyd vir ‘n nuwe roetine, nuwe vriende en ‘n nuwe sillabus. En natuurlik nuwe terries om op te skiet – as jy terugdateer na die tyd van die Groot Krokodil.

My broerskind (kan iemand asseblief ‘n beter Afrikaanse woord uitdink vir “niece”?) staan aan die begin van een van hierdie fases: haar eerste jaar by Helpmekaar Hoërskool het so pas afgeskop – toevallig dieselfde skool waar my puisies en ek ‘n leeftyd gelede opgedaag het vir ons eerste dag in Standerd 6 (of Graad 8, soos hulle vandag daarna verwys).

En tog is dit eintlik glad nie dieselfde skool nie. Nou weet ek dat dit net Grey Kollege se oudleerlinge is wat enigsins waarde heg aan presies waar’n persoon sy of haar hoërskooljare deurgebring het, maar ek sal tog probeer verduidelik…

In my dae het die strengste vorm van Apartheid byvoorbeeld nog by Helpmekaar gegeld – nie net in terme van die rassesituasie wat regoor die land van toepassing was nie, maar ook wat betref die fisiese skeiding tussen seuns en meisies. Die twee geslagte het hulleself bevind in twee afsonderlike skole aan weerskante van Mellestraat – dieselfde naam, selfde wapen, selfde skoollied, maar verskillende personeel en verskillende eksamenvraestelle. Ons het mekaar net gesien wanneer dit absoluut nodig was, soos by atletiekbyeenkomste en garage-partytjies.

En ek dink die feit dat daar net seuns in die klas was, het beteken dat die meeste van ons onderwysers op die ou end ‘n effens kwaaier benadering gehad het tot die sillabus. Tarka het my byvoorbeeld deur die eerste paar jaar van Latyn geslaan, en Piet Britz het my deur Wiskunde gevloek. In die meeste ander skole sou hulle vir seker nie daarmee weggekom het nie, en in die moderne omgewing sou hulle waarskynlik gedagvaar kon word vir hulle styl van klasgee. Maar dit het redelik goed gewerk, al moet ek dit self sê, en tot vandag toe onthou ek nog meeste van my naamvalle sowel as ‘n meetkunde-stelling of twee.

Sedertdien het alles egter verander. Tarka is dood in een van daai “tipiese” Suid-Afrikaanse terreurvoorvalle, Piet Britz het eers aangeskuif en toe afgetree (ek bedoel MENEER Britz, ingeval hy dalk hierdie onder oë kry – jammer, Meneer…), en vandag is die plek skoon ‘n privaatskool. Die ergste van alles is egter dat Apartheid intussen ook geheel en al afgeskaf is. En weer eens verwys ek nie na ras nie: nee, MEISIES is intussen toegelaat tot my ou skool!

En ís die mense deesdae ernstig daar! In die eerste week van Desember vertel my broerskind my van die taak wat sy moet klaar hê voor die eerste skooldag. Maar is dit dan nie veronderstel om nou vakansie te wees nie, wil ek weet. En hoe kan mens in elk geval huiswerk kry by ‘n skool waar jy nog nie eers begin het nie?

Maar lyk my dis hoe dit werk in die rekenaar- en internet-era. Nie net moet sy ‘n taak doen oor een of ander Belangrike Persoon nie, maar sy moet allerlei inligting oor die skool behoorlik onder die knie hê voordat sy vir die eerste keer by die hekke instap. Vir hierdie doeleindes het sy ‘n rekenaarskyf deur die pos ontvang, met ‘n hele multi-media aanbieding vol praatjies, foto’s en video-insetsels. Elke onderwyser het onder andere iets te sê oor homself of haarself: die een se leuse in die lewe is byvoorbeeld “Hou noord” (ek wonder wat presies bedoel die dame daarmee?); ‘n ander een sê “Just do it” (ek annvaar dit kan seker ‘n handige verskoning wees as my broerskind ooit in die hoof se kantoor beland vir een of ander vorm van kattekwaad?).

Dis nou as sy enigsins tyd het om kattekwaad aan te vang. Want teen die pas wat die arme kinders se jaar begin, is hierdie jaar se Graad 8’s waarskynlik al klaar met Einstein se Relatiwiteitsteorie sowel as die versamelde werke van Shakespeare teen die tyd wat jy hierdie lees.

Vir al die ander mense wens ek ‘n rustige 2007 toe. Gegewe dat Saddam Hussein en Shane Warne kort op mekaar se hakke van die toneel verdwyn het, kan die wêreld net ‘n beter plek wees vir almal van ons. Miskien wen Suid-Afrika dalk die krieket-wêreldbeker in Maart…. mens mag mos maar droom, of hoe?

En as daar enigsins twyfel in jou gemoed opkom, hou noord!


Voetstoots van Tonder
7 Januarie 2007

5 Comments:

Blogger Voetstoots van Tonder said...

nee Maksideem, ek's terug in sonnige Londen...en nee, my naam is nie Bester of Burger nie...

7:39 am  
Blogger Lammervanger said...

Voetstoots dit sou nogal 'n verrassing gewees het as jy Schalk Burger was... en hou maar vir broerskind, beskrywend genoeg dat mens nie hoef te wonder wat de hel dit beteken nie.

9:49 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

ja-nee, dit sou vir myself die grootste verrassing gewees het van almal :-)

en die probleem met broerskind is dat dit nie onderskeid maak tussen die manlike en die vroulike nie...

11:03 am  
Anonymous Anonymous said...

Ek't al verskeie kere met 'n vriend van my gestry oor hierdie broerskind/susterskind storie. (Die arme ou is die laaste van sewe kinders, so dinge raak dan seker deurmekaar.) Hy hou vol dat 'n niece/nephew vertaal kan word as 'n kleinniggie/kleinnefie. Maar in my kop is hulle my se niggies/nefies se kinders...

8:21 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

jip, dis hoe die juffrou my ook geleer het in terme van kleinniggies/nefies

9:19 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >