Sunday, February 18, 2007

Dis daai wóórd...

Photobucket - Video and Image Hosting

** Sien ook hoe hierdie storie verskyn het in Saterdag 17 Februarie 2007 se Beeld, Die Burger en Die Volksblad...

As jy ooit kans kry om ‘n rondte gholf te speel by Fancourt, soek asseblief vir Jaydene en sê vir hom Voetstoots stuur groete. En as hy my nie onthou nie, sê maar net dis die meneer wat deesdae in Londen bly. Dit behoort hopelik die ding te doen.

Jaydene is ‘n joggie. Met ander woorde ‘n kêddie, in plein Afrikaans. En hy’s nie sommer enige kêddie nie, hoor: hy’s Fancourt se beste. Jy kan my maar glo.

Ek het vir Jaydene tien jaar gelede ontmoet toe ek gelukkig genoeg was om uitgenooi te word na ‘n korporatiewe gholfdag by hierdie eksklusiewe gholfkompleks net so neffens George. Alles is vir ons betaal dié dag: speelfooie, gholfhempies met die gasheer-maatskappy se lelike embleem op die linkermou, drie klipharde Top Flite XL balletjies, selfs ‘n toebroodjie by die halfweghuis. En natuurlik kêddies.

Toe ek by die baan opdaag, kon ek aanvanklik nie my lot glo toe ek die vir die eerste keer die mank outjie sien wat dié dag my sak sou dra nie. En terwyl ek hierdie sit en skryf, kry ek sommer van voor af skaam vir myself vir ‘n verskeidenheid van redes.

In die eerste plek kry ek skaam omdat ek besef watse bedorwe Suid-Afrikaanse mentaliteit dit is om enigsins te kla oor al die goedkoop arbeid in die land van my herkoms. Mens besef dit natuurlik veral in ‘n plek soos Londen, waar die tannie wat een keer ‘n week inkom om hemde te stryk my £8 per uur uit die sak jaag.

Maar ek kry veral skaam – en nie vir die eerste keer nie – omdat ek Jaydene onmiddellik dié dag op sy baadjie getakseer het. Of laat ek eerder sê op sy stappie (al die kêddies by Fancourt dra in elk geval dieselfde wit baadjies, so dit sou net mooi niks help as jy hulle daarop takseer nie).

Jaydene het polio gehad as kind, as ek reg onthou, en as gevolg daarvan is sy een been vandag heelwat korter as die ander een. Verder is hy ook nie baie groot van postuur nie. Met ander woorde as hy ‘n swaar gholfsak oor sy skouer hang, lyk Jaydene beswaarlik soos die gemaklikste persoon op aarde.

Maar waar Jaydene miskien effe tekortskiet aan fisiese attribute, maak hy meer as op daarvoor in al sy ander kwaliteite. Dienswillig die uwe, as daar al ooit iemand was wat aan hierdie beskrywing voldoen. Nie net dit nie, maar hy het ook die vermoë om al die subtiele hellings op Fancourt se moeilike setperke te lees soos niemand anders nie. En hy weet wanneer om my uit te los: as ek die dag sleg speel – soos wat ek gewoonlik doen – is ‘n kêddie wat kommentaar lewer immers die laaste ding waarvoor ek lus het.

Om ‘n lang storie kort te maak: my vennootskap met Jaydene was omtrent soos dié tussen Hillary en Tensing. Behalwe dat ek seker nie vir Jaydene sal saamvat as ek ooit besluit om Everest uit te klim nie: ek dink dit sal ‘n bietjie lank vat.

Intussen was ek ‘n paar kere by Fancourt, en elke keer het ek seker gemaak dat Jaydene my sak dra.

Een dag, op die dertiende putjie van die Montague-baan, slaan ek my tweede hou wonder bo wonder omtrent ‘n voet en ‘n half van die putjie af.

Binne links, dink ek toe ek afbuk en wik en weeg hoe die sethou geslaan moet word.

Wat dink jy, Jaydene, vra ek hom.

Binne links, Meneer, beaam hy op sy ernstige manier.

Dóósreg, antwoord ek hom. En ek sien hoe Jaydene verleë vir my glimlag.

Toe ek sekondes later die set links verbytrek, hoor ek hoe Jaydene iets mompel. En die ander kêddies begin almal giggel.

Wat sê jy daar, Jaydene, wil ek onmiddellik weet.

Dis daai wóórd, Meneer. En weer glimlag hy vir my, hierdie keer selfs meer verleë as voorheen.

En ek moes maar saam glimlag. Touché, het ek gedink – daar’s seker niks wat jy verder vir hom kan sê nie. Ek het my les geleer.

Dis dan ook aan hierdie stukkie wysheid van Jaydene wat ek gedink het toe ek verlede week ‘n epos van ‘n vriend ontvang met die amusante video-insetsel van Ernie Els by die Katar Meesterstoernooi. Teen hierdie tyd het jy dit seker ook al gesien: Ernie trek ‘n bofhou na links, en onmiddellik verwyt hy homself dat hy soos ‘n regte d**s speel.

Voordat ek die eerste keer hierde video te siene gekry het, was ek juis nogal in die donker oor die feit dat ‘n hele paar google-soektogte vir "Ernie Els doos" na hierdie blog-bladsy gelei het.

Hoekom, het ek gewonder? Persoonlik sal ek tog nooit so na Suid-Afrika se grootste sportman verwys nie – ek is dan sy heel grootse ondersteuner? (ons verjaar selfs saam!). En wie anders sou Ernie enigsins so wil noem – almal weet tog dat hy die gemoedelikste persoon onder die son is?

En daarom was ek op die ou end heel verlig toe die raaisel vir my opgelos is. Verder was dit tog te lekker om hierdie stukkie goeie Afrikaans te beleef in ‘n internasionale sportuitsending.

Myns insiens is die beste deel van die video juis waar Sky Sports se Steve Beddow vir die Suid-Afrikaner Denis Hutchinson vra om die gewraakte term te vertaal – dít, nadat Hutchinson hoorbaar in sy mou gelag het toe Ernie die kragwoord aanvanklik laat uitglip het. Maar na ‘n oomblik of twee se huiwering, besluit Hutchinson egter dat ‘n vertaling ongelukkig nie moontlik is nie.

En Hutchinson is natuurlik doodreg: hoe vertaal jy dit regtig?

Maar eintlik moet jy die video-insetsel self sien om die humor behoorlik te waardeer – geen beskrywing kan reg daaraan laat geskied nie. (Die video verskyn effe verder ondertoe, ingeval jy nog nooit voorheen daarna gekyk het nie...)

En, wanneer ek hierdie sit en skryf op ‘n Sondagaand waar Ernie soos gewoonlik weer tussen die voorlopers is in die Nissan Ope, maar dit tog nie lyk asof hy op die ou end gaan wen nie, het ek derhalwe ‘n boodskap vir hom.

Miskien moet jy maar eerder ‘n wag voor jou mond plaas, Ernie, miskien wen jy dan weer een of ander tyd een van die groot toernooie. Jy het juis ‘n paar redelike maer jare agter die rug – gemeet aan jou eie hoë standaarde, in elk geval.

Want jy weet mos, dis soos Jaydene sê.

Dis daai wóórd.

* * * * *


En terwyl ons by die tema is, publiseer ek graag iets wat ek in Oktober 2004 geskryf het (met ander woorde in my pre-blog dae):


Dikwels as ek hunker na my jeugjare, en ek met heimwee terugdink aan die dae toe ek beide die plesier en die frustrasie van gholf die eerste keer beleef het (wat, snaaks genoeg, min of meer ook dieselfde tyd was wat ek die plesier en die frustrasie van meisies ontdek het… maar dis ‘n ander storie) dan kan ek nie help om ook terug te dink aan Willem van Drimmelen nie.

Onse Willem het ten minste twee tiperende eienskappe gehad waarvoor ek hom altyd sal onthou. Die een was dat hy, ten spyte van sy dreunerige stem, altyd geklink het asof hy so sag as moontlik probeer praat – so asof hy nie in ‘n ateljee is nie, maar tussen die spelers staan, en hy nie wil pla terwyl een van hulle besig is met sy volgende backswing nie. Of laat ek eerder sê sy terugswaai, want dit was natuurlik Willem se ander kenmerk, naamlik sy onberispelike en verbeeldingryke Afrikaans.

Voordat van Drimmelen op die toneel verskyn het, was die ruveld ‘n woord wat die opstellers van die Woordelys en Spelreëls nog net gebruik het in die konteks van die Karoo, en die enigste plek waar mens ‘n sandkuil aangetref het, was by ‘n kleuterskool. Daarbenewens was ‘n wigyster iets waarvan niemand eenvoudig nog ooit gehoor het nie, en ‘n kolskoot was ‘n term uit die polisiekollege se pistool-opleidingsentrum. Maar hierdie televisiekommentator het dit alles verander.

My gunsteling was wanneer Willem ‘n chip shot van die green se fringe af beskryf het, naamlik as ‘n rapshoutjie van die soom af. Ek het mos gesê dit was die tyd wat ek meisies ook ontdek het: ek het derhalwe groot waardering gehad vir die seksuele ondertone van die man se woorde.

Leef Willem van Drimmelen nog? En saai hy nog gholf uit? Ek het geen idee nie, want ek het lanklaas kans gehad om die Suid-Afrikaanse televisiekanale dop te hou. Maar ek hoop van harte dat hy nog diens doen agter die mikrofoon, aangesien daar seker nog nooit so ‘n goeie tyd vir ‘n Afrikaanse gholfkommentator in die geskiedenis van die sport was nie. Want met Ernie Els en Retief Goosen wat jaar in en jaar uit aanhou om toernooie te wen regoor die wêreld, is daar vandag nie net twee Suid-Afrikaners in die top vyf in wêreldgholf nie, maar inderdaad ook twee ware Boerseuns.

Die afgelope naweek, toe Ernie Els op sy verjaarsdag die Wêreld Putjiespel Kampioenskap by Wentworth vir die sesde keer gewen het (‘n nuwe rekord) het my Afrikaanse hart vir die soveelste keer hierdie jaar lekker warm geklop (al was die weer ook maar triesterig en koud). Maar ek het wel een probleem daarmee gehad. En dit het alles verband gehou met Ernie se taalgebruik.

‘n Voorbeeld: Saterdagoggend in die halfeindrondte teen Padraig Harrington, toe Els sy bofhou gestoot het tot in die regterkantse ruveld, het dit nie ‘n honneursgraad in lippetaal geverg om te sien hoe hy ‘n effe geïrriteerde “for fuck’s sake!” kwytraak terwyl hy agter die bal aanstaar nie.

En ek kon hie help om te dink nie: agge nee man, Ernie, dis nie mooi nie, jy is immers ‘n rolmodel vir alle Afrikaanse seuns. Jy het ‘n verantwoordelikheid om ‘n voorbeeld te stel. Probeer asseblief om nie jou taal so te meng nie.

Maar nou besef ek ook dat dit nie ewe lekker van die tong af rol om te sê “vir fok se onthalwe” nie. Dit klink eenvoudig nie heeltemal reg nie; ek dink dis onder andere te veel lettergrepe om in ‘n oomblik van frustrasie kwyt te raak.

So ek moet bieg: ek weet self nie wat die mees gepaste vloekwoord in die omstandighede sou wees nie. Maar miskien moet Ernie vir Willem van Drimmelen konsulteer? Ek’s seker daarvan hy sal die antwoord hê.


Voetstoots van Tonder
18 Februarie 2007

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >