Sunday, February 04, 2007

'n Baie fyn lyn tussen liefde en haat

Jammer mense, maar ongelukkig het ek nie hierdie naweek tyd gehad om ietsie te skryf nie: ek het mos ‘n Engelse toets gehad om te hanteer. ‘n Uitputtende oefening, laat ek jou vertel. As alles goed gaan, beplan ek om volgende week ietsie daaroor te skryf.

Teen daardie agtergrond haal ek dus maar vandag ietsie uit die kas uit, en wel ‘n opstel wat ek geskryf het na my onlangse Desembervakansie. Eerder laat as nooit, nie waar nie…

* * *

Een van die dae sal dit net mooi vier jaar wees vandat ek by Heathrow aangeland het aan die begin van my uitgebreide oorsese avontuur. Nou die dag was dit met ander woorde die vierde Kersfees in ‘n ry weg van die huis af. En natuurlik vier nuwejaarspartytjies agtereenvolgens waar ‘n verskeidenheid vreemdelinge my omhels terwyl hulle liedjies sing waarvan ek nie die woorde ken nie.

Maar vir ‘n verandering was daar darem hierdie keer ‘n paar kortmouhemde en sonhoedens ook ter sprake. Nie dat my vakansie in Australië nou juis met fantastiese weer afgeskop het nie: Kersdag was die temperatuur in Melbourne byvoorbeeld tien grade Celsius – oftewel net mooi drie grade warmer as in Londen dié dag. Dít, nadat ek vier en twintig uur gereis en amper ‘n honderd breedtegrade sowel as elf volle tydsones gekruis het om die Engelse krieketspan se soveelste vernederende nederlaag in ‘n ry teen die Aussies met my eie twee oë te gaan aanskou.

Hoekom, vra jy. En ek moet bieg, dis ‘n goeie vraag daai – veral as jy kyk na hoe verskriklik eensydig hierdie jaar se Ashes-reeks was. Maar dit het soos ‘n goeie idee geklink toe ek die aanvanklike planne begin maak het…

En verder kan ek dit nou maar eenmaal nie help nie: ek’s gek oor die sinnelose sport van die wilgerkolf en die klipharde leerballetjie. Dis seker maar een van daai aspekte in terme waarvan die Engelse my en my vriende (saam met miljoene ander mense in die voormalige kolonies) suksesvol geïndoktrineer het oor die jare heen. Soos wat hulle natuurlik gedoen het met etlike ander gewoontes ook, byvoorbeeld die feit dat ek dikwels ‘n das om my nek bind, melk in my tee gooi, en netjies in ‘n tou staan om die bus te haal op pad werk toe in die oggend.

En soveel as wat die Engelse my heel gereeld irriteer, en die lewe in ‘n beknopte Londen gevul met al sy onnodige rompslomp my elke nou en dan wil-wil onderkry, is dit waarskynlik juis hierdie koloniale naelstring wat verklaar hoekom ek en soveel honderde duisende ander Suid-Afrikaners onsself tans op hierdie klein eilandjie bevind. Dis ook hoekom die meeste van ons nie saam met die Beckhams na Amerika toe trek en die New York Yankees begin ondersteun, of êrens in Europa gaan bly waar die mense elke dag siestas vat en mens in elk geval gaan sukkel met ‘n taalprobleem nie.

Myns insiens verklaar dit ook die feit dat daar heel gereeld soveel spanning tussen ons en die Engelse is. Dis byvoorbeeld hoekom hulle nie hou van ons “Sef Effriken” aksente nie: dis juis omdat hulle soveel van hulleself in ons raaksien, dat hulle nou maar kies om eerder te fokus op daardie een enkele voor-die-hand-liggende verskilletjie.

Self is ek seker ook skuldig daaraan, en my verhouding met die Engelse is min of meer soos dié van ‘n tienerkind met sy ouers: meeste van die tyd hou ek nogal van die mense en wys ek die nodige respek, maar elke nou en dan kan ek hulle hoegenaamd nie vat nie. En ek dink dis grotendeels as gevolg daarvan dat ons eintlik so soortgelyk is in die meeste belangrike opsigte.

Dis maar hoe dit werk, is dit nie? Dis hoekom die meeste van ons met ons geliefdes baklei eerder as met kollegas of ander kennisse: ons fokus die meeste van ons negatiewe emosies op die mense naaste aan ons, en dikwels doen ons dit met verwysing na die mees onbenullige detail. Of ken jy enigiemand wat ‘n Eskimo “haat”? Of ‘n Boesman? Of ‘n Sherpa in Tibet?

Wat my natuurlik terugbring by die Ashes. Kyk, die mense van Australië hou nie baie van die Engelse nie, ten spyte daarvan dat die meeste Aussie- voorvaders juis tronkvoëls uit Engeland was wat 200 jaar gelede op skepe gelaai is om so ver as moontlik van die huis af weggestuur te word. Of dalk juis as gevolg daarvan.

En hou die Engelse daarvan om die mense van Australië hieraan te herinner! Elke tweede liedjie van die Barmy Army eindig byvoorbeeld met ‘n verwysing na die Aussies se “convict”-status. Nie net dit nie, maar die Engelse het ook ‘n weergawe van hulle volkslied wat uitsluitlik by krieketwedstryde in Australië gesing word, getiteld “God save YOUR Queen” (wat natuurlik gepaardgaan met energieke vingerwysings na al die Aussies langs hulle in die pawiljoen elke keer wanneer die verwysing na “hulle” koningin ter sprake kom…). Op voorspelbare wyse eindig hierdie vorm van die volkslied ook met die strofe: “Long may she reign…OVER YOU!” (sowel as verdere vingerwysings, uiteraard).

Daar is natuurlik meer waarheid hierin as wat die tipiese Australiër waarskynlik wil erken. Hulle is dalk vandag ‘n onafhanklike land, maar die mense van Doer Onder kon dit nog net nie oor hulle hart kry om die bande met die Koninklike Familie te verbreek nie. Elke jaar vier hulle byvoorbeeld nog die Koningin se verjaarsdag met ‘n openbare vakansiedag – iets wat nie eers in die Verenigde Koninkryk gedoen word nie (terloops, die feit dat hulle die dag meer as twee maande na haar regte verjaarsdag vier, is iets wat die tipiese Aussie seker nie eers verstaan nie).

Koningin Elizabeth pronk verder ook op die Australiërs se $5-noot – alhoewel ‘n mens moontlik kan redeneer dat dit juis die Aussies se manier is om ‘n stekie in te kry. Want sien, die $5-noot is die minste waardevolle noot van almal, en as jy kyk na byvoorbeeld die $10- en $20-note, sal jy afbeeldings sien van mense soos Banjo Paterson (die skrywer van “Waltzing Matilda”) en Mary Reibey (‘n perdedief wat op 13-jarige ouderdom Australië toe gestuur is om te boet vir haar sondes en later ‘n suksesvolle besigheidsvrou geword het).

So eintlik maak die Aussies wel ‘n punt teenoor Elizabeth die Tweede: jy is miskien wel ons koningin, maar ons dink nie verskriklik baie van jou nie, Lizzie …

En tog dink ek die gemiddelde Australiër hou eintlik van die Engelse, al sal hy dit waarskynlik nie maklik erken nie. Want wie anders sou die Aussies keer op keer met soveel genoegdoening op die sportveld vermorsel, as daar nie Pommies was nie?


Voetstoots van Tonder
4 Februarie 2007

0 Comments:

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >