Sunday, February 25, 2007

Ons was jonk, ons was dronk…

Photobucket - Video and Image Hosting

Het jy geweet dat die gesaghebbende Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (of die HAT, soos wat dit algemeen bekendstaan) hoegenaamd nie die woord karaoke aandui as ‘n amptelike Afrikaanse woord nie? Ek het nie ‘n idee hoe die mense wil hê dat ons na die aktiwiteit moet verwys nie – samesang, miskien?

Maar nee, ek dink nie so nie.

Samesang gebeur in die kerk (gevolg deur skriflesing en gebed). Samesang vind plaas op die wysie van Die Stem net voordat die Springbokke op Loftus Versveld begin speel (gevolg deur doodse stilte – asook ‘n boe of twee – wanneer dit Nkosi se beurt is). En samesang is wat die mense in Ventersdorp op ‘n Sondagmiddag doen wanneer hulle die FAK-sangbundel onder die klavierstoeltjie se opslaan-sitplek uithaal en Die Lied van Jong Suid-Afrika sing (gevolg deur Kent Gij dat Volk) (gevolg deur koeksisters en tee) (gevolg deur die Leeuloop, gevolg deur De La Rey).

Maar wanneer jy by ‘n kroeg instap, ‘n mikrofoon gryp, en een of ander poptreffer uit toeka se dae ten aanhore van ‘n wildvreemde gehoor uitbasuin terwyl die rook om jou hang en die drank vloei, is dit nie samesang nie. Dis karaoke, en net soos kamikaze is dit ‘n Japannese woord wat gerus maar in die Taal opgeneem kan word.

Hierdie leemte in die woordeskat van Afrikaans het onder my aandag gekom na verlede week se storie van Craig Bellamy en John Arne Riise, twee voetbalspelers wat saam uitdraf vir Liverpool. Na ‘n aand se gefuif wat ontaard het in karaoke, het Bellamy vir Riise met ‘n gholfstok aangeval omdat dié kwansuis nie wou saamsing toe dit sy beurt was nie. Waarop ek myself afvra: hoekom het Bellamy in die eerste plek sy gholfstokke saamgevat na die karaoke-kroeg toe?

Maar Craig Bellamy is oënskynlik ‘n redelike vrot gholfspeler, want hy het duidelik nie sy spanmaat behoorlik beetgekryf nie. Riise was om die waarheid te sê in so ‘n goeie toestand na die voorval, dat hy twee dae later die wendoel kon aanteken in Liverpool se lewensbelangrike wedstryd teen Barcelona – dít nadat die einste Bellamy die bal vir hom aangestuur het.

Hoe ironies is dit?

Wat die storie egter nog meer interessant maak, is dat Bellamy self ook gesorg het vir die span se enigste ander doel van die aand. En waar die tipiese voetbalspeler weghardloop met sy arms in die lug, gevolg deur ‘n suggestiewe danspassie, het Bellamy gekies om sy doel te vier deur ‘n netjiese gholfswaai uit te voer op die kantlyn. Genadiglik was Riise nie hierdie keer binne Bellamy se bereik nie.

So, eind goed, alles goed. Maar ten spyte van die gelukkige uitkoms, was Liverpool se base nie heeltemal tevrede met Bellamy se optrede nie en die speler is ‘n boete van £80,000 opgelê. Met ander woorde omtrent vyftien minute se lone vir ‘n top-voetbalspeler soos hy; ‘n bietjie minder petrol vir die Ferrari hierdie week…

Persoonlik het hierdie hele voorval my laat terugdink aan die een enkele keer wat ek myself ook agter die karaoke-mikrofoon bevind het. Dit was ‘n jaar gelede, by ‘n ski-oord in Oostenryk.

Dis mos maar waaroor die tipiese ski-vakansie gaan: die apres ski, die pret ná die tyd. Van vroegoggend tot laatmiddag probeer jy elegant lyk in jou loodswaar stewels en ellelange ski’s, jy sukkel en val en vloek en verkluim en verwens al die vierjarige Duitsertjies wat teen die spoed van lig verby jou flits, en dan waggel jy oor na die naaste kroeg waar die mense Oompah-musiek speel en peer-schnapps bedien. En karaoke pleeg, as jy ongelukkig genoeg is.

Ek weet wat jy dink. Maar nee, my eie karaoke-sessie was nie die gevolg van te veel schnapps nie. Dis erger as dit.

Die karaoke was my straf omdat ek vroeër die dag twee van my pelle op een van die ski-oord se rooi hellings verloor het. En na die tyd het hulle dit heel duidelik gemaak dat hierdie nie aanvaarbare optrede was nie, veral aangesien nie een van die twee lekker kon uitpluis hoe om terug te kom by die dorpie vandaar af nie. My optrede was oënskynlik vergelykbaar met dié van ‘n bevelvoerder wat sy gewonde troepe op die slagveld agterlaat (en hulle herinner my nou nog daarvan). En ek het gedink dat hulle groot seuns is wat bordjies met rigtingwysers sou kon lees…

Maar moenie glo nie.

Karaoke vir jou, ou maat, is die eerste woorde wat hulle prewel toe hulle drie ure later sleepvoet, sopnat en semi-bevrore by die chalet opdaag. En toe ons later die aand klaar is met aandete en regmaak vir ‘n loopdop, besluit ek om die bul maar by die horings te pak en so gou as moontlik my straf uit te dien.

Eers kies mens ‘n gesang uit ‘n boek met ongeveer 4,000 liedjiename wat die rondte doen. Ek slaan die boek oop: meer as 3,000 van die liedjies is in Duits, insluitende vertaalde weergawes van Elvis Presley, die Village People en Abba se grootste treffers. Hier en daar vind ek wel ietsie in Engels, maar die meeste daarvan herken ek nie regtig nie; popmusiek was nog nooit my sterkpunt nie.

Op die ou end besluit ek op
Seasons in the Sun
wat vir etlike weke in 1974 die nommer een-treffer op Springbokradio se Top 20 was. Die refrein en irritererende wysie sal ek seker nooit vergeet nie: We had joy, We had fun, We had seasons in the sun…

Of, soos my maters en ek dit destyds vry vertaal het: Ons was jonk, Ons was dronk, Ons was tjommies in die tronk…

Photobucket - Video and Image Hosting

Ek voel redelik oorweldig toe ek aanvanklik die mikrofoon gryp, maar gou-gou neem die adrenalien oor – veral as al die meisies met die kort rokkies en die dik grimering begin saamjil. Wonderlike ding, karaoke: waarskynlik het nie een hierdie dametjies nog ooit die liedjie gehoor nie (en hulle was definitief nog nie eers amper gebore toe dit destyds ‘n treffer was nie), maar hier sing almal van ons uit volle bors saam in ‘n nagklub in die Alpe. En ék is die enigste een wat ‘n mikrofoon het.

Eers later het ek besef dat Seasons in the Sun seker nie die mees gepaste liedjie vir ‘n vrolike karaoke-kroeg is nie. Dit gaan immers oor ‘n man wat op sterwe staan en afskeid neem van al sy geliefdes; een van die strofes begin selfs met die woorde Goodbye Papa, It's hard to die, When all the bird's are singing in the sky…

Maar dit het darem nie gelyk asof dit die dansende massas enigsins pla nie.

Op die ou end het ek die hele oefening nogal geniet. Dit was miskien nie mooi om na te luister nie, maar dis nie die punt nie. My straf is uitgedien.

En die beste van alles, is dat ek nie eers met ‘n gholfstok beetgekry is deur enige van my vriende nie.


Voetstoots van Tonder
25 Februarie 2007

10 Comments:

Blogger Lammervanger said...

Ek het al twee karaoke-liedjies deurgewerk in my tyd as vermaaklikheidsheld - Mony Mony van Billy Idol (moet nooit daai een kies nie) en Kokomo van The Beach Boys saam met 'n ander pel (bietjie beter gegaan). Altwee daai sessies was beter as die bliksem voor ons wat Achy Breaky Heart van Billy Ray Cyrus drie keer (DRIE KEER!!) in 'n ry gesing het terwyl hy 'n wolonderbaadjie aangehad het.

10:57 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

ek stel voor jy kies ook nie Seasons in the Sun nie - daar's so baie repetisie aan die einde, dit voel of die liedjie nie wil eindig nie...

9:03 am  
Blogger Lammervanger said...

HERHALING!

9:06 pm  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

korrek, Lam - my apologie...

11:38 pm  
Blogger Rendier said...

Hoekom is mense so entusiasties oor Karaoke? Juins daar in Oostenryk was ek oorweldig deur die Hollanders se entusiasme.

My karaoke-ervaring was beperk tot Suspicious Minds, beloon deur 'n lekker schnapps.

Sal ek dit weer doen? Kom ons debateer dit oor 'n paar Keisers!

8:13 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

Is 'n Keiser 'n Oostenrykse bier?

8:31 am  
Anonymous Anonymous said...

Kan jy darem noot hou? Of was dit een van daai eentonige tipe vertonings?

11:42 am  
Blogger Voetstoots van Tonder said...

wetie - jy sal maar die ander mense wat in die vertrek was, moet raadpleeg (dis soos om 'n man te vra of hy snork?)

12:03 pm  
Blogger Fransien said...

wat 'n flater! ek dog almal weet net Abba liedjies behoort gekies te word vir karaoke...

9:03 pm  
Blogger Rendier said...

Keiser is 'n grtoot bier in die Tirol-streek

11:56 am  

Post a Comment

<< Home

< # afrikaans ? >