Thursday, December 22, 2005

Vat aan my taal…

Niemand het nog ooit voorheen van Bronwyn Davies van Tamboerskloof gehoor nie. Maar toe hierdie “fashion stylist” onlangs in die Britse ontwerperstydskrif Wallpaper* die uitlating maak dat Afrikaans een van die lelikste tale in die wêreld is, laat Johann Rupert nie op hom wag nie, en hy kondig aan dat die Richemont-groep nooit weer hulle luukse handelsmerke soos Cartier en Van Cleef & Arpels in Wallpaper* sal adverteer nie. Vat aan my taal, dan vat jy aan my, aldus die geliefde seun van Stellenbosch. Die Vryheidsfront klap hande, die FAK jubel, en die volk lewer dawerende applous.

Maar persoonlik weet ek nie so mooi nie. Hoekom word iemand soos Bronwyn Davies se opinie so ernstig opgeneem? En wat meer is: wat weet sy in elk geval van die wêreld se tale?

Daar is vandag nie minder nie as 6,800 verskillende tale op aarde. Nie almal van hulle word natuurlik deur eweveel mense gepraat nie: daar is byvoorbeeld net 300 mense in die Ivoorkus wat Ega magtig is. Soos die swartrenoster en die Britse tennisspeler, loop ‘n taal soos hierdie derhalwe die gevaar om eersdaags geheel en al uit te sterf.

Maar daar is ook ander skaars tale. Lakota, byvoorbeeld, word net gepraat deur die Sioux Indiane, Biao Min kom slegs in die suide van Sjina voor, Mocovi in die noorde van Argentinië, en Dadibi in sekere dele van Papua Nieu-Guineë.

Hoeveel van die hierdie tale het Bronwyn Davies al ooit gehoor? En hoeveel mooier as Afrikaans klink almal van hulle vir haar? Watter tale kan sy praat, behalwe miskien vir haar eie gebroke Engels? Ken sy selfs die verskil tussen Xitsonga en isiNdebele – twee van die amptelike tale in haar eie land? En wat van Fanagalo, Lobedu, Phuthi, Khoe, Nama en San, wat almal ook wye erkenning geniet in Suid-Afrika?

Nee wat, Me Davies, probeer maar weer, maar ek sukkel om my te steur aan ‘n opmerking wat so duidelik ondeurdag is. Miskien het jou Afrikaanse buurman in Tamboerskloof se hond maar net die vorige nag te veel geblaf. Of dalk het jy onlangs ‘n spoedkaartjie ontvang van iemand met ‘n slegte aksent en ‘n bypassende liggaamsreuk.

Op die ou end wonder ek eintlik heelwat meer oor Johann Rupert en sy hewige reaksie. My Latynse juffrou op skool het my geleer dat Aquila muscas non capit – oftewel ‘n Arend vang nie vlieë nie, in plein Afrikaans. Owergesetsynde: as jy groot is, bemoei jy jou nie met onbenullighede nie.

Wat my laat wonder: hoekom is Rupert, ‘n internasionale besigheidsman met baie biljoene in die bank, so besonder liggeraak wanneer ‘n onbekende joernalis met ‘n selfbeeld-probleem so duidelik deur haar neus praat?

Kyk, ek hou ook nie daarvan as iemand my taal aanvat nie. Wat my betref, kan Bronwyn Davies dus ook maar in haar peetjie loop. Vir my is Afrikaans verseker die mooiste taal wat daar is – net soos wat ek glo dat ek die heel beste ma in die wêreld het, en dat daar nie ‘n beter rugbyspan is as die Springbokke nie. Maar ek weet ook dat daar baie ander ma’s op aarde is, en dat ek waarskynlik redelik sal sukkel om my opinie te staaf. En ongelukkig wen die Springbokke ook nie elke toets nie.

So, in die gees van Kersfees het ek ‘n boodskap vir Johann Rupert: vergewe gerus maar vir Bronwyn Davies – sy weet duidelik nie wat sy doen nie.


Voetstoots van Tonder
18 Desember 2005
< # afrikaans ? >