Friday, March 30, 2007

Identiese tweeling - geskei by geboorte?

Soek die verskille:

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket
Lasith Malinga(kliek hier)

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket
Lammervanger(kliek hier)

Sunday, March 25, 2007

Moet op prinse nie vertrou nie

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

Soos elke ander seuntjie, het ek ‘n hele paar helde gehad na wie ek opgesien het toe ek klein was. Maar daar is veral twee van hulle wat uitgestaan het bo die res.

Die een was ‘n fiktiewe karakter genaamd Fritz Deelman – ‘n avontuurlustige kalant wat feitlik enigiets kon doen. En hy was dekades voor sy tyd wat betref al die tegnologie wat hy aan sy vingerpunte gehad het.

Die beste van alles was egter die feit dat Fritz juis ook ‘n ware Afrikaanse held was, en nie iemand wat (in vertaalde vorm) uit Europa op ons afgesmeer is, soos Heidi en Pippie Langkous nie.

Ja-nee, Fritz Deelman was die Broederbond se antwoord op James Bond, as jy my vra.

Ek onthou ongelukkig bitter min van die detail, en die boeke self het ek ‘n hele paar trekke gelede reeds verloor. Maar ek onthou wel ‘n paar van die titels.

Fritz Deelman en die Gori Lama. Fritz Deelman en die Diepsee-Duikbol. Fritz Deelman en die Suidpoolbende. Ek kry sommer van voor af hoendervleis as ek daaraan dink.

Die Gori Lama was ‘n Verskriklike Slegte Ou, as ek reg onthou, een of ander Vreeslike Monster in die berge van Tibet wat oorwin moes word. Wat Fritz natuurlik dan ook in ‘n japtrap gedoen het.

Of nie? Soos ek reeds gesê het, ek kan nie regtig onthou nie… Maar dis in elk geval die tipe toneel wat ‘n naam soos die Gori Lama in my verbeelding oproep.

My ander groot held in daardie dae was weliswaar nie ‘n fiktiewe karakter nie, maar ‘n regte mens. Ja, dit was Graeme Pollock – heel moontlik die beste kolwer wat ons land ooit opgelewer het.

Pollock het nie net baie lopies gemaak nie, hy het dit ook op die mees stylvolle manier moontlik gedoen. Dit was alombekend dat hy die swaarste kolf in krieket gehad het, en een of twee keer per boulbeurt sou hy dit op sy lui manier deurswaai. Feitlik sonder uitsondering sou die bal dan ‘n sekonde of wat later teen die dekpunt-grens klap.

Graeme Pollock het alomweë bekendgestaan as die Prins van Kolwers. Tot vandag toe nog wonder ek: hoekom die Prins? Hoekom dan nie die Koning nie?

In my slaapkamer was daar ‘n plakkaat van Pollock, die embleem op sy Gray Nicholls-kolf duidelik sigbaar. Dit was een van die Huisgenoot se dubbelblad-specials. Eers aan die einde van my skoolloopbaan het ek uiteindelik die prent verwyder; teen dié tyd was die Prestik se oliekolle al so groot soos ‘n man se hand.

En omdat Graeme Pollock met ‘n Gray Nicholls gekolf het, moes ek ook een hê. Dit was sonder twyfel die beste en duurste kolwe wat geld kon koop in daardie dae. Ek dink my ma het haar laaste paar sente uitgegee om my met een te beloon toe ek die laerskool se eerstespan gehaal het.

Maar het ek die kolf waardeer! Na elke oefensessie het ek die ding geolie, en elke nou en dan het ek hom selfs afgeskuur met sandpapier om van die ergste rooi merke ontslae te raak. En wanneer ek uitgestap het om te gaan kolf, was dit pure Graeme Pollock in my geestesoog… net jammer dat ek my held nooit regtig kon nadoen met my beskeie tellings nie.

Ongelukkig het ek die kolf binne ‘n jaar of twee ontgroei. En ek het nooit weer ‘n kolf van my eie besit nie. Maar daardie ou Gray Nicholls is nou nog in my kas – een van die min “erfstukke” waaroor my kleinkinders hopelik eendag sal kan stry.

Jare later sou ek hoor dat Graeme Pollock al die tyd so ‘n bietjie van ‘n drankprobleem gehad het.

Wat ‘n skok, wat ‘n skande – my held, ‘n suiplap, sy voete van klei!

Pleks het ek na die Bybel geluister, daar waar mens gewaarsku word dat jy nie op prinse moet vertrou nie. Jip, nie eers op die Prins van Kolwers nie!

Maar miskien was dit in elk geval nie so erg nie. Dalk het Pollock net elke af en toe by ‘n partytjie te diep in die bottel gekyk.

Wie is ek in elk geval om te oordeel? Ek het immers ook my beste gegee tydens die universiteit se jaarlikse jool? Om nie eers te praat van ‘n rampartytjie of twee wat ek al bygewoon het nie…

Ja-nee, laat hy wie se gewete eenhonderd persent skoon is die eerste klip gooi, as jy my vra.

Toe Hansie Cronjé se slinkse streke ‘n kwarteeu later op die lappe kom, was dit aan my eie obsessie met Graeme Pollock waaraan ek teruggedink het.

Hoeveel laerskoolseuns was daar nie tien jaar gelede wat ‘n Huisgenoot-plakkaat van Hansie met Prestik teen die muur opgeplak het nie? Sal ons ooit die ontnugtering van ‘n hele generasie kinders verstaan – alles te wyte aan een held wat so hard geval het?

Pleks het Hansie maar net eerder begin drink, soos Graeme Pollock, dan sou dit alles nie so erg gewees het nie. Maar nee, onse Hansie was mos juis bekend as die geheelonthouer met die What Would Jesus Do-bandjie om sy arm. Dít, terwyl ons later moes hoor dat hy eintlik besig was om agteraf te konkel met die professionele dobbelaars uit Indië.

En nou is Bob Woolmer ook vermoor. Wanneer ek hierdie sit en skryf, weet niemand nog presies hoe en hoekom nie. Aanduidings is egter dat dit nogmaals verband hou met die sport se onderwêreld – iets wat mense gehoop het ‘n saak van die verlede is na die hele Hansie-episode.

Was Woolmer self betrokke, of was hy bloot ‘n onskuldige slagoffer? Miskien sal ons nooit regtig weet nie.

In die laaste week was daar egter ‘n horde mense (insluitende ekself) wat verklaar het hoeveel hulle geraak is deur Bob Woolmer se dood. Maar dan herinner ek myself ook daaraan dat dit nie raadsaam is om helde te maak van normale, feilbare mense nie. Ek het mos reeds my les geleer met Graeme Pollock en Hansie Cronjé, of hoe?

Want onthou, selfs al was Woolmer self heeltemal onskuldig (soos wat die meeste van ons graag wil glo), is die kans steeds goed dat een of meer top-krieketspelers (en derhalwe ander mense se helde?) mettertyd aan die pen gaan ry in verband met sy dood. Intussen maak ek myself solank reg vir die ergste…

So, staan gerus verwonderd oor die atletiese vermoëns van jou gunsteling sportsterre. En geniet die vermaak wat hulle verskaf.

Maar as jy dan regtig ‘n held moet hê, kies eerder ‘n fiktiewe karakter soos Fritz Deelman.

Ek is al vir meer as dertig jaar ‘n aanhanger, en hy het my nog nooit teleurgestel nie.


Voetstoots van Tonder
25 Maart 2007

Sunday, March 18, 2007

Rus in vrede, Mister Woolmer

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

Soos elke ander krieketondersteuner in die wêreld was ek gevul met skok en ongeloof toe ek Sondagaand gehoor het van Bob Woolmer se skielike afsterwe. In die volgende paar dae sal ons waarskynlik etlike huldeblyke oor die man te siene kry, en die meeste daarvan sal waarskynlik fokus op al sy prestasies as speler en internasionale afrigter.

Spesifiek uit ‘n Suid-Afrikaanse oogpunt sal die meeste van ons natuurlik vir Bob Woolmer onthou as die Proteas se afrigter in die Hansie Cronjé-era: vanaf 1994 tot 1999 was die twee van hulle in ‘n baie hegte vennootskap aan’t stuur van sake in ons land. Woolmer self het egter padgegee omtrent ‘n jaar voordat Hansie finaal in die warm water beland het. En teen die tyd wat die King-kommissie behoorlik op dreef begin kom het in die middel van 2000, was Bob Woolmer se boek (Woolmer on Cricket, uitgegee deur Virgin Publishing) – waarin hy sy moeilike verhouding met Cronjé in redelike detail bespreek – reeds op die rakke.

Hoeveel het Woolmer geweet van al Cronjé se kwajongstreke? Daar is byvoorbeeld aanduidings dat die afrigter wel sy vermoedens gehad het oor sommige van die kaptein se doen en late. In Deon Gouws se boek And Nothing But The Truth (uitgegee deur Zebra Press, 2000) maak Tim Noakes – ‘n goeie vriend van Bob Woolmer, en die Proteas se spandokter tydens daardie selfde era – etlike aantygings in hierdie verband. Maar ek vermoed dat heelwat van hierdie detail seker vandeesweek saam met Woolmer begrawe sal word.

Persoonlik is daar egter iets heel anders waarvoor ek vir Bob Woolmer sal onthou – en ek vermoed dat min van die ander huldeblyke daarop gaan fokus. En dit is die bydrae wat mense soos hy gemaak het nie net tot Suid-Afrikaanse krieket oor die algemeen nie, maar wel tot AFRIKAANSE krieket in die besonder.

In sy boek beskryf Bob Woolmer byvoorbeeld hoedat hy in 1970 in Suid-Afrika opgedaag het as ‘n jong graafskapspeler en by die Transvaalse Krieketunie aangesluit het as ‘n deeltydse afrigter. Hy beskryf ook hoedat daar destyds juis ‘n inisiatief was om die spel te bevorder by die land se Afrikaanse laerskole (waar die seuns voorheen feitlik eksklusief op rugby gefokus het).

Woolmer gaan dan voort om vier spesifieke skole se name te noem waar hy destyds betrokke was. En soos die toeval dit wil hê, noem hy onder meer ook die naam van my eie alma mater: die Aucklandparkse Laerskool (wat vandag nie meer bestaan nie – maar dis ‘n ander storie). (Terloops, in sy boek kry Woolmer die name van al die skole effens verkeerd – maar ter versagting kan mens seker aanvaar dat die name nie maklik op sy Rooinek-oor geval het nie.)

“I was very impressed with the almost fanatical discipline imposed on the children in these schools; as a result they learnt very quickly from me and I was happy and successful during this time.” – aldus ‘n aanhaling uit Bob Woolmer se boek.

En dis van MY wat hy daar praat. Oukei, miskien nie noodwendig ekself nie, maar wel die laities wat saam met my op skool was. Sien, toe Woolmer daar by ons nette rondgehang het, was ek min of meer in Graad 1. My eie krieket-“loopbaan” (vrot openingskolwer, stadige bouler wat nooit regtig die bal kon draai nie, gretige veldwerker) sou met ander woorde eers ‘n paar jaar later behoorlik aan die gang kom. Ek sal ook jok as ek sê dat ek vir Woolmer persoonlik onthou van daardie dae af.

Maar die invloed van Mister Woolmer en sy kollegas het wel afgevryf op die skool se onderwysers sowel as die seuns, en baie van ons het uiteindelik van ‘n jong ouderdom af besluit om te fokus op krieket eerder as rugby.

Myns insiens was daardie jare dan ook ‘n keerpunt in die geskiedenis van die sport in Suid-Afrika. Voor dit was daar kwalik enige Afrikaners tussen die beste spelers in ons land. Vat byvoorbeeld die beroemde span van 1966/67 wat allerweë beskou word as die beste Suid-Afrikaanse span in die geskiedenis, met beroemde spelers soos Eddie Barlow, Ali Bacher, Graeme Pollock en Peter Pollock… almal Engelssprekend.

Daar was net een Afrikaanse naam tussen die hele lot van hulle: die kaptein, Peter van der Merwe. En ja, hy was ‘n Engelse van der Merwe!

Terwyl Bob Woolmer en sy trawante tien jaar later in die Afrikaanse laerskole werksaam was, het die prentjie op die hoogste vlak van krieket in Suid-Afrika maar min of meer dieselfde gelyk. Die destyds Mean Machine van Transvaal – met spelers soos Clive Rice, Jimmy Cook en Henry Fotheringham (almal Souties) – het die provinsiale toneel heeltemal oorheers. Selfs Spook Hanley (die span se berugte snelbouler) was ‘n Engelse spook.

En die een enkele Afrikaner wat wel ‘n kolf kon vashou het natuurlik Queensland toe verkas; Kepler Wessels sou op die ou end 24 toetse vir Australië speel.

Maar in die tagtigerjare het die Afrikaanse inisiatief begin vrugte afwerp. Noord-Transvaal en Vrystaat (tradisioneel net bekend as rugby-provinsies) het ontaard in respektabele spanne, en boerseuns soos Fanie de Villiers en Corrie van Zyl het skielik hulle verskyning gemaak. Allan Donald (jip, ‘n stoere Boer, ten spyte van die Ingelse naam) en Hansie Cronjé sou kort daarna ook op die toneel verskyn.

Die res is natuurlik geskiedenis, en feitlik helfte van die Protea-span wat vandag aan die Wêreldbeker deelneem, is Afrikaanssprekend... alles te danke aan die pogings van mense soos Bob Woolmer, meer as dertig jaar gelede.

Ter afsluiting, ‘n aanhaling wat Woolmer self gekies het vir die banier op sy persoonlike internet-bladsy:

“Yesterday is history,
Tomorrow is a mystery,
Today is the present –
a gift to make a most of.”


Beter kan ek dit self nie stel nie – veral as jy kyk hoe skielik die man heengegaan het.

Rus in vrede, Mister Woolmer. My vrinne en ek sal jou ewig dankbaar wees.


* sien ook hierdie huldeblyk deur Mihir Bose van die BBC


Voetstoots van Tonder
18 Maart 2007

Sunday, March 11, 2007

Wie stem vir poeding?

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

Teen dié tyd is dit ‘n welbekende feit dat ‘n 29-jarige gryskop genaamd Taylor Hicks as reekswenner uit die stryd getree het in verlede jaar se Idols-kompetisie in die VSA nadat hy nie minder nie as 63 miljoen telefoniese stemme van die publiek op homself verenig het. Wat die prestasie egter nog meer merkwaardig maak, is dat Hicks in die proses ongeveer 9 miljoen meer stemme getrek het as die 54 miljoen kiesers wat in 1984 ‘n kruisie agter Ronald Reagan se naam gemaak het (tot vandag toe nog ‘n rekord-totaal vir die Amerikaanse presidentsverkiesing).

Maar dis seker ook verstaanbaar: deesdae is die tipiese deelnemer aan Idols in elk geval aantrekliker as Hillary Clinton, hy of sy sing mooier as Barack Obama, en hulle almal dans heelwat beter as Rudy Giuliani.

En dis ook nie net in Amerika wat die publiek so gretig is om in te bel en hulle stem dik te maak nie. Die foefie het oorgewaai na die meeste ander lande toe, en ek verstaan dat die Suid-Afrikaanse weergawe van Idols deesdae vir sekere groepe mense ‘n kwessie van volkstrots en politieke identiteit geword het: “kom ons bel tog nog ‘n keer, net om te help sekermaak dat een van ONS mense kan deurdring na die volgende rondte toe…”

In Engeland het ons natuurlik onlangs iets soortgelyks gesien, en wel toe bykans al wat politikus is die nasie aangespoor het om asseblief tog in te bel en vir Jade Goody uit die Big Brother-huis te stem – “net om vir die res van die wêreld te wys dat ons almal nie regtig rassiste is hier in Groot Brittanje nie”. Die politici se wens het dan ook waar geword, en Goody is sonder versuim geban na ‘n woestyn van publieke afkeur. En les bes het Shilpa Shetty (die teiken van Goody se ondeurdagte opmerkings) as algehele wenner van die reeks uit die stryd getree.

En dit alles net omdat genoeg mense hulle telefoon opgetel het om te “stem”.

Intussen het die reputasie van inbelprogramme op hierdie ou eilandjie natuurlik ietwat skade gely.

Eers het die pretensieuse paartjie Richard en Judy hulle kykers aangespoor om aan te hou deelneem aan ‘n kompetisie waarvan die wenners inderwaarheid reeds gefinaliseer was. Maar kierankies braai, Richard en Judy is uitgevang, en die twee moes op die lug om verskoning vra vir die “misverstand”.

Dit was egter maar net die begin van die moeilikheid. Want sedert hierdie voorval, het probleme hulle kop uitgesteek by feitlik elke ander inbelprogram op Engelse televisie.

ITV, wat spesialiseer in hierdie tipe kompetisies, het inderwaarheid sover gegaan om uitsendings van al hulle programme met ‘n inbel-element tydelik op te skort en eers weer voort te gaan daarmee nadat ‘n volledige oudit uitgevoer is.

Ek kan my net die gesprek voorstel tussen die tipiese ouditklerk van Deloitte en sy ma wanneer die kêrel in die aand by die huis opdaag na ‘n “harde dag” op kantoor: “Wat het jy vandag gedoen, my kind, moes jy weer uitry na ‘n stowwerige pakhuis in Hatton Cross vir ‘n vervelige voorraadopname?”. Waarop haar ou bloedjie antwoord: “Nee, Ma, dis veel erger as dit – ek moes heeldag kyk na opnames van Dancing on Ice!”.

Luidens koerantberigte sal ITV dalk mense moet terugbetaal vir alle telefoonoproepe waar kykers om die bos gelei is oor die afgelope twee jaar – afhangende van die uitslae van die Deloitte-studie. Maar het iemand al gedink hoe hulle al hierdie mense gaan opspoor? En het hulle al probeer uitwerk wat die administratiewe koste en posgeld gaan beloop om tjeks ten bedrae van 35p elk te stuur aan 5 miljoen verskillende lede van die publiek?

Mens kan maar net jou kop skud.

Die beste van alles is egter die storie van die BBC se Saturday Kitchen waar kykers ‘n paar weke gelede gevra is om in te bel en te stem vir een van twee poedings – van alle dinge. Die ateljee-gas Eamonn Holmes sou dan kwansuis die kykers se keuse van nagereg op hierdie “lewendige” program verorber. Die enigste probleem was dat die einste Holmes op daardie selfde tydstip eintlik besig was om ‘n regstreekse radioprogram ook uit te saai…

Die BBC het egter vinnig teruggekap. Nadat hulle uiteindelik gebieg het dat die program wel vooraf-opgeneem is, word daar nou beweer dat Holmes inderdaad albei poedings verslind het – en dat hulle op die ou end net een van die opnames gespeel het, soos gekies deur die kykers.

En dis die tipe nuus waarmee die Engelse koerante hulleself deesdae besig hou, terwyl die oorlog voortwoed in Ethiopië en die bomme bars in Baghdad.

Maar wat my verstand op die ou end heeltemal te bowe gaan, is nie die blote feit dat die BBC hulle kykers probeer kul het nie. Nee, wat ek regtig nie kan verstaan nie, is dat enigiemand by sy of haar volle verstand die moeite kan doen om ‘n televisiekanaal te bel – en dít om te stem vir ‘n poeding!

Dit het my egter aan die dink gesit. En nou wonder ek hoeveel ander programme ons dag vir dag na kyk waarvoor daar eintlik verskillende uitkomste bestaan, terwyl ons op die ou end maar net een vooraf-verkose weergawe daarvan sien? En hoe dikwels dink ons dat iets regstreeks voor ons afspeel, terwyl dit eintlik lank tevore reeds opgeneem is?

Vat die krieket-wêreldbeker, byvoorbeeld. Volgens alle bronne begin die kompetisie hierdie week in die Wes-Indiese eilande, met ‘n eindstryd in Barbados wat geskeduleer is vir die einde van April. Maar met al die televisie-skandale wat dag vir dag hulle kop uitsteek, wonder ek of ons almal nie dalk in die war verkeer nie.

Wat’s die kans dat al die wêreldbeker-wedstryde eintlik alreeds afgehandel is, en dat daar net êrens een of ander inbelprogram aan die gang is om te bepaal watter uitslag die TV-owerhede vir ons gaan wys?

Ek dink dis juis wat in 1999 ook gebeur het. Onthou jy nog die tydelike breinstilstand wat Lance Klusener en Allan Donald beleef het toe Suid-Afrika ‘n skamele een lopie van vier oorblywende balle moes aanteken in die halfeindstryd teen Australië?

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

En dit alles omdat ek en jy nie ingebel het om te stem vir ‘n ander uitkoms nie...

O, jy het nie geweet daar was ‘n inbelprogram wat destyds die uitslag bepaal het nie? Wel, ek ook nie…

En ek dink dit verklaar juis die uitslag. Want êrens was daar ‘n paar miljoen Aussies wat almal hulle stemme uitgebring het, terwyl ek en jy nie eers geweet dat ons moet bel nie.

So laat ons asseblief nie hierdie jaar dieselfde fout maak nie.

Kan iemand asseblief vroegtydig uitvind wat die nommer is om te bel sodat ons kan sien hoe die Proteas bevestig word as bo-baas in Barbados?


Voetstoots van Tonder
11 Maart 2007

Sunday, March 04, 2007

Die bobbejaan agter die bult

Photobucket - Video and Image Hosting

Een van die realiteite van die lewe hier in Engeland, is dat mens noodgedwonge ‘n bietjie agtergelaat word in terme van die kulturele verwikkelinge in Suid-Afrika. Maar gelukkig darem ook nie heeltemal nie: op die ou end vat dit net ‘n jaar of wat langer om oor te waai tot by die verhoog in die hoek van die Aardvark-pub. Amper soos in die ou dae, toe ons televisiestasies altyd ‘n reeks of twee agter was met Dallas en Ally McBeal.

Vat byvoorbeeld die Leeuloop. In die middel van verlede jaar het ek nog nooit eers gehoor van Robbie Wessels of hierdie trefferliedjie van hom nie, toe is my nefies in Vereeniging alreeds met hulle hande en knieë op die stene, twee balle vas tussen hul bene, aan’t leeuloop…

Maar gelukkig het die hele gedoente gou genoeg oorgewaai Engeland se kant toe, en te danke aan die wonders van Youtube, kan ek derhalwe ook nou my broek aftrek en brul (as ek wil).



Aan die een kant kry ek myself soms ‘n bietjie jammer omdat ek min of meer die laaste persoon is wat uitvind van nuwe volkskatte soos die Leeuloop. Terselfdertyd is ek egter ook bitter dankbaar oor die feit dat ek nie ingesleep word by al die vrugtelose debatte waarmee Afrikaners hulleself besig hou sodra iemand soos Robbie Wessels meer as omtrent ‘n honderd CD’s verkoop nie.

“Denkende” Afrikaners voel oënskynlik verplig om onmiddellik ‘n opinie daaroor te hê. En jy het basies net een keuse: óf jy maak dadelik die liedjie af as kommin, óf al daai gekultiveerde mense van Waterkloof en Aasvoëlkop maak jóú af as kommin.

Dis genoeg om van siek te raak. Hoekom kan my ou volkie nie net ‘n bietjie glimlag vir Robbie Wessels se koddige danspassies op die Vodacom-advertensie terwyl hulle luister na die nonsens wat hy sing nie? Hoekom kan almal van ons nie net vir ‘n verandering ontspan nie?

‘n Liedjie soos die Leeuloop sleep al wat Afrikaner is, se naam deur die modder – aldus die “ernstige” kommentators. Waarop ek antwoord: ag, asseblief man, los my en my pelle net uit. Net soos wat ek nie dink dat elke Boerseun noodwendig kan rugby speel omdat Naas Botha kwansuis een van ons kerk se mense is nie, net so glo ek ook nie dat een of ander lawwe liedjie enigiets oor my te sê het net omdat ‘n paar dronk ouens eenmaal hulle broeke losgemaak het toe hulle soos ‘n leeu geloop het by ‘n troue op Wolmaransstad nie.

Hierdie storm in ‘n teekoppie het natuurlik skaars gaan lê, of dit was De La Rey se beurt.



Ek het omtrent vier of vyf maande gelede vir die eerste keer daarvan gehoor toe een van my pelle in Johannesburg die internet-skakel na Bok van Blerk se liedjie vir my aangestuur het. En ek onthou nog my aanvanklike reaksie: nee, jislaaik manne, ek dink nie ek kan saamsing oor ‘n Boere-generaal wat opstaan teen die Kakies nie – ek bly dan self deesdae hier tussen die Ingelse?

Maar later kon ek nie help nie: ek het ook begin saam-neurie…

Intussen verkoop Bok se CD sommer heelwat vinniger as soetkoek (wie koop in elk geval deesdae soetkoek?). En nodeloos om te sê, het al wat kommentator is ‘n eiertjie daaroor te lê. Die ding het selfs al‘n draai gemaak in die parlement.

Trouens, ekself is seker die enigste persoon wat nog nooit iets daaroor te sê gehad het nie. Tot vandag toe, in elk geval.

Maar laat ek begin deur die debat tot nou toe op te som.

Koos Kombuis het byvoorbeeeld verlede jaar al begin deur te verduidelik hoe lank hy gewroeg het oor die liedjie: dis so mooi, maar dis dan alles so polities-onkorrek? Koos skryf ook oor hoe embarrassing dit is dat hy so onverklaarbaar diep geraak is daardeur: “Ja, wanneer ek die liedjie ‘De la Rey’ hoor, wil ek teruggaan Sondagskool toe, wil ek weer die Kinderbybel lees, wil ek sommer vandag weer by die army aansluit en die kakies en al die ander k-goeters sommer in hulle moere gaan skiet…”

Maar op die ou end rasionaliseer Kombuis die hele situasie, en hy maak vrede nie net met homself nie, maar ook met Bok van Blerk en generaal De La Rey. Want sien, De La Rey was mos eintlik ‘n goeie ou, ‘n vredemaker en ‘n slagoffer – “ons Steve Biko...‘n ware leier wat, indien hy vandag gelewe het, nie net ons volk nie, maar die ganse Suid-Afrikaanse nasiedom sou help vorder het tot by daardie wonderlike land wat die Nuwe Suid-Afrika nog altyd veronderstel was om te wees”. Also sprach Koos Kombuis.

Intussen verdedig Tim du Plessis, Rapport se redakteur, die De La Rey-generasie as ‘n jongklomp wat gatvol is vir die ouer garde en wat nie bang is om ‘n kleim af te steek vir hulle Afrikaanse identiteit nie.

Aan die ander kant van die spektrum waarsku Max du Preez teen die liedjie en hy verduidelik die gewildheid daarvan aan die hand van sy mede-Afrikaners se verborge skuldgevoelens: “Because of the direction given by their media and political, cultural and religious leadership, they hadn't made use of the opportunity that the Truth and Reconciliation Commission provided to exorcise some of their feelings of guilt after apartheid…” Du Preez gaan voort deur sy eie volk soos volg uit te kryt: “I think they simply feel unwanted, isolated, insecure, confused, rudderless.”

Kort daarna publiseer (Doktor) Andries “Roof” Bezuidenhout ‘n tesis van 12 bladsye oor die liedjie op Litnet. Ek het die hele stuk deurgelees, maar ek moet bieg dat ek op die ou end nie seker is wat die man se punt is nie: dis heeltemal te diep vir my.

En toe, ‘n dag of twee later, sê Hermann Giliomee (wat op eie houtjie ‘n biografie oor die Afrikanervolk opgeteken het) dat die hewige reaksie op die liedjie verband hou met die ANC se voortdurende behoefte om sy wil op die samelewing af te dwing.

Goeiste. En ek het gedog dis net ‘n liedjie.

Hoekom moet ons Boere tog altyd die bobbejaan so agter die bult gaan haal?

Ja, die woorde is treffend. Ja, daar’s ‘n klomp van die jongmense wat kwaad is. En ja, daar is seker mense wat die liedjie wil gebruik vir politieke gewin. Maar persoonlik beplan ek nie om oorlog te verklaar teen my buurman in Londen, net omdat De La Rey se woorde intussen nesgeskop het in my onderbewussyn nie.

Al hierdie omstredenheid laat my dink aan ‘n staaltjie van die Ierse outeur Pete McCarthy. Op ‘n dag woon hy ‘n boeklesing by van ‘n ander Ierse skrywer, te wete Frank McCourt (van Angela’s Ashes-faam). Uiteindelik begin die gehoor om met McCourt self te stry oor die betekenis van sy boek se titel. Waarop McCourt soos volg antwoord: “These days they’re giving exams on my book that I would fail myself”.

Ek dink Bok van Blerk het deesdae seker min of meer dieselfde probleem met sy liedjie. Maar gelukkig kan hy darem al die pad bank toe lag.

En volgende week kom Bok ‘n bietjie vir ons sing in Engeland, en wel by die Afrikaners se ekwivalent van Carnegie Hall en die Sydney Operahuis: die Aardvark in Rotherhithe.
Ekself beplan ook om daar te wees. En ek beplan om saam te sing aan De La Rey.

Miskien doen almal van ons later sommer die Leeuloop ook.

En dan beplan ek om huis toe te gaan en ‘n bier te drink saam met my Engelse buurman.


Voetstoots van Tonder
4 Maart 2007
< # afrikaans ? >