Sunday, February 25, 2007

Ons was jonk, ons was dronk…

Photobucket - Video and Image Hosting

Het jy geweet dat die gesaghebbende Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (of die HAT, soos wat dit algemeen bekendstaan) hoegenaamd nie die woord karaoke aandui as ‘n amptelike Afrikaanse woord nie? Ek het nie ‘n idee hoe die mense wil hê dat ons na die aktiwiteit moet verwys nie – samesang, miskien?

Maar nee, ek dink nie so nie.

Samesang gebeur in die kerk (gevolg deur skriflesing en gebed). Samesang vind plaas op die wysie van Die Stem net voordat die Springbokke op Loftus Versveld begin speel (gevolg deur doodse stilte – asook ‘n boe of twee – wanneer dit Nkosi se beurt is). En samesang is wat die mense in Ventersdorp op ‘n Sondagmiddag doen wanneer hulle die FAK-sangbundel onder die klavierstoeltjie se opslaan-sitplek uithaal en Die Lied van Jong Suid-Afrika sing (gevolg deur Kent Gij dat Volk) (gevolg deur koeksisters en tee) (gevolg deur die Leeuloop, gevolg deur De La Rey).

Maar wanneer jy by ‘n kroeg instap, ‘n mikrofoon gryp, en een of ander poptreffer uit toeka se dae ten aanhore van ‘n wildvreemde gehoor uitbasuin terwyl die rook om jou hang en die drank vloei, is dit nie samesang nie. Dis karaoke, en net soos kamikaze is dit ‘n Japannese woord wat gerus maar in die Taal opgeneem kan word.

Hierdie leemte in die woordeskat van Afrikaans het onder my aandag gekom na verlede week se storie van Craig Bellamy en John Arne Riise, twee voetbalspelers wat saam uitdraf vir Liverpool. Na ‘n aand se gefuif wat ontaard het in karaoke, het Bellamy vir Riise met ‘n gholfstok aangeval omdat dié kwansuis nie wou saamsing toe dit sy beurt was nie. Waarop ek myself afvra: hoekom het Bellamy in die eerste plek sy gholfstokke saamgevat na die karaoke-kroeg toe?

Maar Craig Bellamy is oënskynlik ‘n redelike vrot gholfspeler, want hy het duidelik nie sy spanmaat behoorlik beetgekryf nie. Riise was om die waarheid te sê in so ‘n goeie toestand na die voorval, dat hy twee dae later die wendoel kon aanteken in Liverpool se lewensbelangrike wedstryd teen Barcelona – dít nadat die einste Bellamy die bal vir hom aangestuur het.

Hoe ironies is dit?

Wat die storie egter nog meer interessant maak, is dat Bellamy self ook gesorg het vir die span se enigste ander doel van die aand. En waar die tipiese voetbalspeler weghardloop met sy arms in die lug, gevolg deur ‘n suggestiewe danspassie, het Bellamy gekies om sy doel te vier deur ‘n netjiese gholfswaai uit te voer op die kantlyn. Genadiglik was Riise nie hierdie keer binne Bellamy se bereik nie.

So, eind goed, alles goed. Maar ten spyte van die gelukkige uitkoms, was Liverpool se base nie heeltemal tevrede met Bellamy se optrede nie en die speler is ‘n boete van £80,000 opgelê. Met ander woorde omtrent vyftien minute se lone vir ‘n top-voetbalspeler soos hy; ‘n bietjie minder petrol vir die Ferrari hierdie week…

Persoonlik het hierdie hele voorval my laat terugdink aan die een enkele keer wat ek myself ook agter die karaoke-mikrofoon bevind het. Dit was ‘n jaar gelede, by ‘n ski-oord in Oostenryk.

Dis mos maar waaroor die tipiese ski-vakansie gaan: die apres ski, die pret ná die tyd. Van vroegoggend tot laatmiddag probeer jy elegant lyk in jou loodswaar stewels en ellelange ski’s, jy sukkel en val en vloek en verkluim en verwens al die vierjarige Duitsertjies wat teen die spoed van lig verby jou flits, en dan waggel jy oor na die naaste kroeg waar die mense Oompah-musiek speel en peer-schnapps bedien. En karaoke pleeg, as jy ongelukkig genoeg is.

Ek weet wat jy dink. Maar nee, my eie karaoke-sessie was nie die gevolg van te veel schnapps nie. Dis erger as dit.

Die karaoke was my straf omdat ek vroeër die dag twee van my pelle op een van die ski-oord se rooi hellings verloor het. En na die tyd het hulle dit heel duidelik gemaak dat hierdie nie aanvaarbare optrede was nie, veral aangesien nie een van die twee lekker kon uitpluis hoe om terug te kom by die dorpie vandaar af nie. My optrede was oënskynlik vergelykbaar met dié van ‘n bevelvoerder wat sy gewonde troepe op die slagveld agterlaat (en hulle herinner my nou nog daarvan). En ek het gedink dat hulle groot seuns is wat bordjies met rigtingwysers sou kon lees…

Maar moenie glo nie.

Karaoke vir jou, ou maat, is die eerste woorde wat hulle prewel toe hulle drie ure later sleepvoet, sopnat en semi-bevrore by die chalet opdaag. En toe ons later die aand klaar is met aandete en regmaak vir ‘n loopdop, besluit ek om die bul maar by die horings te pak en so gou as moontlik my straf uit te dien.

Eers kies mens ‘n gesang uit ‘n boek met ongeveer 4,000 liedjiename wat die rondte doen. Ek slaan die boek oop: meer as 3,000 van die liedjies is in Duits, insluitende vertaalde weergawes van Elvis Presley, die Village People en Abba se grootste treffers. Hier en daar vind ek wel ietsie in Engels, maar die meeste daarvan herken ek nie regtig nie; popmusiek was nog nooit my sterkpunt nie.

Op die ou end besluit ek op
Seasons in the Sun
wat vir etlike weke in 1974 die nommer een-treffer op Springbokradio se Top 20 was. Die refrein en irritererende wysie sal ek seker nooit vergeet nie: We had joy, We had fun, We had seasons in the sun…

Of, soos my maters en ek dit destyds vry vertaal het: Ons was jonk, Ons was dronk, Ons was tjommies in die tronk…

Photobucket - Video and Image Hosting

Ek voel redelik oorweldig toe ek aanvanklik die mikrofoon gryp, maar gou-gou neem die adrenalien oor – veral as al die meisies met die kort rokkies en die dik grimering begin saamjil. Wonderlike ding, karaoke: waarskynlik het nie een hierdie dametjies nog ooit die liedjie gehoor nie (en hulle was definitief nog nie eers amper gebore toe dit destyds ‘n treffer was nie), maar hier sing almal van ons uit volle bors saam in ‘n nagklub in die Alpe. En ék is die enigste een wat ‘n mikrofoon het.

Eers later het ek besef dat Seasons in the Sun seker nie die mees gepaste liedjie vir ‘n vrolike karaoke-kroeg is nie. Dit gaan immers oor ‘n man wat op sterwe staan en afskeid neem van al sy geliefdes; een van die strofes begin selfs met die woorde Goodbye Papa, It's hard to die, When all the bird's are singing in the sky…

Maar dit het darem nie gelyk asof dit die dansende massas enigsins pla nie.

Op die ou end het ek die hele oefening nogal geniet. Dit was miskien nie mooi om na te luister nie, maar dis nie die punt nie. My straf is uitgedien.

En die beste van alles, is dat ek nie eers met ‘n gholfstok beetgekry is deur enige van my vriende nie.


Voetstoots van Tonder
25 Februarie 2007

Sunday, February 18, 2007

Dis daai wóórd...

Photobucket - Video and Image Hosting

** Sien ook hoe hierdie storie verskyn het in Saterdag 17 Februarie 2007 se Beeld, Die Burger en Die Volksblad...

As jy ooit kans kry om ‘n rondte gholf te speel by Fancourt, soek asseblief vir Jaydene en sê vir hom Voetstoots stuur groete. En as hy my nie onthou nie, sê maar net dis die meneer wat deesdae in Londen bly. Dit behoort hopelik die ding te doen.

Jaydene is ‘n joggie. Met ander woorde ‘n kêddie, in plein Afrikaans. En hy’s nie sommer enige kêddie nie, hoor: hy’s Fancourt se beste. Jy kan my maar glo.

Ek het vir Jaydene tien jaar gelede ontmoet toe ek gelukkig genoeg was om uitgenooi te word na ‘n korporatiewe gholfdag by hierdie eksklusiewe gholfkompleks net so neffens George. Alles is vir ons betaal dié dag: speelfooie, gholfhempies met die gasheer-maatskappy se lelike embleem op die linkermou, drie klipharde Top Flite XL balletjies, selfs ‘n toebroodjie by die halfweghuis. En natuurlik kêddies.

Toe ek by die baan opdaag, kon ek aanvanklik nie my lot glo toe ek die vir die eerste keer die mank outjie sien wat dié dag my sak sou dra nie. En terwyl ek hierdie sit en skryf, kry ek sommer van voor af skaam vir myself vir ‘n verskeidenheid van redes.

In die eerste plek kry ek skaam omdat ek besef watse bedorwe Suid-Afrikaanse mentaliteit dit is om enigsins te kla oor al die goedkoop arbeid in die land van my herkoms. Mens besef dit natuurlik veral in ‘n plek soos Londen, waar die tannie wat een keer ‘n week inkom om hemde te stryk my £8 per uur uit die sak jaag.

Maar ek kry veral skaam – en nie vir die eerste keer nie – omdat ek Jaydene onmiddellik dié dag op sy baadjie getakseer het. Of laat ek eerder sê op sy stappie (al die kêddies by Fancourt dra in elk geval dieselfde wit baadjies, so dit sou net mooi niks help as jy hulle daarop takseer nie).

Jaydene het polio gehad as kind, as ek reg onthou, en as gevolg daarvan is sy een been vandag heelwat korter as die ander een. Verder is hy ook nie baie groot van postuur nie. Met ander woorde as hy ‘n swaar gholfsak oor sy skouer hang, lyk Jaydene beswaarlik soos die gemaklikste persoon op aarde.

Maar waar Jaydene miskien effe tekortskiet aan fisiese attribute, maak hy meer as op daarvoor in al sy ander kwaliteite. Dienswillig die uwe, as daar al ooit iemand was wat aan hierdie beskrywing voldoen. Nie net dit nie, maar hy het ook die vermoë om al die subtiele hellings op Fancourt se moeilike setperke te lees soos niemand anders nie. En hy weet wanneer om my uit te los: as ek die dag sleg speel – soos wat ek gewoonlik doen – is ‘n kêddie wat kommentaar lewer immers die laaste ding waarvoor ek lus het.

Om ‘n lang storie kort te maak: my vennootskap met Jaydene was omtrent soos dié tussen Hillary en Tensing. Behalwe dat ek seker nie vir Jaydene sal saamvat as ek ooit besluit om Everest uit te klim nie: ek dink dit sal ‘n bietjie lank vat.

Intussen was ek ‘n paar kere by Fancourt, en elke keer het ek seker gemaak dat Jaydene my sak dra.

Een dag, op die dertiende putjie van die Montague-baan, slaan ek my tweede hou wonder bo wonder omtrent ‘n voet en ‘n half van die putjie af.

Binne links, dink ek toe ek afbuk en wik en weeg hoe die sethou geslaan moet word.

Wat dink jy, Jaydene, vra ek hom.

Binne links, Meneer, beaam hy op sy ernstige manier.

Dóósreg, antwoord ek hom. En ek sien hoe Jaydene verleë vir my glimlag.

Toe ek sekondes later die set links verbytrek, hoor ek hoe Jaydene iets mompel. En die ander kêddies begin almal giggel.

Wat sê jy daar, Jaydene, wil ek onmiddellik weet.

Dis daai wóórd, Meneer. En weer glimlag hy vir my, hierdie keer selfs meer verleë as voorheen.

En ek moes maar saam glimlag. Touché, het ek gedink – daar’s seker niks wat jy verder vir hom kan sê nie. Ek het my les geleer.

Dis dan ook aan hierdie stukkie wysheid van Jaydene wat ek gedink het toe ek verlede week ‘n epos van ‘n vriend ontvang met die amusante video-insetsel van Ernie Els by die Katar Meesterstoernooi. Teen hierdie tyd het jy dit seker ook al gesien: Ernie trek ‘n bofhou na links, en onmiddellik verwyt hy homself dat hy soos ‘n regte d**s speel.

Voordat ek die eerste keer hierde video te siene gekry het, was ek juis nogal in die donker oor die feit dat ‘n hele paar google-soektogte vir "Ernie Els doos" na hierdie blog-bladsy gelei het.

Hoekom, het ek gewonder? Persoonlik sal ek tog nooit so na Suid-Afrika se grootste sportman verwys nie – ek is dan sy heel grootse ondersteuner? (ons verjaar selfs saam!). En wie anders sou Ernie enigsins so wil noem – almal weet tog dat hy die gemoedelikste persoon onder die son is?

En daarom was ek op die ou end heel verlig toe die raaisel vir my opgelos is. Verder was dit tog te lekker om hierdie stukkie goeie Afrikaans te beleef in ‘n internasionale sportuitsending.

Myns insiens is die beste deel van die video juis waar Sky Sports se Steve Beddow vir die Suid-Afrikaner Denis Hutchinson vra om die gewraakte term te vertaal – dít, nadat Hutchinson hoorbaar in sy mou gelag het toe Ernie die kragwoord aanvanklik laat uitglip het. Maar na ‘n oomblik of twee se huiwering, besluit Hutchinson egter dat ‘n vertaling ongelukkig nie moontlik is nie.

En Hutchinson is natuurlik doodreg: hoe vertaal jy dit regtig?

Maar eintlik moet jy die video-insetsel self sien om die humor behoorlik te waardeer – geen beskrywing kan reg daaraan laat geskied nie. (Die video verskyn effe verder ondertoe, ingeval jy nog nooit voorheen daarna gekyk het nie...)

En, wanneer ek hierdie sit en skryf op ‘n Sondagaand waar Ernie soos gewoonlik weer tussen die voorlopers is in die Nissan Ope, maar dit tog nie lyk asof hy op die ou end gaan wen nie, het ek derhalwe ‘n boodskap vir hom.

Miskien moet jy maar eerder ‘n wag voor jou mond plaas, Ernie, miskien wen jy dan weer een of ander tyd een van die groot toernooie. Jy het juis ‘n paar redelike maer jare agter die rug – gemeet aan jou eie hoë standaarde, in elk geval.

Want jy weet mos, dis soos Jaydene sê.

Dis daai wóórd.

* * * * *


En terwyl ons by die tema is, publiseer ek graag iets wat ek in Oktober 2004 geskryf het (met ander woorde in my pre-blog dae):


Dikwels as ek hunker na my jeugjare, en ek met heimwee terugdink aan die dae toe ek beide die plesier en die frustrasie van gholf die eerste keer beleef het (wat, snaaks genoeg, min of meer ook dieselfde tyd was wat ek die plesier en die frustrasie van meisies ontdek het… maar dis ‘n ander storie) dan kan ek nie help om ook terug te dink aan Willem van Drimmelen nie.

Onse Willem het ten minste twee tiperende eienskappe gehad waarvoor ek hom altyd sal onthou. Die een was dat hy, ten spyte van sy dreunerige stem, altyd geklink het asof hy so sag as moontlik probeer praat – so asof hy nie in ‘n ateljee is nie, maar tussen die spelers staan, en hy nie wil pla terwyl een van hulle besig is met sy volgende backswing nie. Of laat ek eerder sê sy terugswaai, want dit was natuurlik Willem se ander kenmerk, naamlik sy onberispelike en verbeeldingryke Afrikaans.

Voordat van Drimmelen op die toneel verskyn het, was die ruveld ‘n woord wat die opstellers van die Woordelys en Spelreëls nog net gebruik het in die konteks van die Karoo, en die enigste plek waar mens ‘n sandkuil aangetref het, was by ‘n kleuterskool. Daarbenewens was ‘n wigyster iets waarvan niemand eenvoudig nog ooit gehoor het nie, en ‘n kolskoot was ‘n term uit die polisiekollege se pistool-opleidingsentrum. Maar hierdie televisiekommentator het dit alles verander.

My gunsteling was wanneer Willem ‘n chip shot van die green se fringe af beskryf het, naamlik as ‘n rapshoutjie van die soom af. Ek het mos gesê dit was die tyd wat ek meisies ook ontdek het: ek het derhalwe groot waardering gehad vir die seksuele ondertone van die man se woorde.

Leef Willem van Drimmelen nog? En saai hy nog gholf uit? Ek het geen idee nie, want ek het lanklaas kans gehad om die Suid-Afrikaanse televisiekanale dop te hou. Maar ek hoop van harte dat hy nog diens doen agter die mikrofoon, aangesien daar seker nog nooit so ‘n goeie tyd vir ‘n Afrikaanse gholfkommentator in die geskiedenis van die sport was nie. Want met Ernie Els en Retief Goosen wat jaar in en jaar uit aanhou om toernooie te wen regoor die wêreld, is daar vandag nie net twee Suid-Afrikaners in die top vyf in wêreldgholf nie, maar inderdaad ook twee ware Boerseuns.

Die afgelope naweek, toe Ernie Els op sy verjaarsdag die Wêreld Putjiespel Kampioenskap by Wentworth vir die sesde keer gewen het (‘n nuwe rekord) het my Afrikaanse hart vir die soveelste keer hierdie jaar lekker warm geklop (al was die weer ook maar triesterig en koud). Maar ek het wel een probleem daarmee gehad. En dit het alles verband gehou met Ernie se taalgebruik.

‘n Voorbeeld: Saterdagoggend in die halfeindrondte teen Padraig Harrington, toe Els sy bofhou gestoot het tot in die regterkantse ruveld, het dit nie ‘n honneursgraad in lippetaal geverg om te sien hoe hy ‘n effe geïrriteerde “for fuck’s sake!” kwytraak terwyl hy agter die bal aanstaar nie.

En ek kon hie help om te dink nie: agge nee man, Ernie, dis nie mooi nie, jy is immers ‘n rolmodel vir alle Afrikaanse seuns. Jy het ‘n verantwoordelikheid om ‘n voorbeeld te stel. Probeer asseblief om nie jou taal so te meng nie.

Maar nou besef ek ook dat dit nie ewe lekker van die tong af rol om te sê “vir fok se onthalwe” nie. Dit klink eenvoudig nie heeltemal reg nie; ek dink dis onder andere te veel lettergrepe om in ‘n oomblik van frustrasie kwyt te raak.

So ek moet bieg: ek weet self nie wat die mees gepaste vloekwoord in die omstandighede sou wees nie. Maar miskien moet Ernie vir Willem van Drimmelen konsulteer? Ek’s seker daarvan hy sal die antwoord hê.


Voetstoots van Tonder
18 Februarie 2007

Thursday, February 15, 2007

Ernie Els - Doos?

Sunday, February 04, 2007

'n Baie fyn lyn tussen liefde en haat

Jammer mense, maar ongelukkig het ek nie hierdie naweek tyd gehad om ietsie te skryf nie: ek het mos ‘n Engelse toets gehad om te hanteer. ‘n Uitputtende oefening, laat ek jou vertel. As alles goed gaan, beplan ek om volgende week ietsie daaroor te skryf.

Teen daardie agtergrond haal ek dus maar vandag ietsie uit die kas uit, en wel ‘n opstel wat ek geskryf het na my onlangse Desembervakansie. Eerder laat as nooit, nie waar nie…

* * *

Een van die dae sal dit net mooi vier jaar wees vandat ek by Heathrow aangeland het aan die begin van my uitgebreide oorsese avontuur. Nou die dag was dit met ander woorde die vierde Kersfees in ‘n ry weg van die huis af. En natuurlik vier nuwejaarspartytjies agtereenvolgens waar ‘n verskeidenheid vreemdelinge my omhels terwyl hulle liedjies sing waarvan ek nie die woorde ken nie.

Maar vir ‘n verandering was daar darem hierdie keer ‘n paar kortmouhemde en sonhoedens ook ter sprake. Nie dat my vakansie in Australië nou juis met fantastiese weer afgeskop het nie: Kersdag was die temperatuur in Melbourne byvoorbeeld tien grade Celsius – oftewel net mooi drie grade warmer as in Londen dié dag. Dít, nadat ek vier en twintig uur gereis en amper ‘n honderd breedtegrade sowel as elf volle tydsones gekruis het om die Engelse krieketspan se soveelste vernederende nederlaag in ‘n ry teen die Aussies met my eie twee oë te gaan aanskou.

Hoekom, vra jy. En ek moet bieg, dis ‘n goeie vraag daai – veral as jy kyk na hoe verskriklik eensydig hierdie jaar se Ashes-reeks was. Maar dit het soos ‘n goeie idee geklink toe ek die aanvanklike planne begin maak het…

En verder kan ek dit nou maar eenmaal nie help nie: ek’s gek oor die sinnelose sport van die wilgerkolf en die klipharde leerballetjie. Dis seker maar een van daai aspekte in terme waarvan die Engelse my en my vriende (saam met miljoene ander mense in die voormalige kolonies) suksesvol geïndoktrineer het oor die jare heen. Soos wat hulle natuurlik gedoen het met etlike ander gewoontes ook, byvoorbeeld die feit dat ek dikwels ‘n das om my nek bind, melk in my tee gooi, en netjies in ‘n tou staan om die bus te haal op pad werk toe in die oggend.

En soveel as wat die Engelse my heel gereeld irriteer, en die lewe in ‘n beknopte Londen gevul met al sy onnodige rompslomp my elke nou en dan wil-wil onderkry, is dit waarskynlik juis hierdie koloniale naelstring wat verklaar hoekom ek en soveel honderde duisende ander Suid-Afrikaners onsself tans op hierdie klein eilandjie bevind. Dis ook hoekom die meeste van ons nie saam met die Beckhams na Amerika toe trek en die New York Yankees begin ondersteun, of êrens in Europa gaan bly waar die mense elke dag siestas vat en mens in elk geval gaan sukkel met ‘n taalprobleem nie.

Myns insiens verklaar dit ook die feit dat daar heel gereeld soveel spanning tussen ons en die Engelse is. Dis byvoorbeeld hoekom hulle nie hou van ons “Sef Effriken” aksente nie: dis juis omdat hulle soveel van hulleself in ons raaksien, dat hulle nou maar kies om eerder te fokus op daardie een enkele voor-die-hand-liggende verskilletjie.

Self is ek seker ook skuldig daaraan, en my verhouding met die Engelse is min of meer soos dié van ‘n tienerkind met sy ouers: meeste van die tyd hou ek nogal van die mense en wys ek die nodige respek, maar elke nou en dan kan ek hulle hoegenaamd nie vat nie. En ek dink dis grotendeels as gevolg daarvan dat ons eintlik so soortgelyk is in die meeste belangrike opsigte.

Dis maar hoe dit werk, is dit nie? Dis hoekom die meeste van ons met ons geliefdes baklei eerder as met kollegas of ander kennisse: ons fokus die meeste van ons negatiewe emosies op die mense naaste aan ons, en dikwels doen ons dit met verwysing na die mees onbenullige detail. Of ken jy enigiemand wat ‘n Eskimo “haat”? Of ‘n Boesman? Of ‘n Sherpa in Tibet?

Wat my natuurlik terugbring by die Ashes. Kyk, die mense van Australië hou nie baie van die Engelse nie, ten spyte daarvan dat die meeste Aussie- voorvaders juis tronkvoëls uit Engeland was wat 200 jaar gelede op skepe gelaai is om so ver as moontlik van die huis af weggestuur te word. Of dalk juis as gevolg daarvan.

En hou die Engelse daarvan om die mense van Australië hieraan te herinner! Elke tweede liedjie van die Barmy Army eindig byvoorbeeld met ‘n verwysing na die Aussies se “convict”-status. Nie net dit nie, maar die Engelse het ook ‘n weergawe van hulle volkslied wat uitsluitlik by krieketwedstryde in Australië gesing word, getiteld “God save YOUR Queen” (wat natuurlik gepaardgaan met energieke vingerwysings na al die Aussies langs hulle in die pawiljoen elke keer wanneer die verwysing na “hulle” koningin ter sprake kom…). Op voorspelbare wyse eindig hierdie vorm van die volkslied ook met die strofe: “Long may she reign…OVER YOU!” (sowel as verdere vingerwysings, uiteraard).

Daar is natuurlik meer waarheid hierin as wat die tipiese Australiër waarskynlik wil erken. Hulle is dalk vandag ‘n onafhanklike land, maar die mense van Doer Onder kon dit nog net nie oor hulle hart kry om die bande met die Koninklike Familie te verbreek nie. Elke jaar vier hulle byvoorbeeld nog die Koningin se verjaarsdag met ‘n openbare vakansiedag – iets wat nie eers in die Verenigde Koninkryk gedoen word nie (terloops, die feit dat hulle die dag meer as twee maande na haar regte verjaarsdag vier, is iets wat die tipiese Aussie seker nie eers verstaan nie).

Koningin Elizabeth pronk verder ook op die Australiërs se $5-noot – alhoewel ‘n mens moontlik kan redeneer dat dit juis die Aussies se manier is om ‘n stekie in te kry. Want sien, die $5-noot is die minste waardevolle noot van almal, en as jy kyk na byvoorbeeld die $10- en $20-note, sal jy afbeeldings sien van mense soos Banjo Paterson (die skrywer van “Waltzing Matilda”) en Mary Reibey (‘n perdedief wat op 13-jarige ouderdom Australië toe gestuur is om te boet vir haar sondes en later ‘n suksesvolle besigheidsvrou geword het).

So eintlik maak die Aussies wel ‘n punt teenoor Elizabeth die Tweede: jy is miskien wel ons koningin, maar ons dink nie verskriklik baie van jou nie, Lizzie …

En tog dink ek die gemiddelde Australiër hou eintlik van die Engelse, al sal hy dit waarskynlik nie maklik erken nie. Want wie anders sou die Aussies keer op keer met soveel genoegdoening op die sportveld vermorsel, as daar nie Pommies was nie?


Voetstoots van Tonder
4 Februarie 2007
< # afrikaans ? >