Saturday, January 21, 2012

Rus in Vrede, Kobus van Loggerenberg




Jirre Kobus, wat nou?

Die feit dat jy weg is sonder om te groet, in die middel van
‘n besige dag, sommer netso, skielik, is OK met my – dis seker maar wat mens
van ‘n biker soos jy kon verwag, iemand wat altyd voluit geleef het, iemand wat
gedurig besig was met ‘n honderd dinge op dieselfde tyd, iemand wat gereeld
ingeloer het in jou lewe maar ewe vinnig weer teruggetrek en homself vir eers
weer uit die voete gemaak het.

Maar dit was net te blerrie vining; dit was ten minste 30
jaar te vroeg! Jy kon darem maar gewag het tot net na jou tagtigste verjaarsdag, en dan met glyende bande saam met jou ysterperd heengegaan het op nat gruis in die Oliviershoekpas na ‘n helse donderstorm, of hoe?

Maar selfs dan sou dit te vroeg gewees het; selfs dan sou
niemand van ons versadig kon wees van dit wat jy sonder ophou vir ons geleer het nie, al die dinge waaroor jy ons so gereeld laat lag het en die magdom redes waarom ons jou geselskap so verskriklik geniet en jou liefgehad het nie.

* * *
Biker.
Lover.
Skrywer.
Musiekmens.
Boekwurm.
Besigheidsman.
Brugspeler.
Brugbouer.
Fynproewer.
Filantroop.
Filosoof.
Vrystater.
Vriend.
Vader.
Intellektuele reus.
Sagmoedige Neelsie, maar met ‘n hardegat streep.
En ‘n polities Verligte – op ‘n manier wat Willem de Klerk
sou trots maak toe hy oorspronklik daai term uitgedink het, en een wat vir PW se trawante tog so kon irriteer in die tagtigs toe jou politieke bewussyn behoorlik aan die gang gekom het en jou tot aksie begin dryf het.

Dis die tyd wat ons ontmoet het: November 1987, Abe
Bailey-toer, jy vars van jou jaar as SR-Voorsitter by Kovsies, ek aan die einde van my eie storm-en-drang-jare aan die RAU. Jy ‘n gesoute politieke ontleder (aktivis?), ek ‘n snotneus wat nog ‘n bietjie wonder oor die “Swart Gevaar” waarteen hulle my op die teevee waarsku (al stem ek darem al vir Van Zyl Slabbert). Jy, ‘n ingeskrewe lid van die ANC – lank voor dit wettig was, laat staan nog te sê fashionable… ek wat in daai stadium nog nooit iemand ontmoet het wat ruiterlik sou erken dat hulle aan enige “verbode” (kan jy glo!) organisasie behoort het nie.

Ruiterlik. Excuse the
pun. Dis mos eintlik waar ons vriendskap begin het: daai gesprek wat ek en jy een nag gehad het in die klein, koue vertrekkie in ‘n Oxford-kollege waar ons kamermaats was ten tye van die Abe Bailey-toer. Deur die nag gesels oor politiek en alles en nog wat – die kamer binnegegaan as relatiewe vreemdelinge, die volgende oggend daar uitgestap as dik vrinne.

“Mense soos ons” was mos almal in die Ruiterwag daai tyd –
aspirant Broederbonders wat Afrikaner-kampuspolitiek vanuit die ondergrond probeer regeer het, Junior Rapportryers die publieke front. Moerse belangrik, moerse geheim, onsself verskriklik ernstig opgeneem.

Behalwe dat ek teen die tyd wat ek jou ontmoet het, reeds
bedank het uit Die Organisasie omdat die agterbakse ondergrawery wat ek daar gesien het my sensitiewe siel ontstel het. En die storie het by jou ore uitgekom het dat die eintlike rede vir my bedanking uit die Wagpos verband gehou het met my sogenaamde regse neigings. Jou bronne het jou voor die toer al dienooreenkomstig gewaarsku teen my, m.a.w. nog voordat jy en ek die eerste keer ooit ontmoet het.

Regse tjomme het ek wel gehad ja, maar ek het ook pelle
gehad wat lekker kon suip op varsity, en sover ek weet het niemand my ‘n alkoholis genoem nie? (in elk geval nie daai dae al nie!).

En jy en ek het mekaar êrens in die middel van daai nag
gevind, en van toe af (tot vandag toe) (of sal ek sê gister… shit) is (was) jy my politieke inspirasie, my klankbord, immer ‘n bron van insig en ewewigtigheid.

Ek onthou nog die oproep toe jy my ‘n jaar of wat na die
toer gebel het, net om te laat weet dat jy ook intussen “afgesaal” het. Ek is nie heeltemal seker nie, maar ek dink dit het verband gehou met jou eie teleurstelling in sommige van die Afrikaner-leiers om jou wat ooglopend daarop uit was om hulleself te bevorder in ‘n tyd wat die Volk toenemend polities irrelevant begin raak het, terwyl dit vir jou altyd eerder gegaan het oor die onderliggende saak – jy wou minder praat en meer doen. En ek vermoed dis presies hoekom jy op die ou end by die Stedelike Stigting opgedaag het, en later begin huise bou het in Mangaung (terwyl die hoofstroom-politici aangehou het om op verhoë te staan en vinger te swaai en in luukse swart motors met blou ligte rond te ry).

* * *
Die ander onderwerp waaroor ons laat daai nag in Oxford gesels
het, was die kerk. Jy, ‘n briljante, hoogs-geskoolde amperse dominee in die NG Kerk, en ek wat darem self jare lank diens gedoen het in die CSV en die KJA en skoolverlaterskampe en kerkrade van studente-gemeentes.

Jou verhouding met die kerk was, sal ek maar sê,
kompleks? As ek al daai gesprekke in die vroeë dae van ons vriendskap moet probeer opsom, sou ek sê dat dit moontlik daarop neergekom het dat die jarelange intellektuele verdieping in die Geskrifte jou toenemend tot ontnugtering gestem het, eerder as verootmoediging. Dat jy moontlik nie jou geloof verloor het nie, maar dat jou affiniteit vir die kerk vir seker skade gelei het.

Onthou jy ons gesprek die dag na die St James Massacre in
1993 (waarin 11 mense gesterf het en 58 beseer is, toe 4 APLA-lede by ‘n kerk in Kenilworth in die Kaap ingestap en links en regs begin skiet het)? Ek het jou gevra wat jy daarvan dink, en ek sal nooit jou antwoord vergeet nie: “Dis hulle verdiende loon – die bliksems wou mos kerk toe gaan…”

Let wel: ek verwys hier na kerk, en nie na die kwessie van geloof
nie, want ek vermoed dat jy altyd op jou manier bly glo het. Ek het jou mos vertel van ‘n hempie wat ek in 2006 in Indië gekoop het, met die prentjie van ‘n kruis, en ‘n boeddha, en die Taoiste se yin/yang simbool, en Islam se maan & sterretjie, en die ster van Dawid… en die onderskrif wat lees: “God is too Big to fit into one Religion”. Ons kerk se T-shirt. ‘n Toewyding aan liefde vir jou medemens en alles wat dit meebring, definitief nie tot die uitsluiting van enigiemand wat anders is as jy, of iemand wat anders dink as jy, of anders glo as jy nie.

Later jare, spesifiek in die tyd na jou vliegongeluk, het
dit vir my voorgekom asof selfs jou opinie van die kerk en sy mense dalk ‘n bietjie verander het, dat dit definitief sagter geword het. Jy het baie van die goeie kant van die mensdom gesien in daai tyd, dit het jou uiteraard diep geraak, en as jy ooit voorheen ‘n siniese of ‘n negatiewe haar op jou kop gehad het, meen ek dié het in daardie vliegtuigwrak agtergebly.

* * *

Ai, daai vliegtuigongeluk, die vorige keer toe jy ons rêrig
groot laat skrik het. Opgestaan uit die dode, teruggekeer met ‘n gesig wat bietjie anders lyk en ‘n bioniese liggaam – maar dankie tog dieselfde humorsin, dieselfde skerp brein. Wonderwerk.

En daai eerste email wat jy vir ons gestuur het, nie lank na
die ongeluk nie, die eerste van vele emails van jou wat my diep sou raak (en ek sou eers later begin om die meeste van hulle te kollekteer, om hulle te bewaar soos ‘n kleinood). Onthou, dit was 1999 – as mens terugkyk, eintlik redelik vroeg in die geskiedenis van emails – nie lank voor dit nie het mense nog regte briewe geskryf met pen en ink!

‘n Uittreksel uit daai email (wat jy jare later weer gebruik
het, in jou speech by Albert Weideman se 60ste):

Na twee dae se bewustelose slaap word
ek stadig wakker in die intensiewe sorgeenheid van die Rosepark hospitaal in Bloemfontein . Ek onthou die half geirriteerde stem van die verpleegster – ‘Meneer, vir die 4de keer – jy was in ‘n vliegongeluk.’

Later herken ek my vrou en kinders
soos ek in en uit beweeg tussen die koel donkerte van amper dood-wees en die ongemaklike bewus raak van die lewende pyn van ‘n gebroke liggaam. Die detail van die ongeluk was nie toe of nou tersake nie. Ek kon nie eintlik praat nie – alles was toegeswel.

Maar wat ek baie goed onthou is my
vrou wat my vertel van almal wat gebel het en al die goeie wense en gebede ens. En dat Albert oppad is uit die Kaap, waar hy op daardie stadium gebly het. Albert het nie net langs my bed kom sit en los praatjies maak nie. Hy het al my ander vriende byeengeroep en georganiseer om in die tyd na my gesin om te sien – die een vir die tuin, die ander vir die swembad, die een om die kinders te help rondry, die vroue om kos te maak, ens.

Ek onthou soos gister dat die eerste
song wat by my opgekom het by die aanhoor van al hierdie gebare van liefde die lied was wat Louis Armstrong bekend gemaak het:

“What a wonderful world – I see
friends shaking hands, saying how do you do. They really say – I love you…”

* * *

Wat my bring by my volgende punt: musiek – so ‘n groot deel
van jou lewe. En natuurlik boeke, en flieks – maar meer daaroor later.

Op die Abe Bailey-toer (toe ons almal nog state-of-the-art
walkman-kasetspelers uit ons daaglikse toelaag aangeskaf het in Londen) was dit “Only You” van die Flying Pickets. Vir die res van my lewe sal daai a capella “Ba, da, da, daah” my aan jou herinner…

En die woorde:
All I needed was the love you gave
All I needed for another day
All I ever knew
Only you

Drie en ‘n half jaar later, toe ek in Engeland geswot het,
het jy vir my ‘n tape gestuur van die Kommissie van Ondersoek. Die Nuwe Afrikaanse Musiek was in sy babaskoene, en jy was daar teenwoordig, soos ‘n vroedvrou. En jy het oombliklik begin om die babatjie af te wys aan mense soos ek, wat salig onbewus was, en jy het my oortuig: watch hierie een, hy gaan dit nog ver bring, ons mag maar trots wees op hom...
Dit was die Voëlvry-tyd, die vroeë dae van Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel en Lucas Maree en ‘n hele paar ander kunstenaars van wie ons later jare CD’s sou uitruil en na wie se vertonings ons saam gaan kyk het by die Blou Hond.
En toe gaan staan Johannes en neem sy eie lewe.

En Lucas verloor sy stryd teen kanker.
En nou gister, jy ook weg, sonder kans vir groet.
Fok.
Nog musiek. Carla
Bruni. Ek het altyd gedink sy’s eintlik maar net ‘n mooi gesiggie met baie houding; ‘n versiersel op Sarkozy se arm – tot jy vir my een van haar albums gegee het. Fantasties. Ek het nie ‘n clue
waaroor sy sing nie (al was my voorouers Hugenote, verstaan ek nie die taal nie) – maar hel, dis mooi…
En toe, meer onlangs, ‘ n gedeelde obsessie met Leonard
Cohen. Ek weet nie hoe lank jy dalk al in die geheim na hom geluister het nie, maar self gaan my geskiedenis met die man darem terug na my eie universiteitsdae.

So vind ons toe mos onder andere uit dat dieselfde aand wat ek vir
Leonard lewendig sien optree het (in Lille, aan die einde van September 2010), jy ook ‘n konsert van hom bygewoon het… in die Karoo, op ‘n groot skerm, in die opelug, die DVD’s van “Live in London” saam met al jou zen-pelle.
Ek is nou nog nie seker wie van ons die beste ervaring gehad
het daai aand nie.
Die laaste email wat jy ooit vir my (en 12 ander dissipels in
Leonard se gemeente) gestuur het, was vroeër vandeesweek, presies 48 uur voor jou dood – met links na 2 liedjies van sy nuutste, tot nog toe onuitgereikte CD aangeheg, onder andere:
http://www.newyorker.com/online/blogs/culture/2012/01/leonard-cohens-going-home-new-song.html
Ek het laat Vrydagoggend vir die eerste keer kans gekry om die
email te lees en na die snitte te luister – volgens Yahoo se tydstempel, het ek my eie email in antwoord op joune om 11:48 gestuur. Soos wat ek later sou verneem, was dit slegs enkele minute voor jou moeilikheid begin het… Ek wonder of jy darem (vir oulaas) my naam op jou blackberry sien flits het?
Ek het vanoggend weer oor en oor na “Going Home” gesit en
luister:
Going home
Without my sorrow
Going home
Sometime tomorrow
To where it’s better
Than before

Going home
Without my burden
Going home
Behind the curtain
Going home
Without the costume
That I wore

Het jy ‘n voorgevoel gehad, ou maat?

* * *
Flieks.
Jou smaak was eklekties (ek het nou die dag nog “The Men who
Stare at Goats” by jou geleen… weird!). Jy het gehou van kunsflieks, ernstige rolprente, flieks met ‘n boodskap. Ek onthou nog hoe opgewonde “Mr Holland’s Opus” jou gehad het, seker 15 jaar gelede – die storie van ‘n pa se komplekse verhouding met sy dowe seun, met musiek (weer eens) ‘n sterk tema.
In Oktober 2010 het jy vir my ‘n email gestuur met die
opskrif “Vir pa’s soos jy”, en die boodskap was eenvoudig: “Ek het gedink jy sal dalk hiervan hou – as jy eers eendag met die animasie en Lassie flieks klaar is!” (my dogtertjie Amelie was toe skaars 3 jaar oud). Aangeheg was ‘n skakel na http://www.reeldad.com/ – die webtuiste van ‘n regte pa in die VSA wat flieks as medium gekies het om bepaalde lewenslesse vir sy kinders te leer.
Aldus meneer Reeldad
himself:
As a father, I have always believed
film can be a learning tool for children, to show them places they have not visited, introduce them to people they have not experienced, visit time periods they could not live in and, most important, prompt discussions about sensitive topics that, otherwise, might be challenging discussions to begin. In this way, we can be real (and effective) parents as we share a reel experience.
Amelie is nog nie 5 nie, so ek kon die strategie (en Reeldad
se aanbevelings) nog nie op die proef stel nie, maar ek moet sê, dit lyk vir my na ‘n sinvolle model vir vaderskap…

* * *
Boeke was daar baie (weet Antony Osler hoeveel mense vandag
‘n kopie van Stoep Zen besit te danke aan jou?).
Maar vir nou sal ek volstaan met ‘n verwysing na die laaste boek
wat jy vir my gegee het, vir my mees onlangse verjaarsdag: “The Brooklyn Follies”, van Paul Auster.
Dis die storie van ‘n alleenlopende man vol selfkennis en
besondere lewenswysheid, klaarblyklik nie heeltemal gesond nie (die openingswoorde is “I was looking for a quiet place to die”…), wat boesemvriende maak met ‘n uiteenlopende groep mense van verskillende ouderdomme en agtergronde, en op die ou einde ‘n fundamentele invloed op almal van hulle se lewens het.
Dis eintlik ‘n storie oor jou, Kobus. Maar ek het dit eers later besef.

* * *
Van boeke gepraat, is ek sommer nou die moer in dat jy nooit
self een gaan uitgee nie. Die bevoorregte groepie vriende wat af en toe een van jou diep en/of skreeusnaakse emails ontvang het, weet almal dat jy ‘n beter skrywer is as meeste – en nou is
jy weg.
Jy kon oor enigiets skryf: van jou liefde vir Vrystaatse
rugby, tot drie manne op motorfietse in die Karoo (waarvan jou een stuk op die ou end in Tobie Wiese se bundel gepubliseer is, saam met die werk van o.m. Deon Meyer, Dana Snyman en Kerneels Breytenbach), en die ontwykende soeke in jou middeljare na ‘n droomvrou met mooi tiete en min admin.
En toe natuurlik, die kersie op die koek, jou mees onlangse
en ernstigste storie ooit: die tragiese verhaal van die Meisie van Skeerpoort – skaars ‘n halwe jaar gelede…
Eers sy, Kobus, en nou jy.
Jirre tog.

* * *
Allegeval. Miskien
kan die uitgelese lede van die Bond van Oud-Gereformeerdes uithelp (BOG, soos hulle algemeen bekendstaan: ‘n groep vriende wat soms ernstig, maar meestal ligsinnig omgaan met enige iets
van politiek tot geloof tot sekswenke vir die sestigers – in jou eie woorde, by geleentheid van Albert se 60ste verjaarsdag). Dalk kan hulle saamspan en jou pittigste bydraes op die een of ander manier in ‘n bundel vir die volk verewig?
So gepraat van Albert se 60ste: jy het daai aand die
volgende oor hom kwytgeraak:

Albert is nie ‘n goeie
Afrikaner nie. Hy is nie daarom noodwendig ‘n slegte Afrikaner nie. In fact, hy is in die woorde van ene Fourie Roussouw – predikant in die Kaap - nog Afrikaner nog Afrikaan.

Net gewoon ‘n mens:
- Hy is daai ding wat Jan Smuts was, ’n bewoner van die ganse wêreld.
- wat Steve Biko was, ’n vegter vir vryheid.
- wat Desmond Tutu is, ’n vredesoeker vir alle mense.
- wat Nelson Mandela is, deel van iets groter as net hyself.
- wat Beyers Naudé was, aan die kant van genade.
- iemand wat kwaad raak wanneer mense kla en kla en maak asof dinge nou baie slegter is as ooit.

As jy my die stukkie plagiaat sal vergewe, Kobus, dink ek
ons kan vandag maar dieselfde van jou sê?

Om terug te kom na BOG toe: ek was natuurlik nooit self ‘n lid
nie; ek was immers nóg Bloemfonteiner, nóg brugspeler, nóg biker. Maar jy het darem af en toe so ‘n proeseltjie van jou/julle interessantste en pittigste beuselagtighede na my email-adres se
kant toe gegooi – so ek is terdeë bewus daarvan dat baie van jou beste skryfwerk op die keper van BOG die lig gesien het.

Ek dink hulle gaat vir jou mis, daai BOG-manne.
Ons gaat jou almal mis.

* * *

So, wat nou, Kobus?
Wie gaan my in die toekoms voorstel aan al die talentvolle en interessante mense? Die vervalle dominees, die gefrustreerde politici, die township-sangers, hoofde van universiteitsdepartemente, koorleiers, sakereuse, raadgewers aan Afrika-regerings, Zen-meesters in die Karoo en
beeldskone blondines in Londen?
Met wie gaan ek gesels oor kerk en Kortbroek en Koos
Kombuis?
Jy was wragtag almal se beste pel; hoe het jy dit reggekry? Ek wonder hoeveel mense is daar wat vanaand sit en verval in dronkverdriet oor jou, soos ek, waar ek tans hier sit in ons kerk se T-shirt, met ‘n groot glas wyn binne my bereik, terwyl ek snot en trane huil oor al die goeie tye saam met jou… (terloops, hulle was almal goed, die tye saam met jou – van wie kan ek dit nóg sê?).
Ek ken die meeste van jou vriende nie eers regtig nie (noem dit maar die Joh’burg – Bloemfontein divide as jy wil), maar ek skat almal van ons is vanaand ewe platgeslaan. Al 100 of 200 van ons; miskien nog meer…

* * *
Voor ek klaarmaak, weer Leonard Cohen.
Een van Cohen se mooiste gedigte (liedjies) is “Boogie
Street”, waaroor hyself soos volg aangehaal is in ‘n onderhoud in 2001:

Boogie Street to me was
that street of work and desire, the ordinary life and also the place we live in most of the time that is relieved by the embrace of your children, or the kiss of your beloved, or the peak experience in which you yourself are dissolved, and there is no one to experience it so you feel the refreshment when you come back from those moments....

So we all hope for those heavenly moments, which we get in those embraces and those sudden
perceptions of beauty and sensations of pleasure, but we're immediately returned
to Boogie Street.

Jy’s nou weg, Kobus, en die res van ons is terug in Boogie
Street. Of soos einste liedjie dit weet te vertel:
O Crown of Light, O Darkened One,
I never thought we’d meet.
You kiss my lips, and then it’s done:
I’m back on Boogie Street.

En later:

So, come my friends, be
not afraid.
We are so lightly here.
It is in love that we are made;
In love we disappear.

Laaste maar nie die minste nie, haal ek vir jou ‘n stukkie
aan uit Jack Parrow se “Tussen Stasies” – dieselfde stukkie wat jy 7 maande gelede aan die Meisie van Skeerpoort opgedra het:
As ons staan op einde
van die langpad langs die spoor
Daars net donkerte daarvoor, ek staan en bewe
Dit raak swarter en daar’s net stilte wat ek hoor
Hou my hand styf vas lanks jou sy
Is jy nog lief vir my?
sal jy my by die hemelpoorte kry?

* * *

Nag, ou Grote, en dankie vir alles.
Ek hoop jy kan bike ry en brug speel en na Oom Leonard
luister waar jy nou is.
Maak seker jy vertel al jou stories, in die gebruiklike
detail, as daar iemand is wat kan hoor. En wie ookal gelukkig genoeg is om te kan luister, gaan dit vir seker moerse geniet. En lekker lag.
O, hoe wens ek vanaand jy was soos Koos Kombuis se ou pel
Johnnie, nie dood nie, maar net uitgepaas…
Liefhewwend,

Voetstoots van Tonder
21 Januarie 2012
< # afrikaans ? >