Sunday, November 26, 2006

Is die gras regtig soveel groener?

Omtrent twee maande gelede het ek geskryf oor die heel beste jop in die wêreld. Met verwysing na onder meer wynmakers, sportkommentators en die fotograaf vir Sports Illustrated se swemklere-uitgawe, het ek die argument geformuleer dat party mense darem seker regtig hulle werk geniet. Dink jy enigeen van hierdie mense staan in die oggend op en verwens die feit dat hulle kantoor toe moet gaan? Kry hulle daai beklemmende gevoel aan die einde van elke vakansie wat ek so goed kan onthou van laerskooldae af: môre begin die skooltermyn weer, en ek wens ek kan tandarts toe gaan eerder as om my onderwyser in die oë te kyk?

Ek glo nie.

Maar vir ‘n verandering het ek bietjie reaksie gekry op daardie stuk oor die beste jop in die wêreld. ‘n Vriend van my wat in Kaapstad bly (kom ons noem hom Jan, net om sy identiteit te beskerm) het byvoorbeeld laat weet dat niemand volgens hom ‘n lekkerder werk het as Jeremy Clarkson nie.

Vir dié wat nie weet nie, Clarkson se lewe bestaan daaruit om in duur motors rond te ry, mense sleg te sê en oor die algemeen polities-inkorrekte uitlatings te maak. Een voorbeeld: die man hou vol dat globale verwarming ‘n fiksie is.

Jeremy Clarkson is natuurlik ook die hoofaanbieder van Top Gear, die uiters gewilde televisieprogram waarin seuntjies van alle ouderdomme nooit ophou om met karretjies te speel nie. En hy is ‘n uiters vermaaklike skrywer, maar jy sal waarskynlik net van sy rubrieke en artikels hou as jy ook (a) ‘n manlike chauvinistiese vark is, (b) ‘n redelik sarkastiese sin vir humor het, en (c) nie simpatiseer met dié wat arm van gees of beursie is nie.

Ek moet sê ek is nie heeltemal seker hoekom my vriend Jan oënskynlik so jaloers is op Jeremy Clarkson nie, veral as jy in ag neem dat Jan ‘n aktuaris is wat by ‘n groot lewensversekeringsmaatskappy werk. Ek bedoel: wat kan tog lekkerder wees as om in jou hoekie agter ‘n rekenaar te sit en met mortaliteitstabelle te speel? Is daar enigiets meer opwindend as om te probeer bereken hoeveel mense in 2050 gaan sterf aan VIGS?

Jan en ek is vriende ten spyte daarvan dat hy sover ek weet nie regtig ‘n chauvinistiese vark met ‘n sarkastiese streep of ‘n onsimpatieke gesindheid is nie. Wat my laat vermoed dat Jan waarskynlik ‘n aanhanger is van Jeremy Clarkson, die aanbieder van Top Gear, eerder as Jeremy Clarkson, die rubriekskrywer. En soos ek gesê het: Jan bly nie eers in Engeland nie maar wel in Suid-Afrika, so hy kry seker die program ‘n paar weke laat te siene op ‘n DSTV-kanaal soos BBC Prime.

Kan dit wees dat aktuarisse ook inteken op satelliet, nes gewone mense? Dink jy hierdie mense kyk dalk selfs van tyd tot tyd na die rugby op M-Net se Supersport-kanaal?

Hoe dit ookal sy, die woorde wat Jan daardie week oor Jeremy Clarkson kwytgeraak het, was skaars koud of die nuusberig flits oor my televieskerm: Richard Hammond, een van Clarkson se mede-aanbieders op Top Gear, is in ‘n bedenklike toestand na ‘n ernstige motorongeluk. Vir diegene wat dalk hierdie stukkie nuus destyds gemis het: Hammond was besig met ‘n insetsel vir Top Gear waarin hy gepoog het om die Britse landspoed-rekord te breek in ‘n jet-aangedrewe voertuig, maar teen ‘n spoed van ongeveer 300 m.p.h. het die wiele ongelukkig ‘n bietjie afgekom. Letterlik.

Dit bly darem maar interessant hoe die meeste van ons identifiseer met die lot van openbare persoonlikhede, selfs al ken ons hulle van g’n sout of water op ‘n persoonlike vlak nie. Toe Brett Goldin ‘n paar maande gelede vermoor is, het ek mos daaroor ook geskryf. So, ja, die nuus het my ook effe geruk, al is ek nie nie eers ‘n Top Gear-aanhanger soos my vriend Jan nie. Trouens, karre gaan my verstand geheel en al te bowe. Ek kyk eerder in ‘n asblik as onder die enjinkap. Wat my aanbetref is kruisies en nulletjies meer van ‘n sport as Formule 1-wedrenne.

Maar ek het ook al een of twee keer die program per ongeluk gesien wanneer ek uit pure verveeldheid soek na iets om te kyk tussen ITV se skinderprogramme en Sky News se sensasionele beriggewing oor die tussenverkiesing in Wolverhampton. En selfs vir ‘n geswore kar-hater soos ek, moet ek bieg dat daar iets aan die program is wat maak dat mens aanhou kyk, selfs al identifiseer jy nie regtig daarmee nie. Amper soos Big Brother en Strictly Come Dancing.

Met ander woorde ek “ken” eintlik ook vir Richard Hammond. En derhalwe het ek onmiddellik daardie dag my rekenaar aangeskakel en ‘n epos teruggestuur na Jan toe: die ouens van Top Gear het miskien ‘n lekker jop, maar op ‘n dag soos vandag besef mens dat ‘n ander man se lot ook nie altyd maanskyn en rose is nie… is die gras regtig soveel groener aan die ander kant van die draad?

Ek moet sê dat ek nie gedink het dat Richard Hammond dit gaan maak nie – ek het nog altyd gedink dat mens nie regtig terugkom van ‘n “bedenklike toestand! af nie. Maar ek is dankbaar om te hoor dat dit deesdae weer heelwat beter gaan met die man: hy het selfs al ‘n paar redelik winsgewende onderhoude met die poniekoerante gevoer.

Met ander woorde eind goed, alles goed. Persoonlik is ek egter nog steeds nie seker of ek met iemand soos Hammond wil jops ruil nie. Daar is darem heelwat meer aan die lewe as motor-enjins wat brul.

Ter afsluiting wil ek ook net sê dat jy nie die tipiese aktuaris moet onderskat as jy hom agter sy dikraam-bril raakdrink in die naaste kroeg nie. Jy dink miskien die man is besig om te konsentreer op daardie mortaliteitstabel waar hy in sy hoekie agter die rekenaar sit, maar intussen fantaseer hy daarvan om net soos Jeremy Clarkson met karretjies te speel.

Ja-nee, stille waters, diepe grond, onder draai die duiwel in ‘n resiesmotor rond.


Voetstoots van Tonder
26 November 2006

Sunday, November 19, 2006

In die land van die blindes

Photobucket - Video and Image Hosting

Sondagoggend bel my ma my van Johannesburg af om ‘n bietjie te kla. Sy kla onder meer oor hoe bitterlik koud en nat dit is in die ou Transvaal – wat het dan van die somer geword in die suidelike halfrond? Het globale verwarming dan vir Afrika heeltemal gemis?

En my ma kla oor Eskom. Kan jy glo, sê sy vir my, die vorige middag toe dit tyd was vir die rugby-uitsending van Twickenham af om te begin, was daar weer geen krag in haar deel van Gauteng nie. En toe haar televisiestel uiteindelik weer begin werk, was die tweede helfte alreeds in volle gang.

Ook maar goed, dink ek, ten minste is sy darem ‘n bietjie van die pyn en lyding gespaar. Haar gesondheid is hoeka nie aldag meer wat dit moet wees nie. Soos wat die Springbokke deesdae speel, het hulle immers ‘n nadelige effek op die tipiese ondersteuner se lewensverwagting.

Vat byvoorbeeld Saterdag se wedstryd teen die Ingelse. Net toe dit begin lyk asof ons span dalk vir die eerste keer in nege jaar op Twickenham kan wen, gaan lê die spelers weer met mening. Asof dit ook nie erg genoeg is nie, gaan staan Jake White en vervang ‘n skitterende Butch James met ‘n sukkelende André Pretorius op ‘n kritiese stadium van die wedstryd.

Nou vra ek jou met trane in my oë: hoekom het hy dit gedoen? James het immers alles reg gedoen op die dag: hy het die eerste drie gedruk, die tweede een gemaak en ‘n hele paar skoppe tussen die pale deur geklits. Wat meer is, het hy die span nie eers die gebruiklike ses of nege punte aan strafskoppe gekos met sy geniepsige spel nie.

Oor Pretorius, aan die ander kant, wil ek liewer niks eers sê nie; netnou maak ek myself skuldig aan naamskending en/of onvoorbeeldige taalgebruik.

So hoekom het Jake White dit dan gedoen? Ek koop glad nie die storie dat Butch James ‘n seer knie gehad het nie. Die laaste ding wat hy dan gedoen het voor hy die veld verlaat het, was om ‘n strafskop deur die pale te jaag?

Nee, ek dink die antwoord lê in die stuk wat ek verlede wedstryd geskryf het: beide Suid-Afrika en Engeland het weer eens die wedstryd probeer gooi. Daar kan tog geen ander logiese verduideliking wees vir soveel vrot spel op een dag nie. Kan iemand asseblief Jake White se bankrekeninge nagaan en uitkyk vir twyfelagtige oordragte uit Guernsey of Mumbai?

Eendag gaan ons waarskynlik uitvind dat die Springbokafrigter vir die laaste klompie weke al ‘n geel armband onder sy wit langmouhemp dra met die letters WWHD daarop gegrafeer (“What Would Hansie Do?”). En White se verskoning dat hy vir André Pretorius in Butch James se plek opgestuur het laas Saterdag? “Die duiwel het my dit laat doen…”

Nie dat Engeland veel beter gedoen het nie, moet ek byvoeg. Soveel swak skoppe het ek byvoorbeeld in my laerskooldae laas aanskou. Maar ter versagting moet jy in gedagte hou dat ons skoolspannetjie darem destyds met kaal voete gespeel het…

In die land van die blindes is eenoog egter koning, en daar kry die vrotste Engelse span in ‘n lang tyd dit sowaar reg om Suid-Afrika die loef af te steek. Die ergste van alles is dat dit regtig hierdie keer gelyk het asof die Springbokke dalk kan wen. Dit maak die pyn net soveel erger.

En eerskomende naweek is dit weer sulke tyd. Lyk my die twee spanne gaan dit oor en oor moet doen, totdat hulle dit uiteindelik reg doen. As albei van hulle hierdie keer tot hulle volle potensiaal speel, dink ek die wedstryd behoort 0-0 te eindig.

Nou hoor ek ons moet nie so hard wees op die Springbokke nie. Daar’s selfs mense wat in die bresse tree vir Jake White se “taktiek” om agt van die land se beste spelers by die huis te los al is hulle nie eers beseer nie: dit alles sodat die arme bloedjies kan “rus” voor volgende jaar (blykbaar gaan dit ‘n besonderse harde seisoen gaan wees as gevolg van die Wêreldbeker).

Ag foeitog. Is dit dan nie die spelers se werk nie? Word elkeen van hulle nie ‘n arm en ‘n been betaal vir al hulle moeite nie? Gaan die hele lot van hulle nie in elk geval vir die volgende drie maande op ‘n uitgerekte krismisvakansie voordat die Super 14 uiteindelik weer begin nie? En hoekom reël hulle dan in die eerste plek ‘n toer na die Britse eilande as die meeste van hulle nie regtig wil speel nie?

Nie net word die voorste rugbyspelers heelwat meer betaal as ek en jy nie, maar hulle word ook gepamperlang met die beste mediese hulp, gereelde masseersessies, dieetkundige advies, besigheidsklasvlugte en vyfsterhotelkamers regoor die wêreld. En nou, wanneer die land hulle die nodigste het, wanneer die hoopvolles onder ons ten duurste betaal om ons span te kan ondersteun op Twickenham, word die reserwes gestuur om die reputasie van Springbokrugby finaal deur die modder te sleep.

Dít, terwyl die beste spelers “rus”. Min of meer soos keiser Nero, wat viool gespeel het terwyl Rome aan’t brand was.

Het hierdie klomp enigsins ‘n idee hoe dit vir die ondersteuners voel om jaar na jaar druipstert by Twickenham se hekke uit te stap? En soos ‘n vriend wat saam met my daar was, dit na die tyd opgesom het (hy’s die pa van twee klein kindertjies, so hy het baie verpligtinge by die huis): besef die spelers nie dat iemand soos hy net een dag per maand by sy vrou afkry om uit te gaan nie?

Dan is daar my ma, wat nou die dag tagtig geword het. Al is sy ook hoe gesond, bly daar statisties-gesproke seker nie meer verskriklik baie rugbytoetse oor vir haar om dop te hou nie. En nou moet sy in haar laaste jare na sulke snert sit en kyk, terwyl al die beste spelers “rus”.

Dis nou as daar die dag elektrisiteit is. Met ‘n bietjie geluk, hou die kragonderbrekings in Johannesburg egter hopelik volgende week ‘n bietjie langer aan en word my ma hierdie keer heeltemal gespaar van die marteling. Ten minste sal sy dan volgende Sondagoggend ‘n bietjie minder hê om oor te kla.


Voetstoots van Tonder
19 November 2006

Sunday, November 12, 2006

My kruis in die lewe

Photobucket - Video and Image Hosting

So daar is Darrell Hair ook nou uiteindelik werkloos: die ICC het oënskynlik nie met hierdie voormalige internasionale krieketskeidsregter saamgestem toe hy ‘n toets aan Engeland toegeken het, net omdat hy van mening was dat die span van Pakistan die bal ‘n bietjie rof opgevryf het nie.

‘n Maand of drie gelede, toe die oorspronklike voorval plaasgevind het, het elke kommentator denkbaar ‘n eiertjie te lê gehad daaroor. Myns insiens was dit egter Mike Atherton wat met die mees insiggewende opinie vorendag gekom het: as dit dan regtig waar is dat Pakistan besig was om die bal te verniel, behoort almal van ons bly te wees dat hulle ten minste hard aan’t probeer was om die wedstryd te wen – veral teen die agtergrond van al die twyfelagtige weddenskappe en gekookte uitslae waarvan hierdie span gereeld verdink word.

Dis die probleem wanneer ‘n wedstryd gegooi word: niemand sal ooit weet hoe goed die onderskeie spanne regtig is nie, of wat die uitslag dalk sou wees as albei heeltyd ewe hard probeer het. Ek onthou nog ‘n opmerking van een van die getuies voor die destydse King-kommissie na Hansie Cronjé en sy eskapades: wat maak dit tog saak as een span dan betaal word om te verloor – solank die detail van die georganiseerde uitslag net nie voor die tyd aan die skare bekend is nie, behoort die wedstryd nog steeds ewe opwindend vir almal te wees?

En dit bring my by eerskomende naweek se rugbytoets tussen Engeland en Suid-Afrika op Twickenham. Is daar enigiemand wat regtig belangstel in die uitslag wanneer hierdie twee gesertifiseerde verloorspanne kragte meet? So sleg soos wat hulle inderdaad laasweek gespeel het, sou mens sweer dat albei hierdie spanne spesiale aansporingstoelaes belowe is solank hulle net die onderspit delf.

Toe die eindfluitjie blaas in Saterdag se wedstryd op Twickenham, met Engeland wat vir die eerste keer in hulle geskiedenis ‘n loesing toegedien is op Twickenham deur die amateurs van Argentinië, was ek vir ‘n wyle in ‘n baie goeie bui. Dis tog so lekker om te sien hoe die Rosies die veld druipstert verlaat met die tuisskare wat hulle uitjou.

Wêreldkampioene? Nee wat, ek dink nie so nie. Wêreldbekerhouers, miskien – maar ook nie meer vir baie lank nie…

En toe draf Jake White se mak lammetjies later dieselfde aand op die veld teen die span van Ierland, en hulle bederf my hele aand deur ons land se kollektiewe naam weg te gooi met nog ‘n rekord-nederlaag. Wat ‘n ontnugtering, wat ‘n skending van die trotse nagedagtenis aan eenhonderd jaar se geskiedenis van die Springbok op toer.

Want as daar nou een ding is wat Suid-Afrikaners in die buiteland baie vinnig agterkom, is dit die waarde wat in die Springbok-handelsmerk opgesluit is. Dis voorwaar wêreldberoemd: waarskynlik nog meer so as Apartheid, Johan Stemmet en/of Ouma-beskuit.

Klim in enige taxi in Engeland en gee jou nasionale identiteit weg met jou onmiskenbare aksent, en jy kan maar weet dat die bestuurder jou gaan uitvra oor die stand van Springbokrugby. En dan moet jy maar saamgesels, maak nie saak hoe seer dit maak nie.

Die ergste van alles is dat ek nog nooit veel van ‘n rugby-ekspert was nie. Op skool was ek altyd aan die klein kant (ek dink die polities-korrekte manier om daarna te verwys is om te sê dat ek effe laat ontwikkel het). As gevolg daarvan is ek nooit eerste gekies wanneer twee spanne saamgestel is vir ‘n vinnige wedstryd in die LO-periode nie. Uiteindelik het my rugbyloopbaan een pouse in standerd 3 tot ‘n skielike einde gekom toe ek in die sement-afvoersloot aan die kant van die veld vasgeduik het. Een gebreekte neus en ‘n pak slae later het ek besluit om my maar eerder op die boeke toe te spits.

So hoekom moet ek dan enigsins ‘n opinie hê oor die Springbokke en al hulle rampspoedige vertonings?

Maar dis my kruis in die lewe: daar word eenvoudig aanvaar dat alle Suid-Afrikaanse mans eweveel in rugby belangstel. En op die ou end leer ‘n mens maar om saam te gesels, al verstaan jy ook nie alle aspekte van die onkantreël nie.

Die grootste probleem is egter dat ‘n klomp mense met oënskynlik ewe min talent as ekself deesdae vir die Springbokke speel. Of so het dit gelyk, in elk geval, ten tye van verlede Saterdagaand se vernedering in Dublin.

Nou kan ons maar net op die tande kners wanneer Suid-Afrika eerskomende Saterdag uitdraf teen ‘n Engelse span met hulle rug teen die muur. En wat ‘n vernedering sal dit nie wees as die Springbokke nogmaals verloor nie, veral gesien in die lig daarvan dat Engeland so pas sewe agtereenvolgende nederlae in toetse ingeryg het?

Twee jaar gelede, toe die twee spanne laas op Twickenham kragte gemeet het, was ek daar. Behalwe vir die frustrerende uitslag en die irritasie van die Engelse toeskouers se meerderwaardige opmerkings rondom my, onthou ek ook hoe bitterlik koud dit was op daardie treurige dag. Soos een van my Suid-Afrikaanse vriende langs my op die pawiljoen dit opgesom het: dis die eerste keer in sy lewe wat ‘n bier al hoe kouer word terwyl hy dit sit en drink!

En my kruis in die lewe is dat ek volgende Saterdag weer my plek op daardie selfde beton-pawiljoen moet gaan inneem. Ek sal Nkosi en Die Stem uit volle bors sing, en ek sal die Springbokke teen my beterwete ondersteun. Ek trek egter die streep by groen kleredrag (dit maak die treinrit na die tyd net te veel van ‘n verleentheid).

Ek kan nie sê dat ek veel uitsien na die ervaring nie. Te danke aan die effek van globale verwarming, behoort ek egter darem nie weer te verkluim soos twee jaar gelede nie.

Intussen wonder ek: hoe lank nog voordat Jake White by Darrell Hair aansluit in die land van die werkloses?


Voetstoots van Tonder
12 November 2006

Sunday, November 05, 2006

Die einde van 'n era

Photobucket - Video and Image Hosting

Dis met ‘n tikkie nostalgie wat ek verlede week die huldeblyk aan PW Botha in The Times gelees het. Nostalgie, nie omdat die nagedagtenis aan die man my nou juis met veel warmte vul nie, maar bloot omdat baie van die detail in die artikel die gemoed van ‘n hele era opgesom het.

Dit was die era van my jeug.

Ek was ongeveer een en ‘n half jaar oud toe PW Botha aangestel is as Minister van Verdediging in Hendrik Verwoerd se kabinet. Daarvan onthou ek natuurlik nie veel nie, maar wat ek wel onthou asof dit gister gebeur het, is Suid-Afrika se ongelukkige betrokkenheid in die Angola-oorlog tien jaar later. Ons Minister van Verdediging het oornag verander in ‘n Minister van Aanval. Miskien is dit waar die term vandaan kom dat aanval op die ou end die beste vorm van verdediging is.

Teen hierdie tyd was ek ‘n jong tiener; die oumense het gesê ek’s in my puberteit. Vir my twaalfde verjaarsdag het ek boeke soos “Wat Seuns Wil Weet” van Dr Jan van Elfen gekry, my stem het gebreek, die puisies het op my gesig uitgeslaan en ek het teen wil en dank begin skeer – alles min of meer in dieselfde week.

Dit was nie ‘n maklike tyd nie: in my hart het ek nog gevoel soos ‘n kind, maar ek het ook besef dat die grootmenslewe en al sy probleme vinnig besig was om nader te snel. En daar was niks wat my meer daarvan bewus gemaak het as die rampspoedige gevolge van PW Botha se Angola-oorlog nie: week vir week (of so het dit gevoel) het die agtuurnuus ons vertel van nog ‘n klomp “helde” wat hulle lewe afgelê het op die grens.

Ek onthou nog hoe ek met groot oë gesit en kyk het na die lyste en lyste name afgestorwenes wat oor die televisieskerm rol teen die agtergrond van daardie standbeeld van ‘n man en sy geweer. Net om dit in te vryf, het ons elke Vrydag nog ‘n dubbelperiode kadette ook gehad, uniforms en al, met ‘n hoop ongeskikte onderwysers (almal luitenante in hulle vrye tyd) wat bevele uitblaf terwyl die son steek en ons hard probeer om regs te rig. En ek onthou nog baie goed hoe dit alles my afgesit het van die gedagte aan diensplig.

Wat ‘n woord was dit tog nie wat PW en sy trawante uitgedink het nie: diensplig. Diens, om op ons Calvinistiese gevoel te speel, en plig, net om ons te herinner daaraan dat ons geen keuse gehad het in die saak nie.

Desnieteenstaande daarvan het die regime ons egter toegelaat om vir uitstel te vra op grond van studies. En jy weet mos: van uitstel kom afstel. So, ek was nooit in die Weermag nie. Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Dit was egter die tagtigerjare in Suid-Afrika wat veral onthou sal word as PW Botha se era. Nadat hy in 1978 verkies is tot Eerste Minister, het Botha in 1982 moes toekyk hoe Andries Treurnicht en 15 ander lede van die parlement die Konserwatiewe Party op die been bring. Skielik was Afrikaner-politiek weer witwarm (voor dit het die Progs in elk geval nooit juis hond haaraf kon maak nie, en die ANC was gerieflikheidshalwe nog verban).

Teen hierdie tyd was ek ‘n student aan ‘n Afrikaanse universiteit, en derhalwe het ek ‘n sitplek in een van die voorste rye gehad om die emosionele verwikkelinge dop te hou en die witwarm debat te volg. In 1985 het PW sy mees beroemde toespraak gebruik om ons te herinner dat ‘n Rubicon nie net ‘n wyn is nie. En ‘n jaar later het hy ‘n noodtoestand oor die hele land afgekondig – op min of meer dieselfde stadium wat ek my studies in soortgelyke terme sou kon beskryf.

In die tweede helfte van die tagtigerjare het PW Botha en sy party se kragdadigheid egter begin uitrafel in simpatie met die leier se kwynende gesondheid. Maar terselfdertyd was daar ‘n ander, selfs sterker beweging wat op die been begin kom het, naamlik die genre van Afrikaanse protesmusiek. En niemand het hierdie era beter versinnebeeld as Johannes Kerkorrel en sy Gereformeerde Blues Band nie.

Johannes (soos wat Kerkorrel in latere jare eenvoudigheidshalwe na homself begin verwys het) het natuurlik op die ou end meer as een liedjie oor die karikatuur van PW Botha geskryf. Trouens, my gunsteling CD van alle tye deur hierdie kunstenaar (een waarop snitte soos Hillbrow, Halala Afrika, Somer en Al Lê Die Berge Nog So Blou almal ingesluit is) begin en eindig met liedjies oor PW. Is dit toevallig dat die album se naam Tien Jaar Later is, en dat dit vrygelaat is in 1998 – presies tien jaar na Botha se laaste vol jaar in die politiek?

Die eerste liedjie op hierdie CD is Sit Dit Af – ‘n klaaglied oor die nare gesig van PW Botha met sy vinger in die lug wat die sanger se TV-skerm ontsier. En die laaste liedjie is getiteld Wat ‘n Vriend het Ons In PW – ‘n sarkastiese verwysing na hoe veilig Suid-Afrika is met al die kommuniste wat verban is: “elke aand gaan slaap ons rustig / niks wat ons gemoed beswaar / vensters, deure dig gegrendel / teen die bose swart gevaar…”

Dalk is dit die heel beste opsomming van die PW Botha-dae: ‘n tyd van valse veiligheid, ‘n era van ontkenning.

Nil nisi mortuis bene – sê niks behalwe goed van die dooies nie; so het my Latyn-juffrou my geleer. Dalk is dit hoekom selfs Nelson Mandela – wie se kwarteeu in die tronk amper 100% oorvleuel het met PW Botha se tyd in die NP-kabinet – ook verlede week hulde gebring het aan die Groot Krokodil. Of dalk is dit maar net nog ‘n bewys van Madiba se groter grootsheid.

Maar mag PW Botha in vrede rus. Alhoewel ek moet sê dat ek vir Johannes Kerkorrel heelwat meer sal mis.


Voetstoots van Tonder
5 November 2006
< # afrikaans ? >