Sunday, March 26, 2006

Ich bin ein Barcelona-er!

Hoekom was ek so verskriklik bly na Chelsea se onlangse nederlaag in die Kampioenskapsliga-wedstryd teen Barcelona? En weer, tien dae gelede, toe die Manne in Blou verloor het teen hulle bure van Fulham? Waarom het ek so lekkergekry toe ek na die tyd vaskyk in Jose Mourinho se onvriendelike gesiggie, selfs suurder as gewoonlik – soos die baba-beer wie se warm pap so pas van hom afgevat is? Glo dit as jy wil, maar hierdie vrae het my die afgelope tyd meer slaap gekos die as die gekombineerde gevaar van voëlgriep, globale verwarming, Osama Bin-Laden en Brett Lee se boulwerk.

Laat ek begin deur te sê dat ek nie eers veel van sokker hou nie – of moet ek daarna verwys as voetbal? Alhoewel die Engelse dit nie regtig sokker noem nie, val voetbal maar nog steeds vir my effe swaar op die tong – die oumense het mos altyd van voetbal gepraat as hulle eintlik na rugby verwys het? Soos die meeste Afrikaanse seuntjies, het ek nie regtig met sokker grootgeword nie, en het ek altyd geglo dat rugby onvoorwaardelik my land se nasionale sport is. Die feit dat sokker eintlik die verkose aktiwiteit was van dieselfde 90% meerderheid van my medeburgers wat mos nooit kon stem nie, was ‘n stukkie detail wat ons die meeste van die tyd buite rekening gelaat het.

Later het ek agtergekom dat al wat leef en beef om my skree vir een of ander span in die Engelse liga – selfs mense wat hulleself nog nooit buite die Kaapse Vlakte begewe het nie. Trouens, ek het een keer gelees dat ‘n klub soos Manchester United meer ondersteuners het in Kaapstad as in Manchester self. Hoe verklaar jy dit? En hoekom sal iemand in Suid-Afrika meer lojaal wees teenoor ‘n klub in Engeland, as teenoor ons eie Bafana Bafana?

Op ‘n tyd in die tagtigerjare het ek wel vir Everton “ondersteun”, maar as ek daaraan terugdink, was dit seker maar net omdat hulle redelik goed was in daardie stadium, en omdat Gary Lineker vir hulle gespeel het. Ek het geïdentifiseer met Gary Lineker: met sy skoon gesiggie, skamerige glimlag, en mooi kort hare (om nie eers te praat van sy goeie sportmanskap nie), kon hy maar net sowel self ook ‘n lid gewees het van my plaaslike ACSV-kring. Maar nou moet ek uitvind dat dit alles eintlik net ‘n valse front was: die einste bose Lineker, ja hy wat optree in al daai tjips-advertensies, is verantwoordelik daarvoor dat derduisende Engelse kinders vandag selfs vetter is as wat hulle dalk andersins sou wees.

Vandat ek in Londen bly, het ek voorts probeer om my nie juis te steur aan die Groot Engelse Obsessie nie. Maar dis nogal moeilik, veral as die laaste klompie bladsye van bykans elke koerant op die rak party dae van hoek tot kant gevul is met sokkernuus in stede van sportverslae; derhalwe moet ek bieg dat ek soms uit pure verveeldheid wel in die rigting van hierdie berigte loer. Maar steeds voel ek vere vir Arsenal, Liverpool, en die hele boksemdais. En ek voel veral vere vir Chelsea.

Hoekom hou ek so verskriklik min van Chelsea? Soos die voël vlieg, bly ek nie eers sover van daar af nie (dis nou ás die voël vlieg, en nie platgetrek is van die griep nie). Trouens, met die moontlike uitsondering van Fulham, is Chelsea waarskynlik die klub wat die naaste is aan bykans elke Suid-Afrikaanse huishouding in Londen – al die duisende van ons wat bly in daardie suid-westelike wig van die dorp, vanaf Putney en Barnes, deur Richmond en Wimbledon, tot by Twickenham en Kingston. En om alles te kroon hou ek eintlik daarvan om nou en dan in die Chelsea-area uit te hang; ek het al by tye ‘n paar lang biere in Kings Road se omgewing afgewurg.

Die probleem is maar net dat ‘n klub soos Chelsea heeltemal te ryk en te suksesvol is na my sin. Die feit dat hulle aan ‘n Russiese olieskelm behoort, help natuurlik ook nie veel nie. En Jose Mourinho se arrogansie vat die koek.

Nou die dag lees ek dat die Afrikaanse term vir ‘n tantrum, ‘n vloermoer is. Wel, Jose Mourinho se gereelde vloermoere staan my ook nie aan nie.

So, toe Chelsea nou die dag tweede gekom het teen Barcelona, het ek definitief nie ‘n traan gestort nie; inteendeel, ek was amper net so bly soos daai dag wat Pieter Hendricks kringe om David Campese gehardloop het in die openingswedstryd van 1995 se Rugby Wêreldbeker. Dis miskien waar dat Chelsea gereeld aan die kortste ent trek met die skeidsregter se beslissings, maar ek sukkel om hulle jammer te kry. ‘n Mens hoef in elk geval nooit te jammer te wees vir mense wat meer geld verdien in ‘n week as wat jy bymekaarskraap in ‘n jaar of langer nie.

Ja-nee, soos president John F. Kennedy van ouds, wat die hele Wes-Duitsland se guns gewen het met sy beroemde “Ich bin ein Berliner” toespraak, verklaar ek myself hiermee nie net volkome anti-Chelsea nie, maar ook ‘n lojale Barcelona-er. Of Barceloniaans, of Barceloniër, of wat jy dit ookal noem.

Daar’s net een probleem: ek was nog nooit in Barcelona nie. Om die waarheid te sê, ek het nog nooit eers ‘n voet in Spanje gesit nie. Maar ek hoor dis ‘n lekker plek; miskien sal ek maar een of ander tyd gaan kyk hoe dit daar lyk, veral noudat ek een van die span se getroue ondersteuners is.

En dit nogal in ‘n sport waarvan ek nie eers hou nie.


Voetstoots van Tonder
26 Maart 2006

Friday, March 17, 2006

Hoe ander mense rubrieke skryf

* Sien Michael Winner se weergawe van hierdie ontmoeting in sy rubriek in die Sunday Times van 16 April 2006:

http://www.timesonline.co.uk/article/0,,2092-2135969.html


Groot was my verbasing toe ek nou die dag aansit vir ‘n laterige ontbyt by Patisserie Valerie in Kensington, en Michael Winner stap by die deur in. Nie net dit nie, maar die man en sy aanvallige gesellin stap oënskynlik reg op my af, en plak hulself plotseling neer by die tafel reg langs my.

Vir dié wat nie weet nie, Michael Winner het aanvanklik bekendheid verwerf toe hy ‘n hele reeks swak rolprente gemaak het in die sestigerjare. Nou skryf hy ‘n weeklikse rubriek in die Sunday Times waarin daar uitgewei word oor maaltye, metgeselle en meerderwaardige opinies. Sonder uitsondering is sy metgeselle (selfs) heelwat meer beroemd as Winner self, en/of hulle is vroulik, betreklik jonk en redelik aantreklik. Om jou ‘n idee te gee: die onderwerp van voorverlede Sondag se rubriek was ‘n middagete in die geselskap van Mohamed al-Fayed – die eienaar van Harrods, en Prinses Diana se amperse skoonpa destyds.

As ek aan Michael Winner dink, is daar ‘n hele paar Engelse woorde wat oombliklik in my gedagtes opkom: die man is uiteraard ‘n redelike celebrity, hy’s ‘n verskriklike name-dropper en hy is besonder obnoxious. Wat meer is, hy pronk met ‘n oëverblindende fake tan: as jy jou hare wil kam, kan jy gerus die foto’s wat langs sy rubrieke verskyn, gebruik in plaas van ‘n spieël.

Hoe vertaal jy al hierdie woorde in Afrikaans?

Nog ‘n onvertaalbare term: Michael Winner is larger than life. Wanneer hy by ‘n plek instap, neem sy aura die hele plek oor. Daar’s niks subtiel aan die man nie: hy hou nie op met praat nie, hy gesels met almal, en hy glimlag die hele tyd. En hy praat ook nie sag nie, behalwe wanneer hy na die venster se kant toe draai en in sy diktafoon fluister – iets wat hy elke paar sekondes doen.

Maar selfs wanneer Winner probeer fluister kan ek elke woord hoor – dis ‘n kleinerige restaurant, en my tafel is skaars ‘n voet van syne af. So dís hoe die man sy rubrieke skryf, besef ek: hy vat sy diktafoon saam na ‘n ete toe, en dan gesels hy maar net op redelik arbitrêre wyse oor alles wat om hom afspeel. Hy kan waarskynlik nie eers tik nie.

Michael Winner gee die spyskaart skaars een kyk, en dan praat hy in die diktafoon: Eggs Benedict on Toasted Muffins with Smoked Salmon and Hollandaise Sauce. Die kelner kom om sy bestelling te neem: Eggs Benedict on Toasted Muffins with Smoked Salmon and Hollandaise Sauce eggo dit hier om my. So hou dit aan: telkens wanneer sy metgesel iets interessants kwytraak, of as Winner self opkom met ‘n pittige antwoord, kry die diktafoon ook ‘n beurt om te luister na ‘n verbatim weergawe van die gesprek. Dis die een rede hoekom ek nie kon help om aan te hou luister na Winner en sy dame van die dag nie: die menslike oor is nie in staat om iets te ignoreer wat heeltyd herhaal word nie (wat basies die rede is vir die ontstaan van die hele popmusiek-industrie).

Net voordat die kos opdaag, verskoon Winner se gesellin haarself om haar neus te gaan poeier. Skielik is daar vir hom niemand om mee te gesels behalwe ekself nie; die mense by die ander tafels is in hulle eie gesprekke betrokke, en die kelner is nêrens in sig nie. Ek dog jy skryf gewoonlik oor meer interessante plekke, sê ek vir hom. Onmiddelik word my opmerking verewig op die diktafoon: the gentleman next to me says he thought I usually write about more interesting places.

Well, sometimes I do and sometimes I don’t, antwoord Winner my. En dan draai hy diktafoon se kant toe vir die encore: Well, sometimes I do and sometimes I don’t.

Is jy van Australië, vra Winner my. Nee, sê ek vir hom: Suid-Afrika. The gentleman next to me is from South Africa, blaker hy dit uit aan die diktafoon.

Jammer, sê hy vir my, hy’s nie seker of dit ‘n groter belediging is vir Australië of vir Suid-Afrika wanneer hy die twee lande se aksente met mekaar te verwar nie. Maar ek moet sê, hy het nie baie jammer gelyk nie. En ek wou hom nog terug-beledig (dis immers nie aldag wat mens kans kry om ‘n larger than life, obnoxious, name-dropping celebrity met ‘n fake tan in sy gesig terug te beledig nie). Maar voordat ek hom kon vra of vandag se metgesel sy dogter of sy kleindogter is, net sodat hy die die vraag in sy diktafoon kon herhaal, was sy terug en dit was die einde van ons gesprek.

Hou gerus Michael Winner se rubriek dop in die volgende week of twee. Miskien drop hy selfs my naam.

Maar persoonlik sal ek dit maar ‘n mis gee: ek het alles al twee keer gehoor.

Voetstoots van Tonder
19 Maart 2006

Sunday, March 12, 2006

Waar die hart van vol is...


Die Engelse is darem maar ‘n romantiese nasie. Vat byvoorbeeld ‘n uitdrukking soos “absence makes the heart grow fonder”. Dis ‘n rein gedagte, en een wat beelde oproep van ‘n hondjie wat die hele dag by die hek lê en wag vir sy baas om terug te kom huis toe – net sodat hy vanaand sy stertjie selfs vinniger kan swaai wanneer hy vir sy kos moet sit en wag.

Sover ek weet, is daar nie regtig ‘n goeie Afrikaanse vertaling of ander idiomatiese ekwivalent vir hierdie idioom nie. Inteendeel, die naaste wat ons ou volkie daaraan kom, is met die siniese opmerking: “uit die oog, uit die hart”. Dit spreek presies dieselfde onderwerp aan, maar die strekking is netmooi die teenoorgestelde; die Afrikaanse hondjie vergeet heeltemal van sy baas wanneer dié by die hek uitry.

Hoe voel jy wat in Engeland bly oor die land van jou vaad’re aan die Suidpunt van Afrika? Is dit waar dat “absence makes the heart grow fonder”, soos wanneer jy toenemend wil kla oor Londen se lang winter, of is dit eerder ‘n geval van “uit die oog, uit die hart” terwyl jy kies om te fokus op die voortslepende misdaad in Johannesburg?

Dis seker waar dat daar ‘n tyd en ‘n plek is vir albei van hierdie standpunte. Maar as ek ooit bevestiging gesoek het vir die feit dat Suid-Afrika nie heeltemal uit my hart kan wees nie, al is dit dan ook waar dat die land vir my op die oomblik redelik ver uit die oog is, dan het ek dit Sondagmiddag gekry. Ek het teruggekeer van ‘n vinnige pub lunch langs die Teems af, en alhoewel ek besef dat dit die tipe detail is waarin die gemideelde leser seker nie regtig belangstel nie, het ek ‘n redelike groot nood gehad. Op pad badkamer toe het ek vinnig die televisiestel aangeskakel en die telling in die eendag-krieketwedstryd tussen Suid-Afrika en Australië op die Wanderers gesien.

Kan dit waar wees, het ek myself onmiddellik afgevra: die Proteas het op 247 vir die verlies van twee paaltjies gestaan, en dit na net 27 boulbeurte! Herschelle Gibbs was in volle gang, daar was pandemonium op die pawiljoene, en die kommentators se voorraad bywoorde en byvoeglike naamwoorde was vinnig aan’t opraak. En dít nadat Australië vroeër die dag ‘n wêreldrekordtelling van 434 lopies in 50 boulbeurte gemoker het. Nou moet ek maar kyk, besluit ek eensklaps – ek kan maar ‘n bietjie later gaan piepie.

Ek gaan nie ‘n opsomming probeer gee van wat alles in die daaropvolgende uur en ‘n half gebeur het nie – hierdie is immers nie ‘n sportberig nie. Maar dit was behoorlik ‘n wipplank-ryery; my hare het penorent begin staan terwyl ek op die rant van my sitplek gesit en my naels stomp-af gekou het. Ek hoop my ma het maar ‘n ekstra pilletjie gevat. En van my groot nood het ek totaal en al vergeet.

Terwyl die drama besig was om af te speel, het my vriende in Suid-Afrika die een na die ander begin om te bel en teksboodskappe aan te stuur – kyk ek, is dit nie onge-flippen-looflik nie, wat dink ek gaan gebeur, en wil ek nie dalk ‘n weddenskap plaas nie? Ironies genoeg, was die laaste keer wat so baie verskillende mense op een dag probeer kontak maak het, verlede jaar toe die bomme in Londen ontplof het…

Meer as een keer het ek gedink dat die Proteas nou met mening gaan lê, dis neusie verby, en die koeël is behoorlik deur die kerk. Maar teen dié tyd weet almal dat my span op die ou end wel die wa deur die drif gesleep het, en dit nogal met een bal oor. Ons kan maar net wonder hoeveel verder die Suid-Afrikaners dalk daai wêreldrekord sou gebreek het, as hulle maar net die geleentheid gehad het om wel al die boulbeurte op te gebruik…

Toe Mark Boucher die wenlopies slaan, skree ek so hard dat my buurman van die woonstel langsaan aan die voordeur kom klop om te hoor of alles OK is. Ek nooi hom toe maar in om saam met my na die oorhandigingseremonie te kom kyk. Die man was saam met my bly, maar hy het nie lekker verstaan wat Herschelle Gibbs bedoel toe hy in sy onderhoud die skare aanmoedig om die volgende dag werk toe te gaan met ‘n moerse babelas nie. Moenie worry nie Oom, antwoord ek hom, ek kry vir Oom nog ‘n dop. Maar al wat ek kan sê, is dat beide Buurman en ek op die ou end wel Herschelle se wyse raad gevolg het; wêreldrekords soos hierdie word immers nie elke dag gebreek nie.

Ja-nee, jy kan die Boerseun uit Afrika verwyder, maar jy raak nie so maklik ontslae van daai stukkie Afrika in die Boerseun nie. Wat uit die oog is, is definitief nie heeltemal uit die hart nie; inteendeel, die hart is definitief nog redelik vol daarvan. En waar die hart van vol is, loop die mond van oor…ek kan getuig: absence certainly does make the heart grow fonder.

Maar nou moet ek regtig eers gaan piepie.


Voetstoots van Tonder
12 Maart 2006

Sunday, March 05, 2006

Die gate in die groot groen onderbroek

Hoe het die wêreld nie verander oor die laaste vyftien jaar nie. Vyftien jaar gelede het nie een van ons ‘n selfoon gehad nie. Vyftien jaar gelede was die internet nog maar net ‘n blink gedagte. Vyftien jaar gelede het ons almal nog gedroom van Suid-Afrika se hertoetrede tot internasionale sport (en as ek so kyk na ons spanne se vertoning in die Super 14, wonder ek of dit ooit so ‘n goeie idee was).

Vyftien jaar gelede was die Nuwe Suid-Afrika nog maar net ‘n embrio; die konsepsie soos versinnebeeld deur Nelson Mandela se vrylating uit die tronk was skaars verby, en die geboorte van sy presidentskap sou eers drie jaar later plaasvind. En terwyl wit politiek vyftien jaar gelede nog betreklik relevant was (dit was immers voordat Mandela self kon stem), is mense soos Eugene Terreblanche en sy trawante nog ernstig opgevat in daardie dae. So ernstig, byvoorbeeld, dat Nick Broomfield van die BBC destyds die lang pad Ventersdorp toe gevat het om ‘n dokumentêre program van anderhalfuur getiteld The Leader, His Driver, and the Driver’s Wife oor die leier van die AWB te maak.

Nick Broomfield is Engeland se antwoord op Michael Moore. Maar waar Moore dink dat hy al die antwoorde het, en dat hy die hele wêreld gaan verander, doen Broomfield alles op ‘n heelwat meer Engelse manier. Is daar ‘n goeie Afrikaanse woord vir understated?

Wanneer Michael Moore die kandidaat vir een van sy onderhoude kies, loop hy die persoon trompop en daag hom uit om so gou as moontlik sy mond verby te praat. Broomfield, aan die ander kant, uitoorlê sy slagoffer op ‘n veel meer geduldige wyse, en irriteer die ander party totdat hy op die ou end oënskynlik boedel oorgee. Die beste dele van sy films is dikwels wanneer hy net swyg in ‘n onderhoud, en die ander party dan allerlei nonsens begin kwytraak net om ontslae te raak van die ongemaklike stilte. En as jy nou regtig op soek is na iemand wat behoorlik nonsens kan praat, hoef jy seker nie veel verder te kyk as die leier van die AWB nie.

Die verskil tussen Nick Broomfield en Eugene Terreblanche se persoonlikhede kon ook nie groter gewees het nie. Broomfield se beste vraag is dikwels net ‘n uitgerekte hmmmm, gevolg deur ‘n skamerige glimlag; Terreblanche se tipiese antwoord is ‘n tirade, ‘n oordrywing en ‘n algehele dramatisering van sy eng perspektief op die wêreld. Of dikwels is dit sommer maar net ‘n misplaaste dreigement.

Baie het gebeur in die vyftien jaar sedert Broomfield die eerste keer op Terreblanche gefokus het, en meer onlangs het die Engelsman besluit om terug te gaan Wes-Transvaal toe om ‘n opvolgprogram te skiet; His Big White Self is verlede week op More4 uitgesaai. Dis met gemengde gevoelens wat ek daarna gekyk het.

Aan die een kant was dit lekker om ‘n program te sien waar ek kan assosieer met die landskap, die aksente verstaan en die karakters aan my bekend is. Maar aan die ander kant het dit my gevul met ‘n unieke mengsel van verleentheid en hartseer: verleentheid omdat ek besef het dat daar regtig nog sulke mense is, en dat ekself seker nie regtig sover daarvan verwyder is nie, en hartseer omdat die program die menslikheid van die karakters te midde van hulle politieke irrelevansie so effektief uitbeeld.

Daar was ‘n paar baie goeie momente in His Big White Self . Daar was die melodieuse klanke van die Click Song. Daar was terugblikke na die 1994-verkiesing se lang, vreedsame toue mense – selfs in Ventersdorp. En dan was daar ‘n toneel waar Broomfield betrap word in ‘n spoedlokval net buite Eugene Terreblanche se tuisdorp, en die swart verkeerskonstabels hom laat gaan met ‘n waarskuwing toe hulle hoor waarheen hy op pad is. Het julle ‘n boodskap vir Terreblanche, vra Broonfield. Die een verkeersman (die vette) pak ‘n groot, amper senuagtige glimlag uit en antwoord: Noooo, just tell him to be nice!

Maar jy kyk eintlik nie na so ‘n program omdat jy dit geniet nie, jy kyk daarna omdat jy bang is jy mis iets, soos wanneer jy by ‘n grusame ongelukstoneel verbyry. Partykeer wil jy agter jou hande wegkruip en deur jou vingers loer. Jy voel soos wanneer jy JM Coetzee se Disgrace lees, of Marlene van Niekerk se Triomf – dis verskriklik, dis ongelooflik, tog is dit alles waar… en die ergste van alles: dis MY mense.

Soos in Broomfield se eerste program oor Terreblanche, val ‘n groot deel van die fokus weer op JP Meyer, Die Leier se voormalige motor-bestuurder, en dié se ex-vrou, Anita. Maar waar die twee van hulle vyftien jaar gelede nog vroom-vroom en al glimlaggende die een growwe rassistiese stelling na die ander gemaak het, het daar intussen grootliks ‘n ontnugterde berusting oor Suid-Afrika se politieke omwenteling ingetree. En waar Eugene Terreblanche destyds gehore vol oorgewig boere met weglê-snorre opgesweep het totdat die spoeg so spat (Anita beskryf Die Leier as “very dominative”), is sy eie swak gedigte al waarin hy skynbaar belangstel na sy onlangse vrylating uit die tronk.

Een van die mees bisarre tonele in die TV-program is waar Broomfield uiteindelik kans kry vir ‘n onderhoud met Terreblanche, maar dié se woordverwoerder maak dit duidelik dat geen politieke vrae aan Die Leier gestel mag word nie as gevolg van sy parool-voorwaardes. Wanneer Broomfield derhalwe vir Terreblanche begin uitvra oor sy digkuns, herinner dit amper aan die patetiese boekwinkel-eienaar (Hugh Grant) wat voorgee dat hy die tydskrif Horse & Hound verteenwoordig in ‘n onderhoud met die Hollywood-superster (Julia Roberts) in die rolprent Notting Hill.

Sommige mense sal sê dat Eugene Terreblanche nog altyd ook ‘n redelike patetiese figuur is, dalk selfs meer pateties nog as die gemiddelde Hugh Grant-karakter. Daardie mense sal hulle opinie motiveer met verwysing na Jani Allen se storie van die gate in die groot groen onderbroek, of die dag wat Die Leier van sy perd afgeval het (ek wonder wat het die mense daarvan gedink by die Horse & Hound?). En tog het die man ‘n stem gehad, ‘n kyk wat deurboor en die tipe charisma wat feitlik enige luisteraar kon hipnotiseer. Vandag is hierdie eienskappe nog daar, maar die motivering is op, en die drif is weg; al wat oorbly is ‘n moeë ou man, ‘n patetiese skepsel.

Eugene Terreblanche het oor en oor gesweer dat sy volk nooit regeer sou word deur “die kommunis, die ateïs en die terroris” nie. Hy het sy volk probeer voorberei vir oorlog teen hierdie bose groep, maar hy is verslaan voor die eerste veldslag. En die Leier – en die meeste van sy volgelinge – is heeltemal gebroke gelaat in die proses.

JP Meyer, die voormalige motor-bestuurder, het intussen ‘n ambulansman geword. Hy som die ontnugtering van die oorlog wat nooit plaasgevind het nie soos volg op: “If you train a horse to ride in a race and you don’t give him a race, you break his spirit” (sic).

Self kan ek dit nie beter stel nie. En ek aanvaar dat die mense van Horse & Hound seker ook nie daarvan sal verskil nie.


* His Big White Self word weer uitgesaai op More4 aan die einde van Maart.


Voetstoots van Tonder
5 Maart 2006

< # afrikaans ? >