Sunday, April 23, 2006

Kan 'n lewe so min werd wees?

Twee weke gelede land ek in Kaapstad vir my jaarlikse pelgrimstog oor Paasfees, en die stad verwelkom my met een van daardie rare herfsoggende wat bykans onmoontlik is om te beskryf, en ongelooflik om te ervaar. Die vroeë-môreson het pas sy kop oor die Hottentotsholland-berge uitgesteek, en begin net om sy helder strale regoor die Kaapse vlakte te werp; in die proses dompel hy die westelike hange van Tafelberg in die helderste pampoen-oranjekleur denkbaar. Dis ‘n toneel wat jy self moet sien om dit regtig te glo: as ‘n kunstenaar dit verf, sou jy dit óf kritiseer op grond daarvan dat die kleur heeltemal onrealisties is, óf jy sou die prentjie afmaak as kitsch.

En daar is geen wind nie: toe ek ‘n paar minute voor landing afkyk oor die blou baai wat so spieëlglad onder ons uitstrek, lyk dit alles so rustig dat mens jou skaars kan indink hierdie is dieselfde Kaap van Storms wat tallose seevaarders se lewens gekos het oor die eeue heen. Pragtig, vreedsaam, skadeloos… kan dit hoegenaamd waar wees dat daar mensvretende haaie in hierdie waters skuil?

‘n Rukkie later mik ek stad toe in ‘n Avis-model, en die kontras van die plakkerskampe langs die N2 tref my vir die soveelste keer soos ‘n vuisslag tussen die oë. Ek wonder of die shack-bewoners ook vandag die Kaap se skoonheid waardeer? Kan mens enigsins lief wees vir ‘n stad wie se storms elke winter jou woning verwoes?

Gedagtes soos hierdie maal deur my kop wanneer ek tussen Rondebosch en Mowbray se gholfbane verbysnel, onderdeur die M5, berg se kant toe. Dis naweek, daar’s geen verkeer nie, en binne vyftien minute arriveer ek by my bestemming in Tamboerskloof. Ding is darem maar maklik in hierdie dorp, dis alles so anders as in Londen.

My pel, in wie se woonstel ek die volgende week of wat gaan tuisgaan, vee die slaap uit sy oë en maak vir ons koffie. Ek noem hom my pel, want as ek hom my vriend noem, dink mense dalk een of albei van ons is gay. Nie dat ek ‘n probleem het met gay mense nie; self is ek maar net nie gay nie. En my pel ook nie, sover ek weet.

Terwyl ek my beskuit doop, vertel ek vir die pel van my dat elke keer wat ek terugkom Kaap toe, ek meer en meer voel soos ‘n besoeker in die stad. Hy lag my uit, want ek het netmooi nou die dag vir hom gesê hoe moeilik ek dit vind om terug te gaan na ‘n grys-grou Londen toe nadat ek ‘n paar dae spandeer het aan die hange van Tafelberg , neffens die Atlantiese oseaan. Ek probeer vir hom verduidelik dat die twee standpunte nie onversoenbaar is nie: die Kaap word juis vir my al hoe bekoorliker, want ek bevind myself maar net af en toe in die stad, en wanneer ek daar is, konsentreer ek op al my gunsteling plekke en ervarings. Intussen is my huis nou in Londen – dis waar my lewe is, dis waar my kopkussing vir my lê en wag, op my bed, en dis waar my boekrak is. Al is die meeste van my boeke self dan ook in ‘n stoor, daar êrens naby die Kaapstadse lughawe.

Op die ou end spandeer ek nog ‘n idilliese week in die Kaap. Ek sien ‘n paar van my beste vriende. Ek teug aan ‘n bier of twee by die Brass Bell. Ek eet sushi by my gunsteling restaurant in die Waterfront. Ek drink koffie by Vida in Kloofstraat. Dis ‘n artikel op sy eie wat ek nog eendag sal skryf: daar is nie baie koffiewinkels in die wêreld met die energie van Vida in Kloofstraat nie. Om alles te kroon bly die weer die hele week lank mooi; af en toe ‘n bietjie winderig, maar nogtans mooi.

Soveel as wat ek soos ‘n besoeker gevoel het skaars ‘n week tevore, so hartseer voel ek toe ek Paas-Maandagaand die Avis-kar verby die plakkerskampe mik, terug lughawe se kant toe. Soos die Terminator van ouds, groet ek: “I’ll be back…”

Die volgende aand lui die telefoon in my woonstel in Londen. Dis my pel in Tamboerskloof: weet ek van die twee mans wat nou die aand in Bakoven ontvoer is? Het ek gehoor dat hulle naakte lyke langs die M5 in Mowbray gevind is, daar waar ek net nou die dag verbygery het, elk met een skoot in die agterkop… Ek het nie ‘n idee daarvan gehad nie, al het dit het alles afgespeel terwyl ek myself die betrokke aand net mooi om die draai van die toneel af bevind het.

Die nuus van die gewelddadige voorval skok my meer as wat enigiets my in ‘n baie lang tyd geskok het. Dit skok my omdat ek presies kan visualiseer waar die voorval plaasgevind het, en waar die lyke aangetref is. Dit skok my omdat dit alles gebeur het in ‘n area wat ek nog altyd as redelik veilig beskou het. Meer as enigiets skok dit my toe ek uitvind dat Brett Goldin een van die slagoffers was: ek het net nou die dag nog oor hom en sy trawante van die Crazy Monkey-span geskryf. Dis mos maar die menslike natuur: wanneer ‘n bekende persoonlikheid teëspoed optel, voel dit vir die meeste van ons veel erger as wanneer dit “net” Jan Rap en sy maat is wat iets oorkom; ons identifiseer daarmee, want ons “ken” hulle mos.

‘n Dag of twee later hoor ek dat die moorde verband hou met die inisiasie van bendelede op die Kaapse vlakte. Ek skud my kop in ongeloof. As daar berge was in die Londen-omgewing, het ek my oë na hulle opgeslaan. Wat gaan aan in my land? Kan ‘n lewe werklik so min werd wees? Waar gaan dit alles eindig? Hoe kan ‘n plek soos Kaapstad, wat so ongelooflik verleidelik mooi is, so verskriklik onveilig wees? Was Steve Hofmeyr dalk tog reg: is Suid-Afrika werklik besig om deur sy eie gat te val?

Wanneer ek op die ou end hierdie sit en skryf op ‘n triestige Sondagaand in Londen, wonder ek of die helder-oranje son vanoggend geskyn het oor die lede van die verskillende bendes op die Kaapse vlakte. Ek wonder of al daai bendelede vanaand trots is op hulle werk. En my hart gaan uit na al die slagoffers van die onnodige, voortslepende geweld in my land.

Terwyl ek so sit en tob, mis ek nie daardie Kaapse sonnetjie nie. Inteendeel, ek dink met dankbaarheid daaraan dat ek bevoorreg genoeg kon wees om vanmiddag ‘n braaivleis te geniet saam met vriende in Raynes Park, klipgooi van Wimbledon af. Al het dit dan ook beteken dat ek vir ‘n uur of twee lank in die reën moes staan en bierdrink langs die Weber.

En meer as enigiets, sien ek uit daarna om later vanaand my kop neer te lê op my kopkussing.


Voetstoots van Tonder
23 April 2006

Dit help om kort en swart te wees

Die Kaapse Arbitrasiehof het verlede week besluit dat swart mense meer deur regstellende aksie bevoordeel moet word as bruin mense, aangesien bruin mense in die verlede minder benadeel is as swart mense. Uiteraard is hierdie nou ‘n groot besprekingspunt in die land, met die Kleurling-bevolking wat nogeens rede het om te kla dat hulle eers nie wit genoeg was in die ou Suid-Afrika nie, en nou nie swart genoeg in die nuwe Suid-Afrika nie. Mens kan hulle nie blameer nie. En intussen het die tipiese wit persoon wat nie eers ‘n onderhoud kry vir dieselfde werk nie, nie eers ‘n halwe saak nie.

Werknemers wat hulle werkgewers hof toe vat is niks nuuts nie, maar wanneer dit in ander lande gebeur, verskil die redes gewoonlik so ‘n bietjie. Vat byvoorbeeld die geval van ne Ben Sargeaunt-Thomson wat verlede jaar afgekeur is vir ‘n pos by die Nasionale Lugvaartbeheer-Sentrum in Swanwick, Hampshire – nie weens ‘n gebrek aan die nodige kwalifikasies nie, ook nie omdat hy ‘n swak onderhoud gehad het nie, maar omdat hy 2.08 meter lank is (oftewel 6 voet 10, in plein Afrikaans). Dit was blykbaar so hittete of Ben is wel aangestel, maar ongelukkig dop hy toe sy mediese toets: die oorwoë opinie van die dokter was dat Ben te lank sou wees om agter die rekenaarskerms van die beheersentrum in te skuif, en lang ure daar te spandeer.

Verwyt my van ‘n kortmannetjie-sindroom as jy wil, maar dit was nogal vir my ‘n verfrissende storie, aangesien dit bietjie van ‘n uitsondering is op die reël dat lang mense dit oor die algemeen makliker het in die lewe. Almal weet dat langer mans gewoonlik die mooier meisies kry, hulle het ‘n bo-gemiddeld goeie kans in die hoogspring, en hulle hoef tipies nie so hard te werk voordat hulle bevorder word tot die posisie van besturende direkteur nie. Om die waarheid te sê, die enigste professies in die hele wêreld waar dit tot nou toe werklik voordelig was om kort te wees, is dié van perde-joggies en sirkus-dwergies – maar nou kan lugvaartbeheerders oënskynlik ook toegevoeg word tot die lys.

Ben het die Nasionale Lugvaartbeheer-Sentrum gedagvaar, nie vir diskriminasie teen lang mense nie, maar wel vir diskriminasie teen ALLE mans – gebaseer daarop dat mans oor die algemeen langer is as vrouens. Ek verstaan die kêrel se logika, maar ek’s nie seker of dit gaan werk nie: dit klink vir my amper soos iemand wat sy werk verloor omdat hy nie fluks genoeg produseer van 8 tot 5 nie, en dan dagvaar op grond van diskriminasie teen ALLE mans – gebaseer daarop dat mans oor die algemeen nie net langer is as vrouens nie, maar ook luier. Dis tog net te verstane; ons mansmense het immers soveel meer dinge wat ons aandag verg as vrouens – soos rugby, karre, modelvliegtuigies, die Playstation, bierdrink en Pamela Anderson, om maar net ‘n paar voorbeelde te noem. Op die ou end het is daar tog maar net soveel ure in die dag.

Nou sien ek dat die aanbreek van die lente hier in Engeland gevier word met tientalle mense wat kaalmaag op die sypaadjies van Oxford-straat rondloop, met advertensies vir allerlei produkte netjies in veelkleurige liggaamsverf in die omgewing van hulle naeltjies aangebring. So, Ben Sargeaunt-Thomson hoef nie te sleg te voel nie. Hy is miskien heeltemal te lank om ooit aangestel te word deur die Lugvaartbeheer-Sentrum in Swanwick, en gans te wit om enigsins in Suid-Afrika werk te kry, maar daar wag waarskynlik vir hom ‘n groot loopbaan as ‘n menslike reklamebord: dink net hoeveel spasie hy met sy 2.08 meter lyf aan adverteerders beskikbaar kan stel.


Voetstoots van Tonder
16 April 2006

Sunday, April 09, 2006

Om deur jou gat te val

Daar’s baie dinge wat jy van Steve Hofmeyr kan sê, maar jy kan hom definitief nie daarvan verwyt dat hy ‘n selfbeeld-probleem het nie. Hier is byvoorbeeld iemand wat sy eie televisieprogram in Suid-Afrika het, en dan ‘n onderhoud voer met homself; hy kon seker nie ‘n beter onderhoudvoerder in die hande kry nie? Maar as jy kyk na die effek wat die man op ‘n gehoor het, is dit heeltemal te verstane; ek sou ook nie ‘n selfbeeld-probleem gehad het as skares mense so aan my lippe gehang het nie. Of as daar dalk ook so baie meisies was wat gedurig agter my aangeloop het nie…maar dis ‘n ander storie.

Van die eerste oomblik af wat Steve op die verhoog stap, draai hy ‘n saal vol mense om sy pinkie op ‘n manier wat min charismatiese predikers in staat is om te doen. Hy is meesleurend, hy is aansteeklik, hy is verslawend; sy effek op mense is geheel en al hipnoties.

Hoekom het ek ‘n week gelede gaan kyk na Steve Hofmeyr se vertoning in die London Palladium? Goeie vraag. Ek hou nie van sy musiek nie, ek is nie ‘n Blou Bul-ondersteuner nie, en ek identifiseer nie met sy politieke sienings nie. Sy oordrewe intellektuele uitlatings beïndruk my ook nie, maar miskien is ek maar net te dom om dit te verstaan.

Ek sal egter nie die ervaring van verlede Sondagaand verruil vir enigiets in die wêreld nie. Steve Hofmeyr sal jou vermaak al hou jy ook nie van hom nie, en hy sal jou op die rant van jou sitplek laat sit en aandagtig luister na sy standpunte al stem jy hoegenaamd nie daarmee saam nie. En afgesien daarvan, kan jy in elk geval altyd maar net die res van die gehoor ook dophou vir ‘n gevallestudie soos min in mense en hulle geaardheid.

Die hele gehoor dié aand is uiteraard mense soos ek – Suid-Afrikaners sesduisend myl vanaf hulle geboorteland, en derhalwe uitgehonger vir enige iets van die huis af – al is dit dan ook ‘n stokou pakkie NikNaks, of ‘n verkrummelde Peppermint Crisp. Of dalk selfs Steve Hofmeyr.

Wanneer ek by Oxford Circus opdaag, ‘n blok of wat van die Palladium af, begin ek hulle raaksien. Jy hoef nie die Afrikaanse gesprekke te hoor om hulle te identifiseer nie, jy herken hulle sommer aan hulle skoene, hulle haarstyle en die netjiese ronde baardjies om die monde van die mans. Ek bly maar stil en kyk anderpad, want ek’s bang een van hulle begin dalk met my gesels.

Die vertoning begin, en daar’s niks op die verhoog behalwe ‘n groot wit skerm nie. Onder dawerende toejuiging stap Steve op die verhoog. Hy dra ‘n swart pinstripe langbroek en ‘n wit baadjie wat lyk asof hy dit dalk by iemand van die noodhulp geleen het (en geen hemp nie). Die skare gee nie om dat hy so snaaks aangetrek is nie (of dalk hou hulle selfs daarvan?); hordes meisies gil luidkeels.

Steve Hofmeyr begin sing, en die woorde van die liedjie begin om oor die skerm agter hom te rol. Die gehoor skree saam, vanaand karaoke ons tog te lekker. Maar spelling is nie die man se sterkpunt nie – vat byvoorbeeld die volgende sinsnede, reguit van die groot skerm af: “…en ek’s lus en staan veraltyd hier en wag…”.

Veraltyd? Is dit dalk ‘n werkwoord? En hoe presies doen ‘n mens dit?

‘n Rukkie later hou die woorde op, en eensklaps word die skerm gevul met ‘n reeks foto’s en video’s van die kunstenaar. Ek het mos gesê dat Steve nie juis ‘n selfbeeldprobleem het nie; ek aanvaar byvoorbeeld dat hy ook die tipe ou is wat waarskynlik ‘n klomp sertifikate en geraamde foto’s sal uitstal in sy huis se studeerkamer (definitief een saam met Madiba, heel moontlik een saam met Cliff Richard, en dalk selfs een saam met Frik du Preez). Die mense weet nie waar hulle moet kyk nie: na die lewendige produk op die verhoog voor hulle, of na die heelwat jonger weergawe op die skerm, soos wat hy destyds in Agter Elke Man gelyk het?

Na ses liedjies stap Steve vlugtig van die verhoog af. Wanneer hy terugkeer, dra hy steeds dieselfde swart pinstripe langbroek, maar die noodhulp-baadjie is weg; in die plek daarvan dra hy ‘n spierwit noupassende bloes met plooie en afgesnyde moue. Die repertoire verander ook, van simplistiese Afrikaanse soetsappighede, na…Neil Diamond!

Weer eens gaan die skare mal; almal van ons dink mos eintlik dat ons elke liedjie van Neil Diamond uit ons kop uit ken. En al wil ons dit ook nie regtig erken nie, hou ons eintlik in die stilligheid daarvan – net soos wat almal van ons die boeke van Wilbur Smith en Jeffrey Archer verslind het in ons hoërskooldae, al dring ons ook nou in uitgelese geselskap daarop aan dat alles daarvan amper ewe vlak leesstof is as Dan Brown self.

Is dit nie snaaks nie, val Steve Hofmeyr homself in die rede, ‘n Suid-Afrikaner wat in Londen sit en Amerikaanse liedjies sing. Globalisering is ‘n bliksem, sê hy op sy normale welsprekende manier, en die gehoor lê behoorlik soos wat hulle lag – nie omdat dit snaaks is nie, maar net omdat dit ‘n bliksem is. Hulle held kon seker maar na enigiets anders ook verwys het as ‘n bliksem, en almal sou ewe lekker geskater het.

En dan trek Steve los met Sweet Caroline, en dis asof hy die hele gehoor hipnotiseer, want op die ou end skree almal van ons saam “Blou Bul Bo!” op die refrein van die liedjie. Almal is tog seker nie Noord-Transvalers nie? Ekself is in elk geval nie een nie, so hoekom sing ek saam?

Daarna vertel Steve ons van sy reeks Toeka-konserte. Wat Ry Cooder en sy Buena Vista Social Club vir al die geriatriese musikante in Kuba gedoen het, het Steve Hofmeyr mos vir ‘n hele string oud-stryders in die Suid-Afrikaanse musiekwese gedoen deur saam met hulle op te tree in ‘n reeks konserte regoor die land. En dan, die ongetwyfelde hoogtepunt van die aand, wanneer Steve vir Carike Keuzenkamp en Bobby Angel aan die gehoor voorstel.

Daar stap die Kraaines-tannie op die verhoog, en sy lyk nog steeds net soos my ouer sussie, presies soos vyf-en-twintig jaar gelede toe ek haar die laaste keer op televisie gesien het. En ek staan in die London Palladium en handeklap, en ek huil snot en trane, en ek het weet nie regtig presies hoekom ek huil nie. Ek huil omdat ek lekkerkry, ek huil omdat ek hartseer is, ek huil omdat ek verlang, ek huil omdat ek besef hoe vinnig die lewe verbygaan, en ek huil omdat ons die Oukraalliedjie sing. En skielik is dit vir my die mooiste musiek wat ek nog ooit gehoor het.

Na ‘n kort pouse doen Bobby Angel ‘n paar flouerige nommers uit die John Denver-liedjieboek, en die gehoor sing lustig saam met die 69-jarige disleksiese cowboy (soos wat Angel inderdaad na homself verwys). En ek besef: dis nogeens ‘n voorbeeld van Steve Hofmeyr se hipnotiese effek – deur bloot saam met hulle te verskyn, laat hy al hierdie kunstenaars soveel beter lyk. Op sy eie sou Bobby Angel byvoorbeeld nooit eers ‘n honderd kaartjies kon verkoop vir ‘n konsert in Londen op ‘n aand soos vanaand nie, maar op die oomblik is daar 1,500 mense wat hom staande toejuig terwyl hulle probeer om saam met hom te sing. Miskien moet Jacob Zuma ook maar vir Hofmeyr kry om hom te help as die voormalige vise-president dalk eendag ‘n terugkeer tot die openbare lewe wil bewerkstellig. Die twee van hulle deel hoeka ‘n belangstelling in enigiets wat romp dra.

Na tien minute van solo-Bobby is dit Carike Keuzenkamp se beurt om die opgesweepte gehoor te begin vermaak. Sy is duidelik aangedaan deur die oorweldigende reaksie, en vertel ons dat sy nie eers sulke ontvangste by die huis kry nie. Presies, Tannie, dink ek, presies, by die huis is die mense immers nie so uitgehonger vir Afrikaanse vermaak nie. Dan sing sy van ‘n lang, maer, blonde man, van Heidi, en van Sêra, Sêra de Jager… en ek begin ernstig wonder hoekom was ek in die eerste plek so bly om haar vanaand te sien.

Toe is dit weer tyd vir Steve Hofmeyr om self ‘n verskyning te maak, voordat die hipnose van die skare dalk gebreek word. Steeds dra hy dieselfde swart pinstripe langbroek, maar die wit bloes met afgesnyde moue is verruil vir ‘n stywe sweetpaktop.

Hy trek weg met ‘n opruiende politieke toespraak wat die mense selfs meer opgewonde maak as voorheen; ek begin amper wonder of ek by ‘n musiek-konsert in Londen of by ‘n Eugene Terreblanche-vergadering in Wolmaransstad is. Steve vertel vir ons hoe Suid-Afrika besig is om deur sy gat te val. Hy praat van al die neurotiese oumense en apatiese jongmense in die land (dis nou al daai selfde mense wat sy derduisende CD’s ook koop, neem ek aan), en hy vra vir ons om tog net nie ook só te word nie. Bring die trots terug, bulder Steve uit in ‘n stem waarop Ray McAuley sou trots wees. Die opgesweepte skare skree soos een man terug: Ons sal! Ek wonder.

Dan bied die Blonde Hipnotiseur aan om enige vrae van die gehoor te beantwoord. Daar’s duidelik sekere vrae wat hy verwag (soos oor sy luisterryke romantiese geskiedenis), en as hy dit nie kry nie, vind hy ‘n manier om sy pittige one-liners te gebruik in reaksie op enige ander vrae. Jy lees seker nie die koerante nie, sê hy vir een vrou, ek kyk net vir jou, dan word jy verwagtend. En in Steve Hofmeyr se eie woorde is dit ook sy langtermynoplossing vir Suid-Afrika se politieke probleme: ‘n wit bevolkingsontploffing.

Dis tyd om te gaan, en Steve bied aan om met sy ondersteuners te gesels en handtekeninge uit te deel aan die buitekant van die saal. Maar na tienuur in die aand teken hy net op liggaamsdele, waarsku Hofmeyr – as jy hom kan stilhou, en hy pas op die tafel, dan word hy geteken! Ongelukkig het ekself egter geen getekende liggaamsdele huis toe gebring nie; daar was ‘n trein om te vang.

Maar nogtans sal ek die aand veraltyd onthou. En mag onse Steve nooit deur sy eie gat val nie.


Voetstoots van Tonder
9 April 2006

Sunday, April 02, 2006

Definitief nie vir sissies nie

As daar nou iets van Suid-Afrika is waarna ek meer verlang as die wolk wat oor Tafelberg hang en/of die gedreun van ‘n Hoëveldse donderstorm, dan is dit my land se grapkultuur. Hier in Engeland vertel mense mos nie grappe nie; alles is gans te ernstig: daar’s ‘n taak wat afgehandel moet word, daar’s binnekort ‘n trein om te haal, daar’s alweer ‘n Baltiese koue front op pad.

Omtrent die enigste nuwe grappe wat ek deesdae “hoor”, is in die vorm van teksboodskappe gestuur deur een of twee van my Afrikaanse vriende: mikrogolf-humor met ‘n begin, ‘n middel en ‘n punchline, alles verpak in minder as160 karakters op ‘n selfoon. Die meeste van hierdie boodskappe vind ek effe irriterend, party daarvan laat my egter glimlag, en af en toe laat dit my selfs uitbars van die lag. En as ek wel ‘n snaakse een kry, probeer ek dit nie eers meer deel met my Engelse kollegas nie: die mense hier dink bitter selde dis snaaks. Erger nog: die meeste van hulle vind die tipiese Suid-Afrikaanse grappie redelik aanstootlik.

Ons land se sin vir humor is definitief nie vir sissies nie. Suid-Afrikaners wat grappe vertel val tipies met die deur in die huis, ons pak die bul by die horings, ons draai bitter selde doekies om. Dit maak nie saak of dit die Challenger is wat ontplof, ‘n skoolbus wat per abuis in die Westdene-dam beland, of Prinses Diana wat tot haar einde kom in ‘n tonnel in Parys nie… die grappies begin loop nog voordat Riaan Cruywagen klaar is met die Nuus om Agt.

Maar nie hier in Engeland nie: ek wag byvoorbeeld nou nog om selfs een grap te hoor oor laasjaar se bomme op die Underground. Is die mense maar net te ordentlik, of is hulle dalk bang om met die noodlot die spot te dryf? Miskien is hulle senuweeagtig om die Moslems se gevoelens seer te maak? Of het hulle eenvoudig maar net nie veel van ‘n sin vir humor nie?

Nee, dit kan nie dit wees nie, ‘n sin vir humor het die Engelse tog wel. Dis immers die nasie wat gesorg het vir Charlie Chaplin, die twee Ronnies, Monty Python, Fawlty Towers, daai vet ou in die John Smith-advertensies en Victoria Beckham – om maar net enkele voorbeelde te noem.

Maar die Engelse se sin vir humor is anders as dit wat die meeste van ons gewoond is. Hulle idee van ‘n grap is om jou te terg sonder dat jy agterkom, of om jou sleg te sê terwyl jy dink dat jy eintlik ‘n kompliment ontvang. Dis nou behalwe wanneer hulle af en toe letterlik oor hulle eie voete val a la Mr Bean; dit gaan alles oor woordspeling.

Vat byvoorbeeld Cockney Slang. Rol dit al van jou tong af om te praat van ‘n Darren Gough as jy wil hoes, of ‘n David Gower wanneer jy op pad is om te gaan stort?

Daar is natuurlik een van hierdie uitdrukkings met ‘n sterk Suid-Afrikaanse konnneksie wat ek probeer gebruik wanneer ek ookal kan, en dit is om te vra vir ‘n Nelson wannneer dit iemand anders se beurt is om ‘n rondte te bestel in ‘n pub. (Jy weet mos: Nelson Mandela? Stella!). En hier en daar vind jy ook ‘n pun wat goed werk in Afrikaans: nou die dag lees ek byvoorbeeld ‘n brief op Litnet waarin Kleinboer afsluit met ‘n verwysing na Boxer Tabak; ek dink nie die man het van pyprook gepraat nie.

Maar die Boxer Tabak-grappie werk ook net as jy die verwysingsraamwerk het om dit onmiddellik te snap. Dit help nie as iemand dit eers aan jou moet verduidelik nie – en dis presies die punt van enige humor. Die taal self is uiteraard ‘n groot deel daarvan, maar dit gaan ook oor ‘n gedeelde geskiedenis, ‘n geografiese verbintenis, ‘n kulturele oorvleueling. Ek vind dit byvoorbeeld veel makliker om ‘n growwe rassistiese grap met ‘n swart vriend van my in Kaapstad te deel waar albei van ons skater van die lag (ons is lankal verby die rassedebat, en nou kan ons bloot fokus op die rou humor) as om enigsins ‘n soortgelyke reaksie uit te lok by die kêrel wat oorkant my sit in die kantoor in Londen.

‘n Paar weke gelede het ek saam met ‘n oorwegend (ex?) Suid-Afrikaanse gehoor ‘n voorvertoning van die rolprent Tsotsi in Wandsworth bygewoon. Daar’s nie baie humor in Tsotsi nie (tensy jy miskien tsotsi-taal goed genoeg verstaan om party van die puns te snap…ek weet nie). Maar tog het die gehoor plek-plek uitgebars van die lag.

Hoekom? Want daar was etlike growwe kragwoorde, geleen aan Afrikaans, waarvoor geen onderskrifte nodig was nie – mits jy natuurlik in Suid-Afrika grootgeword het (hetsy boerseun, rooinek of swartman). Hierdie tonele was nie eers inherent snaaks nie, maar ons het gelag omdat ons so sterk geïdentifiseer het daarmee, en omdat dit so onverwags na ons kant toe gekom het. Dis amper soos wanneer jy ‘n ou skoolvriend vir die eerste keer in baie jare raakloop: die blote herkenning, en die herinnering wat volg aan die goeie tye wat julle eens gedeel het (selfs al was daar dalk ook slegte tye), lei onwillekeurig tot ‘n breë glimlag….

Nou die dag hoor ek vir die eerste keer van die Crazymonkey-span en hulle fliek getiteld Straight Outta Benoni wat eerskomende Sondag in Hammersmith vertoon gaan word. Toe ek gaan kyk na die video-insetsels op hulle webblad, het ek behoorlik gelê soos ek lag. Hulle styl is om nonsens te praat sonder om ‘n oog te knip of veel te glimlag. Met ander woorde min of meer soos Gordon Brown, en nie veel anders as Koningin Elisabeth self nie.

Gebaseer daarop het ek gedink dat my dead-pan Engelse kollega dalk ook die humor sou verstaan. Maar moenie glo nie. Miskien is dit die aksente wat hom afgesit het, ek weet nie. En hoe verduidelik jy vir ‘n Londen-yuppie van Benoni as hy nog nooit eers in Leytonstone was nie?

Net soos wat ek glo dat Tsotsi heelwat meer aangrypend as jy in Johannesburg grootgeword het eerder as in Surrey, dink ek ook dat jy die mal knape van Crazymonkey effe snaakser sal vind as jy in die eerste plek identifiseer met die Suid-Afrikaanse kultuur en ons land se sin vir humor. Maar hoe dit ookal sy, ek sou wat wou gee om Sondag se vertoning van Straight Outta Benoni by te woon. Ongelukkig gaan ek egter nie in Londen wees daardie dag nie, want ek is op pad Suid-Afrika toe vir ‘n paar dae. Wie weet, dalk hoor ek selfs ‘n goeie grap of twee terwyl ek daar is.

So geniet maar die fliek in my afwesigheid. En drink gerus ‘n Nelson of twee na die tyd.


Voetstoots van Tonder
2 April 2006
< # afrikaans ? >