Sunday, December 17, 2006

Twee vlieë met een klap

Photobucket - Video and Image Hosting

So, dis weer sulke tyd. Tyd vir ‘n blaaskans, tyd om familie op te soek en te veel kalkoen te eet, tyd om die kersboom staan te maak, liggies te kyk in Regent Street en allerlei onnodige persente te koop vir ‘n verskeidenheid mense vir wie se geselskap ons nie noodwendig lus is nie. En natuurlik tyd vir Ouma om laasjaar se geskenkpapier uit die kas te gaan haal en van voor af te gebruik.

Persoonlik is ek nie baie goed met kersinkopies nie. Ek dink ek het ‘n effense gly gevang in die tradisie toe ek ‘n dekade of drie uitgevind het dat die plaaslike winkelsentrum se Vader Krismis eintlik een van ons kerk se ouderlinge is wat agter ‘n kunsmatige watte-baard skuil. Ek het hom – en die res van die kerkraad – tot vandag toe nog nie vergewe nie.

Vandat ek vir ‘n Groot Maatskappy werk, het ek egter ‘n probleem. Elke jaar word daar ‘n groot krismisete vir die personeel gereël, en elke jaar moet elkeen van ons die naam van ‘n arbitrêre kollega uit ‘n hoed trek vir wie daar dan ‘n geskenk ter waarde van tien pond of minder gekoop moet word. Secret Santa, noem die mense van HR dit. In meer polities korrekte omgewings sterf die tradisie blykbaar vinnig uit, maar tot dusver het niemand in ons kantoor nog ‘n probleem daarmee gehad nie.

Dis nou afgesien van myself, natuurlik. Ek koop skaars persente vir my geliefdes, en nou dit. Wat koop mens in elk geval vir iemand wat jy skaars ken? En wat kan jy regtig in die hande kry vir tien pond, behalwe vir ‘n bottel wyn of twee pakkies sigarette?

Maar genadiglik vind ek toe mos uit van die nuwe konsep van liefdadigheids-persente wat in die laaste paar jaar sy kop uitgesteek het. Dis alles gebaseer op die beginsel dat meeste kersgeskenke in elk geval ‘n mors van geld is, en dat mens derhalwe die geld eerder kan aanwend deur ‘n skenking namens iemand anders te maak aan een of ander edele saak soos die hongeres in Afrika of die haweloses in Tsunami-land.

Die persoon namens wie jy die geld in die water gegooi het, ontvang dan ‘n kaartjie waarin die volle besonderhede van die donasie uiteengesit word. So kan die gewer sowel as die ontvanger goed voel, want vir die prys van een donasie sal albei van julle dink dat julle iets vir die minderbevoorregtes gedoen het. Praat van twee vlieë met een klap.

As jy natuurlik ‘n bietjie meer geld het, kan jy seker ‘n stappie verder gaan en die Donker Kontinent verlos van sy bevolkingsprobleem. Ek onthou nog hoe opgewonde ek geraak het toe ek destyds gehoor het dat Madonna ‘n seuntjie van Afrika gaan aanneem: waar kan ek aansoek doen? Ek is nog steeds bitter teleurgesteld dat haar uiteindelike keuse op klein David Banda geval het: persoonlik het ek tog veel meer om aan te bied?

Maar hoe dit ookal sy, daar stap ek toe ook nou die dag af na my plaaslike Oxfam-winkel toe en blaai deur die brosjure wat al die opsies van hulle kersfees-donasies uiteensit. Op die voorblad is daar ‘n foto van die oulikste wolhaar-bok: maak ‘n donasie van twintig pond, en ‘n familie in die suide van Soedan spog binnekort met een in die agtertuin. Maar vermoedelik nie as troeteldier nie; ek dink die idee is dat die bok elke dag gemelk word. Wanneer jy moeg is om hom op te pas, kan jy seker enige tyd besluit om die ding te slag. En as Oxfam aflewerings gedoen het in Australië, was daar dalk ‘n paar ander moontlikhede ook...

Wat my laat wonder: waar is al hierdie bokke op die oomblik? Is daar dalk ‘n hele trop van hulle in ‘n hok, êrens in die buitewyke van die Soedanese hoofstad? Wag elkeen van hulle in spanning vir iemand in Londen om twintig pond te skenk, net sodat hulle in ‘n trok gelaai kan word om die armes se bokloosheids-probleme voor Kersfees te kan oplos? Wie sorg intussen vir hulle?

En sê nou maar net dat die mense van Soedan nie genoeg water het om die bokke aan die lewe te hou nie? Is dit dan nie ‘n effense droë plek, soos die meeste ander woestynlande nie?

Maar daarvoor het Oxfam gelukkig ook ‘n oplossing. In ruil vir ‘n donasie van ‘n skamele vyftig pond, kan jy seker maak dat ‘n hele plaas vir ses maande natgehou word. (Hulle sê nie hoe groot die plaas is nie.)

Daar is ander opsies ook: muskietnette, donkies, buite-toilette, mango-plantjies – voorwaar iets om elke sak te pas. Vir twintig pond kan jy byvoorbeeld ook ‘n hele voorraad kondome koop vir ‘n gemeenskap êrens in Afrika. Letterlik.

Maar Secret Santa het mos ‘n tien pond-beperking, wat beteken dat die keuse eintlik redelik beperk was. Welsyn is duidelik nie vir sissies nie; Afrika is ‘n duur plek om aan die gang te hou.

Op die ou end het ek maar besluit om ‘n sak kunsmis te skenk aan een van daai huishoudings wat nie ‘n bok het om te sorg vir natuurlike bemesting nie. Met ander woorde ‘n k** geskenk. Letterlik.

Die kunsmis het ses pond gekos. Met die oorblywende vier pond het ek pub toe gegaan, ‘n pint en ‘n pakkie tjips gekoop en gemediteer oor die betekenis van Kersfees. Want soos die Engelse sê: liefdadigheid begin immers by die huis.

Heppie Krismis, mense. Geniet die breek, ry versigtig, eet gesond, drink lekker, stuur groete vir die familie.

En maak asseblief tog net Ouma se persente versigtig oop sodat sy die geskenkpapier volgende jaar weer kan gebruik.


Voetstoots van Tonder
17 Desember 2006

Sunday, December 10, 2006

Twee tornado’s in een week

Photobucket - Video and Image Hosting

Goeiste. My woorde van verlede week oor al die gevare van die lewe in Londen was skaars koud, of ‘n jong tornado tref die dorp. ‘n Halfminuut later, en twintig families is nie net dakloos, haweloos, moedeloos. Vader Kersfees is waarskynlik die enigste persoon wat bly is: daar’s ‘n hele klompie skoorstene minder waarteen hy hoef af te klouter; oor twee weke kan hy sommer sy hele slee parkeer in die mense van Kensal Rise se hoofslaapkamers op die tweede verdieping van hulle huise.

Die ergste van alles is egter dat hierdie maar net die tweede grootste ou stormpie is wat Engeland in die laaste week getref het. En die ander een gaan inderdaad veel langer onthou word; daar bestaan nie ‘n sweempie twyfel dat die gevolge daarvan heelwat meer omvangryk is nie. Want waar die tornado van Noord-Londen skaars ‘n honderd mense geaffekteer het, het die ander een ‘n hele nasie in sak en as gelaat.

Jip, dis die Ashes-krieket tussen Engeland en Australië waarvan ek praat. Maandagaand, ‘n uur of wat voor dit tyd was vir die eerste bal van die laaste dag se spel in die Adelaide-toets, het ek ‘n doelbewuste besluit geneem om vroeg te gaan slaap. Wat sou tog die punt daarvan wees om op te bly soos menige vorige nagte en die volgende oggend weer met rooierige oë en ‘n muwwerige kop by die werk op te daag? As daar ooit ‘n vervelige dag se spel sou wees, dan was dit immers hierdie een: Engeland stewig in die saal met ‘n gesonde voorsprong, baie paaltjies staande, en slegs ses ure se spel wat oorbly in die wedstryd.

Moenie glo nie, ‘n tornado was op pad om die Engelse tussen die blaaie te tref. Man vir man het hulle kolwers gaan lê soos ‘n stokou labrador voor ‘n snoesige kaggelvuur. Die res is natuurlik geskiedenis: al wat die Aussies op die ou end nodig gehad het om te doen, was om op te daag. Die klomp van Doer Onder het dan ook verspot maklik gewen: wat aanvanklik gelyk het soos ‘n statistiese onmoontlikheid, was uiteindelik ‘n blote formaliteit.

Ek kon dit nie glo toe ek die volgende oggend opstaan en die skade aanskou toe ek my televisiestel aanskakel nie. Hoe kan dit wees, het ek myself afgevra, dat die span van Australië skielik in volle beheer van ‘n wedstryd is waarin hulle die eerste vier dae lank aanhoudend die onderspit gedelf het. Dit wys jou net hoe interessant krieket by tye kan wees en dit wys jou hoe ongelooflik baie veggees die Aussies het. Meer as enigiets wys dit jou egter eintlik maar net hoe verskriklik vrot die klomp Engelse is.

Want as jy my vra, was die tornado wat vir Andrew Flintoff en sy maters getref het, nie Shane Warne en sy skitterende boulwerk, of die vernuftige kapteinskap van Ricky Ponting nie. Nee wat, dit was veel eerder die Engelse se gebrek aan temperament en swakheid van karakter wat die deurslag gegee het op hierdie droewige dag. Hulle is geweeg en gans en al te lig gevind. Aarde, sluk my in.

Dit help ook nie om ‘n rits beserings of twyfelagtige spankeuses die skuld te wil gee nie. Gaan môre-oggend in kantoor toe en sê dit gerus vir elkeen van jou Engelse kollegas: hulle krieketspan is in een woord pateties, nes hulle kollegas in rugby en voetbal – daar’s eenvoudig nie ‘n ander manier om dit te stel nie. En hulle het nie eers ‘n kwotastelsel om te blameer nie…

Hoe op aarde het hierdie skepsels dit ooit verlede jaar reg gekry om die Ashes te wen?

Ironies genoeg het ek net mooi hierdie week my Engelse bestuurderslisensie deur die pos gekry. Ironies genoeg het dit my meer as ooit laat “Engels” voel toe ek daai pienkerige kaartjie vir die eerste keer in my hand vashou: die klein fototjie laat my nou wel soos ‘n boef lyk (die Bengaalse fotograaf by Piccadilly Circus het aangedring daarop dat ek nie glimlag nie), maar dis tog lekker om te sien hoe my bakkies regonder die Europese vlag sit, die letters “UK” reg in die middel daarvan.

Terloops, as jy die lisensie omdraai, is daar ‘n prentjie wat kompleet lyk soos ‘n outydse Volkswagen Beatle – ek hoop nie dis die enigste tipe kar wat ek wettiglik hier mag bestuur nie? Daar’s verder ook ‘n tweede Beatle (hierdie keer met ‘n sleepwaentjie) asook ‘n kleinerige trokkie (of is dit ‘n gholfkarretjie?).

En net soos ‘n wegneemete van Marks & Spencer se rakke af, het ek ook ‘n vervaldatum: die lisensie is geldig tot een dag voor my sewentigste verjaarsdag, om presies te wees. Ek weet regtig nie of ek solank gaan lewe nie, en verder weet ek ook nie of ek heeltemal so lank op Moddereiland gaan uithou nie. Indien wel, beter die lisensie net geldig wees vir ‘n boot ook, teen die pas wat globale verwarming besig is om die Noordpool te smelt…

Hoe dit ookal sy, die lisensie het gevoel soos ‘n verdere stap in die proses van ankers-gooi hier in Engeland, en dit het my nogmaals laat uitsien na die dag wat ek uiteindelik ook kwalifiseer vir my Britse paspoort (nog ‘n bietjie meer as twee jaar, as alles goed gaan). Dan kan ek ook net deurstap op Heathrow; dan kan ek uiteindelik ophou om te sukkel met ‘n Schengen-visa elke keer wat ek wil gaan ski.

Maar na hierdie week se krieket is ek nie meer so seker nie. Want wie wil nou regtig ‘n Britse paspoort hê en identifiseer met so ‘n klomp verloorders? Ja-nee, die huise van Kensal Rise gaan binne ‘n paar maande herbou wees, maar wat verlede week in die krieket afgespeel het, gaan tot in lengte van dae spook by die Engelse span en hulle ondersteuners.

Miskien moet ek maar eerder gaan vir ‘n paspoort van Kazakhstan.


Voetstoots van Tonder
10 Desember 2006

Sunday, December 03, 2006

Danger pay om in Londen te bly

Photobucket - Video and Image Hosting

As jy ooit gedink het dat mens ‘n lewe in Johannesburg of Kaapstad kan ruil vir een in Londen omdat dit kwansuis veiliger is aan hierdie kant van die water, dink weer.

Toegegee, daar’s betreklik min gewelddadige motorkapings op Moddereiland, grotendeels as gevolg van die feit dat die tipiese boef nie die Congestion Charge kan bekostig wanneer hy in die onlangs-gesteelde 4x4 deur die buitewyke van Westminster probeer ontsnap nie. Verder gaan enige potensiële kaper op die ou end in ‘n ellelange verkeersknoop op die M25 vassit, wat beteken dat die polisie-helikopters ten minste drie ure tot hulle beskikking gaan hê om hom in hegtenis te neem.

Maar daar’s ‘n hele klomp ander gevare hier in Engeland. Indien jy byvoorbeeld gelukkig genoeg is om al die bomme op die moltreine te vermy, gaan twee jong mans in sweetpakke met kappies jou agtervolg wanneer jy laat in die aand van die stasie af huis toe loop. Dan gaan hulle jou oorrompel en met ‘n mes steek net om jou Oyster-kaart in die hande te kry.

Wanneer jy mooi daaraan dink, is dit eintlik die presiese ekwivalent van ‘n motorkaping in Suid-Afrika: ‘n oomblik van geweld, en een persoon se mobiliteit word van hom afgeneem deur iemand anders. Want is dit nie waar vir soveel van ons wat in Londen bly dat ‘n Oyster-kaart eintlik maar die enigste “wiele” is wat ons het nie?

Dis egter nie waar jou probleme eindig nie. As jy gelukkig genoeg is om die aanvanklike insident te oorleef, gaan ‘n ambulans jou oplaai en ‘n halwe dag later eers by die naaste noodeenheid besorg. Hierdie keer is dit nie die verkeer wat die probleem is nie (die Engelse gee nogal pad vir loeiende sirenes en rooi ligte wat flikker op die dak). Maar die voertuig se satelliet-toestel gaan die stomme bestuurder op ‘n skouspelagtige roete via Wallis en die Lake Districts navigeer.

Wanneer jy op die ou end by die plaaslike hospitaal arriveer, gaan die NHS jou ten minste ses maande laat wag voor jy behandel mag word. En as jy uiteindelik gelukkig genoeg is om die binnekant van ‘n saal te sien, gaan die veelbesproke “superbug” jou opspoor en finaal uitwis.

Maar selfs die alledaagse lewe hier op Moddereiland is vol lewensgevaar. Net nou die dag nog was die hamburgers besmet met malkoeisiekte, so onlangs soos ‘n jaar gelede het die Chicken Tikka Masala by jou plaaslike kerrieplek genoeg giftige rooi kleurstof bevat om ‘n hele vloot brandweerwaens mee te sprei, en deesdae is Cadbury se sjokolade vol salmonella.

En nou, om alles te kroon, die grootste gevaar van alles: die een wat jy nie eers kan sien of hoor of ruik nie. Een Russiese spioen te veel wat besluit om in Londen af te tree, en skielik is die hele dorp vol van die radio-aktiewe bestraling. Wat my nogal laat wonder oor die vet ou met die potblou oë wat by die tafel langs my hier in Starbucks sit: is sy pofferige wange so rooi omdat hy maar net gisteraand te veel Vodka gedrink het? Of moet ek bekommerd wees oor die feit dat hy so gloei?

Dis eintlik snaaks as jy daaraan dink: so onlangs soos sewe dae gelede het nie een van ons nog ooit gehoor van Polonium 210 nie, en skaars ‘n week later is al wat leef en beef doodbang dat hulle moontlik met die metaal in aanraking gekom het op die terugvlug na daai stoute langnaweek in Praag. Of dalk Strontium 90 – ‘n ewe gevaarlike element wat homself na bewering net so neffens Polonium op die periodieke tabel bevind…

Om die waarheid te sê was ek sedert laas naweek bekommerd oor ‘n paar van my eie simptome. Die hare op my kop is juis aan’t uitval… maar dan moet ek ook bysê dat die proses eintlik al destyds die naweek voor my matriekafskeid begin het (en ek het genadiglik darem nog ‘n hele klompie om te gaan voordat ek heeltemal bles is).

Maar wat my regtig sleg laat slaap het, was toe ek verlede Sondagoggend so verskriklik naar begin voel het. Aanvanklik het ek gedink dis dalk maar net SASGMA (Suid-Afrikaanse Sport-Geïnduseerde Maag Aandoening), maar toe besef ek dat dit darem seker nie kan wees nie want die Bokke het immers die vorige dag op Twickenham gewen. Om nie eers te praat van die feit dat die Proteas onder aanvoering van Graham Smith (die nie-spelende kaptein) die afgelope tyd vir die arme Indiërs behoorlik begin wys het waar Dawid die spreekwoordelike wortel gegrawe het nie.

Op die ou end het die naarheid en die maagkrampe ‘n volle 48 uur lank aangehou, met ander woorde net mooi genoeg vir die duiwel om op ‘n mens se linkerskouer vas te skop en jou te oortuig daarvan dat jy wel vrot is van die Polonium-bestraling. Genadiglik het die toestand homself egter uitgewoed, en ek leef om die storie te vertel. So, as die Russe my dan regtig wil uitwis, sal hulle maar weer moet probeer…

Nêrens is mens meer veilig nie; miskien gebeur dit selfs môre-oggend wanneer ek by die werk opdaag. Ek het hoeka my vermoedens oor al die nonsens wat ek dag vir dag moet opvreet – nie net van veeleisende kliënte nie, maar ook van moeilike kollegas. En nou besef ek: dit kan nie anders nie, dis Strontium 90!

So, daar’s geen tyd om te mors nie. Voor ek weer siek word, gaan ek onmiddellik vir my baas ‘n epos stuur en aandring op danger pay.


Voetstoots van Tonder
3 Desember 2006
< # afrikaans ? >