Sunday, January 28, 2007

My gat se deksel

Photobucket - Video and Image Hosting

Steek weg die kinders, Pappa is kwaad. Ja-nee, hou my vas, asseblief mense, voor ek iemand te lyf gaan – ek is behoorlik die vieste in. En dit het alles te doen met die onbeheptheid en die dubbele standaarde van die Home Office in Engeland.

Net mooi hierdie week was die mense mos weer in die nuus, dié keer omdat hulle die regsbank versoek het om asseblief minder gevangenisstraf uit te deel omdat die tronke so vol is. Gewoontemisdadigers word derhalwe oor die vingers getik en weggestuur met ‘n stywe bolip; intussen is die Engelse pers in rep en roer. Nodeloos om te sê dat die Britse Minister van Binnelandse Sake (of Home Secretary, soos hulle eufemisties na John Reid verwys) vir die soveelste keer in ‘n paar maande veg vir sy politieke lewe.

En ek gun die man elke oomblik van sy lyding. As jy dink dat Andy Robinson drooggemaak het toe hy laasjaar die Engelse rugbyspan gelei het na ‘n dal so diep dat hulle bes moontlik nooit weer daaruit sal verrys nie, dan is dit nog niks in vergelyking met al die flaters en foefies van John Reid en sy trawante die afgelope tyd nie.

Die 2007-jaar het skaars begin, of ons moes byvoorbeeld hoor hoedat polisie-rekords van nie minder nie as 27,000 Britte wat voorheen in die buiteland vervolg is vir ‘n verskeidenheid oortredings, tussen neus en ore in die Home Office “weggeraak” het. Die ergste van als is dat meer as 500 hiervan ernstige misdade was, insluitende moord, poging tot moord, manslag, roof, verkragting en kindermolestering. Die algehele gebrek aan rekords beteken met ander woorde dat daar geen beheer is oor dit waarmee al hierdie skelms en skobbejakke hulleself nou besighou nie; die vrees is dat elke tweede een van hulle intussen by die personeel van ‘n kleuterskool aangesluit het om voort te gaan met ‘n loopbaan as pedofiel.

‘n Week later kom dit op die lappe dat meer as 40 van daai manne in uniform wat parkeerkaartjies in Londen uitdeel, eintlik onwettig in die land is: hulle werkgewers het oënskynlik “vergeet” om al die nodige dokumente na te gaan in die aanstellingsproses. En dan het HIERDIE MENSE die durf om MY te beboet as ek ‘n minuut of twee te laat by my kar opdaag?

Praat van my gat se deksel!

Toe, nie lank na hierdie brokkie nuus nie, vind ons uit van ‘n veeltal Europese dokters en ander mediese werkers wat vir ‘n verskeidenheid van redes van die rol geskrap is in die land van hulle herkoms, en hulleself nou sonder enige probleme in Engeland bevind. Intussen het die meeste van hulle dan ook by die NHS se personeel aangesluit, of ‘n praktyk begin in ‘n area om die draai van jou en my af.

Maar dis mos hoe dit deesdae werk in ‘n verenigde Europa: enige Pool of Boelgaar of Sloveniër (of is dit Sloveen?) kan oorkom Londen toe en wettig hier begin plak, en verder is daar net mooi niks wat hulle keer om die arbeidsmark ook te betree sonder enige beperkinge nie.

Dis darem maar so anders as in die geval van ons arme, arme, arme Suid-Afrikaners. Moet tog nie vir ‘n oomblik dink dat ons met dieselfde tipe moord kan wegkom nie (en ja, so sterk as wat dit dalk mag klink, bedoel ek dit ten minste gedeeltelik letterlik – as jy kyk na sommige van die voorbeelde hierbo). Dit maak net mooi niks saak hoe bona fide ons is nie, dit maak glad nie saak hoe goed ons opgelei is of hoeveel belasting ons die afgelope paar jaar in hierdie land betaal het of hoe mooi ons glimlag nie: die Home Office sal ons nog steeds laat voel soos indringers en uitgeworpenes by elke moontlike geleentheid.

Vat byvoorbeeld die dag in Maart verlede jaar toe die Britte hulle reëls met betrekking tot permanente verblyf uit die bloute verander het. Skielik is dit nie meer ‘n vierjaarplan nie, maar ‘n vyfjaar-beproewing (die verdien van ‘n Britse paspoort vat natuurlik nog ‘n verdere jaar).

Dit was die eerste bittere pil om te sluk. Nou beteken dit egter dat my HSMP-visa – wat eersdaags verstryk – skielik hernu moet word. En mens sou dink dat dit ‘n formaliteit moet wees: ek het mos immers vier jaar gelede al die Home Office se lang vorms ingevul, graadsertifikate voorgelê, gelde betaal, ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts. Maar moenie glo nie, intussen het hulle die HSMP-skema se reëls ook verander, en skielik moet ek onder meer formele bewys lewer dat ek die Engelse taal behoorlik kan gooi.

Geen probleem nie, het ek aanvanklik gedink, ek het mos darem ‘n klompie jare gelede ‘n meestersgraad gedoen by ‘n universiteit in Engeland. Maar nee, dis ook nie goed genoeg nie, daar word net gekyk na Baccalaureus-grade.

Nee, ek maak dit nie op nie, mense: volgens die Home Office se brosjure kan iemand ‘n Meestersgraad in Engels verwerf sonder dat hy noodwendig die taal behoorlik magtig is – en dit net omdat ‘n Meestersgraad soms binne ‘n jaar of twee afgehandel kan word, in teenstelling met ‘n Baccalaureus-graad wat tipies drie jaar vat.

Het ek nie al voorheen vandag verwys na my gat se deksel nie?

Die bottom-line (sien, ek ken wel ‘n bietjie Engels!) is dat ek volgende Saterdag, wanneer jy lekker lê en laatslaap of park toe gaan vir ‘n draffie, moet inklok om ‘n Engelse toets te skryf. Dít, terwyl die Engelse howe dwelmsmokkelaars vrylaat op John Reid se aandrang, bewese pedofiele aanhou klasgee by kleuterskole, onwettige immigrante voortgaan met die uitdeel van parkeerkaartjies in Londen, en geskorsde dokters uit Pole, Boelgarye en Slovenië steeds pasiënte behandel (ten spyte daarvan dat baie van hierdie mense dalk nog nooit ‘n enkele Engelse woord kon praat in hulle hele lewe nie!).

“Here will be an old abusing of God's patience, and the queen's English” – om Shakespeare se woorde uit The Merry Wives of Windsor te parafraseer…

En nee, ek maak nie ‘n grap nie – die toets is nou die enigste alternatief, siende dat ek my B.Com destyds in Afrikaans gedoen het toe die Universiteit van Johannesburg nog die Randse AFRIKAANSE Universiteit was. Ten einde my HSMP-visa te kan hernu, het ek naamlik nodig om die IELTS-toets (International English Language Testing System) deur te kom op ten minste vlak 6 – wat dit ookal mag beteken. Ek hoop regtig nie dis te moeilik nie.

Een of ander tyd belowe ek om terug te rapporteer. Maar intussen moet jy maar vir my duim vashou: ek hou juis nie baie van eksamens nie.


Voetstoots van Tonder
28 Januarie 2007

Sunday, January 21, 2007

Rassisme as nasionale sport

Photobucket - Video and Image Hosting

Presies ‘n jaar gelede was daar ‘n walvis in die Teems, en by gebrek aan enige ander nuus, het die Engelse media ons vir ‘n volle 48 uur op hoogte gehou van iets wat myns insiens omtrent tien minute se dekking verdien het (sien die Voetstoots-argiewe, 22 Januarie 2006).

Maar dit was net mooi niks as mens dit vergelyk met die storm in hierdie week se teekoppie nie. En ek praat nie van die verwoestende windstorm nie – al was dit dan ook die ergste een om hierdie ou eilandjie te tref in sewentien jaar, en al het dit gelei tot ‘n velerlei sterftes.

Nee, dis die belaglike polemiek rondom die rassistiese voorval op Channel 4 se Big Brother waarna ek verwys.

Die koerante was vol daarvan. Al wat nuusbulletin is op elke televisiekanaal het daarop gefokus. Meer as 50,000 mense het Ofcom (die Britse TV-reguleerder) gebel om te kla. Borgskappe is onttrek. Die storie het selfs ‘n draai gemaak in die Indiese parlement.

Hoekom? ‘n Opgesmukte vrou met twee groot borste en een klein breinselletjie sê ‘n beeldskone Bollywood-prinses sleg op ‘n “realiteitstelevisie”-program met verwysing na haar ras, en skielik is almal van ons ongemaklik? Presies watter weergawe van realiteit wil die mense dan hê?

So, dis sogenaamd “realiteit” as ons ‘n handvol mense in ‘n huis vol kameras en mikrofone opsluit vir ‘n paar weke lank. Dis “realiteit” as hulle allerhande simpel take kry net om die kykers te vermaak. Dis “realiteit” as onse eie Ferdie sy besigheid in die tuin doen in Suid-Afrika se eerste Big Brother-reeks in 2001 – onthou jy nog?

Maar wanneer Jade Goody haar skuldig maak aan rassistiese opmerkings – iets wat seer sekerlik meer van ‘n regte, egte realiteit is as enigiets anders wat ooit in die program afgespeel het – dan is die gort gaar, die kat is tussen die duiwe, en ‘n opstand breek uit wat die Franse Rewolusie na ‘n Tupperware-partytjie laat lyk.

Jade Goody is een van daai tragiese skepsels van die moderne era: iemand wat bekend is bloot omdat sy bekend is, en nie omdat sy ooit enigiets besonders vermag het nie. En sy het oorspronklik bekendheid verwerf juis toe sy die eerste keer aan Big Brother deelgeneem het in 2002. Met ander woorde ‘n professionele celebrity, as daar al ooit een was. Net soos Ferdie, wat bekend is vir daai besigheid in die tuin, meer as enigiets anders.

Derhalwe behoort die Britse publiek ook nie kwaad te wees vir Jade Goody omdat sy ‘n rassis is nie (sy’s ten minste eerlik en reguit – iets waarop iemand soos Tony Blair byvoorbeeld nie eers kan aanspraak maak nie). Nee wat, die Britse publiek moet maar eerder kwaad wees vir hulleself omdat hulle vir Jade Goody gemaak het wat sy vandag is. Hulle het haar gemaak deur keer op keer na haar te kyk op televisie, en hulle het haar gemaak deur oor en oor vir haar te stem. Sy’s die onbeheerbare monster in die slaapkamer van dokter Frankenstein. En nou sit hulle opgeskeep met haar.

Maar dis natuurlik ook nie net in Engeland wat rassisme heeltemal uit verband uit geruk word nie. In ons geliefde Suid-Afrika – waar rassisme tot betreklik onlangs nog ‘n nasionale sport was – het daar juis ‘n week gelede ‘n voorval plaasgevind wat myns insiens amper ewe belaglik is as die Jade Goody-affêre. ‘n Mikrofoon op die speelveld het naamlik verklik hoe Herschelle Gibbs ‘n deel van die skare beskryf as “a bunch of bloody animals” toe hulle een van sy spanmaats ‘n harde tyd gegee het in die toets teen Pakistan. En op grond hiervan is Gibbs skuldig bevind aan die maak van rassistiese opmerkings.

Huh? Watse rassisties opmerkings?

Beledigende kommentaar, ja. ‘n Slegte voorbeeld vir die kinders, beslis. Dalk selfs haatspraak. Maar rassisme?

Ek sou dit dalk verstaan het as die SPCA in opstand gekom het oor Gibbs se uitlatings (dis immers nie mooi om ‘n klomp onbeskofte krieket-ondersteuners te vergelyk met onskuldige diere nie) – maar rassisme?

As gevolg van die feit dat Gibbs egter sy tirade juis op Pakistan-ondersteuners gemik het, vereis die oorsensitiewe en polities-korrekte omgewing waarin ons leef, dat die hele voorval aan die hand van rasse-lyne beoordeel moet word. Belaglik, as jy my vra.

Teen hierdie hele agtergrond was dit derhalwe verfrissend om te sien hoe ‘n Britse regter net mooi hierdie week ‘n heel ander benadering volg met betrekking tot ‘n vermeende voorval van rassisme. ‘n Beskonke man wat gearresteer is en toe in aanhouding na ‘n polisie-dokter verwys het as ‘n “f***ing Paki”, het skotvry daarvan afgekom toe die regter besluit het dat die rasse-aanklag nie meriete het nie. Hoe kan ons dit so ernstig opneem, het die regter gevra, wanneer ‘n dronk man iets sê aan ‘n persoon wat nie net voor-die-hand-liggend professioneel en opgevoed is nie, maar wat verder ook ‘n gerespekteerde lid van die samelewing is én homself bevind in ‘n posisie van gesag relatief tot die arme ou dronkie?

Hoor, hoor, sê ek. Maar die heel beste was die regter se boodskap aan die beskuldigde (en ek haal aan): “Next time call him a fat bastard and don’t say anything about his colour”.

Alhoewel dit seker ook nie sou werk nie – want wat sal Weight Watchers daarvan sê? Mens kan ook nie wen nie.

Dit alles laat my sommer verlang na laasjaar se walvis. Die hele storie het wel tragies geëindig toe die arme ding op die ou end gesterf het, maar ten minste het die mense nie vir Wallie gehaat omdat hy donker van kleur was nie. En selfs al was hy kolossaal, het niemand na hom verwys as ‘n “fat bastard” nie.

Ek hoop die walvis rus in vrede. En mag hy, en al sy maters in die dierehemel, vir Herschelle Gibbs ook vergewe dat hy hulle vergelyk het met ‘n klomp onbeskofte krieketondersteuners.


Voetstoots van Tonder
21 Januarie 2007

Sunday, January 14, 2007

Tjoklits vir die taal

Photobucket - Video and Image Hosting

Ai, weet jy. Hier’s min genoeg geleentheid vir Afrikaners soos ek en jy om lekker ons taal te kan praat op die Moddereiland, en nou moet ek toekyk hoedat ‘n leser swaarde kruis met een van my mede-rubriekskrywers in verlede week se uitgawe van die SA Times – en dit alles oor suiwer taalgebruik, kan jy glo.

Een van die verwyte wat die leser rondslinger is dat daar nie ‘n uitdrukking soos “daar kom ‘n tyd om aan te beweeg” in Afrikaans is nie. Wat my laat wonder: hoekom het ek die frase dan al soveel kere in my lewe gehoor?

OK, dis dalk nie heeltemal handboek-Afrikaans nie. Miskien is dit selfs ‘n aaklige anglisisme. Maar myns insiens is daar tog heelwat erger dinge in die lewe, en ‘n anglisisme is dikwels soos ‘n pak op sy tyd, soos brood en konfyt…

Ekself is ook verlede jaar uitgekryt oor die gebruik van anglisismes en leenwoorde – deur die redakteur van die koerant, nogal. In een van my skrywes het ek naamlik verwys na Frankryk se superieure wynmakers. En die redakteur het glad nie daarvan gehou nie, nie omdat sy iets teen die Franse en hulle wyn het nie, maar omdat sy klaarblyklik ‘n broertjie dood het aan anglisismes. (Sy’s natuurlik ook nie die enigste een nie: net nou die dag het ek en Lam hieroor gesit en redekawel oor ‘n James Boag’s of twee – hy’s definitief aan die redakteur se kant.) (Dis nou Lam wat aan haar kant is; ek dink nie James Boag gee enigsins om nie.)

Die redakteur was naamlik geïrriteerd nadat sy al by meer as een vorige okkasie haar dissatisfaksie geïndikeer het, gebaseer daarop dat hierdie kolom te veel anglisismes bevat op ‘n frekwente basis, in haar opinie. Persoonlik het ek egter nooit gemeen dat haar haar allegasies behoorlik gesubstansieer is nie; ek gebruik net anglisismes as sulks wanneer dit absoluut essensieel is. In my opinie is al haar erupsies in die resente verlede met ander woorde totaal onnodig.

Watse anglisisme, vra ek derhalwe toe ons die dag Frankryk se superieure wynmakers bespreek. Superieur, sê sy vir my – hoekom noem ek dit nie bloot beter, meerdere, of dalk selfs voortreflik nie? Maar dis dan juis ‘n wynterm, antwoord ek haar, daar’s mos een of ander paneel wat kwalifiserende bottels as sodanig sertifiseer. En dan kry die bottel so ‘n goue plakker ter bevestiging.

Of was dit net in die ou dae?

Ek onthou nog my oorlede Oom Kerneels en sy “superieure” wyn, ‘n paar dekades gelede. Die ou omie was ‘n afgetrede kolonel wat baie gehou het van sy laatmiddag-sopie.

Is die Boeing al verby, wou hy altyd weet wanneer ons daar op Stilbaai gaan kuier en hy opstaan van die stoep af om die eerste een van die dag te gaan skink. ‘n Retoriese vraag, as daar al ooit een was. Dan sukkel-sukkel hy na die ou jonkmanskas se kant toe in die hoek van die donker sitkamer: die eerste ware drankkabinet wat ek ooit in ons familie teëgekom het.

As ek die dag aangebied het om te “help”, sou Oom Kerneels soos klokslag die geleentheid aangryp om te spog met die gehalte van sy versameling. Wat ek die heel beste onthou, is al die wynbottels met hulle goue plakkers. Kyk Boetie: ‘n SUPERIEURTJIE, het hy altyd met heelwat genoegdoening en ‘n uitroepteken of twee aangekondig. En dan moes ek maar sekermaak dat ek beïndruk lyk, al het ek in daardie dae nog niks van wyn geweet of enigsins daarvan gehou nie (ek werk nou nog hard om op te vang).

So, jy sien, superieur is definitief ‘n erkende wynterm in suiwer Afrikaans. Oom Kerneels sou tog nie lieg oor so iets, of oorweeg om sy taal te meng soos wat hy gemaak het met sy goedkoop whiskey en soda nie.

Maar die onderonsie tussen my en die redakteur het my tog genoop om die werklike betekenis van ‘n anglisisme te gaan navors. So vind ek toe uit dat ‘n anglisisme ‘n vorm is wat onder Engelse invloed in ‘n ander taal opgeneem word – aldus die ou HAT wat staan en stof versamel op my boekrak.

Presies, roep ek uit, nóg ‘n bewys dat superieur met ander woorde geensins ‘n anglisisme is nie. ‘n Latinisme, miskien (of wat sou die regte term tog wees?) maar definitief nie ‘n anglisisme nie. Want net soos die Engelse, het ons Boere ook maar net die woord (soos vele ander) by ons Romeinse voorouers gaan leen.

Maar wie wil in elk geval suiwer Afrikaans praat? My hoërskooljuffrou het ons byvoorbeeld probeer leer om eerder te praat van ‘n beeldradio as van ‘n televisiestel. Jammer om jou teleur te stel Juffrou, maar ek dink jy het die stryd verloor – as jy nog lewe, is jy waarskynlik die enigste persoon in die hele wêreld wat nog praat van ‘n beeldradio. En jou ambisie was tog so groot om van elkeen van ons ‘n taalpuris te maak…

Wat my verder laat wonder: kan ek hoegenaamd wegkom met ‘n woord soos “puris” uit die oogpunt van die tipiese taalbul?

Daar is nog vele ander voorbeelde in die spreektaal. Vat ‘n woord soos “lift”, byvoorbeeld. Self sal ek dit nooit gebruik wanneer ek ‘n hysbak betree nie, maar as ek saam met iemand huis toe ry, is dit ‘n baie beter woord as ‘n “geleentheid”.

‘n Krismispartytjie is ‘n geleentheid. Jou broer se dogtertjie se doop is ‘n geleentheid. Nelson Mandela se inhuldiging as staatspresident was ‘n geleentheid. Maar ‘n lift is ‘n lift en dis baie gerieflik as een beskikbaar is wanneer jy te veel superieurtjies agter die blad het.

So kan ek aanhou. En ek probeer nie sê dat ‘n mens doelbewus moet angliseer of jou taal moet mieks terwyl daar duidelik ‘n Afrikaanse woord is wat meer toepaslik is nie. Maar as daar wel ‘n Engelse (of Latynse of Hollandse) woord is wat beter op die tong val as die “suiwer” Afrikaans, moet jy vry voel om dit te gebruik – veral as dit die betekenis beter vasvat van dit wat jy wil sê.

Anglisismes is soos tjoklits vir die taal: jy behoort dit vir seker nie te veel te gebruik nie, en niemand sê dis goed vir jou nie. Maar partykeer is jy net lus vir een. En weet jy wat? Dis partykeer bitter lekker om jou skuldig te maak daaraan; om die waarheid te sê, dis sommer superieur.

En dis al wat ek te sê het oor die saak. Dis tyd om aan te beweeg.


Voetstoots van Tonder
14 Januarie 2007

Sunday, January 07, 2007

Skouer aan die wiel

Photobucket - Video and Image Hosting

Terwyl ek so aan die begin van 2007 sit en staar oor die groot oseaan op die laaste dag van my vakansie, is dit ‘n strofe uit een van Johannes Kerkorrel se liedjies wat aanhou om by my te spook:

“Die branders rol iiiiiiin
by die see…
die branders rol uuuuuuit
by die see…”


Wat my aan die dink sit: kan ‘n mens die sinneloosheid van uitspattige nuwejaarsvieringe hoegenaamd beter as dit versinnebeeld? Is daar enigiets meer gepas as die natuurlike siklus van die see om ons te herinner aan die feit dat die 1ste Januarie op die ou end maar net nog ‘n dag is… met die branders wat ongestoord inrol en uitrol… op ‘n druppel water (ha-ha) soos hulle gister gedoen het?

Of dink jy regtig dat jou gewigsprobleem en die oortrokke bankrekening soos mis voor die son gaan verdwyn net omdat jy ‘n paar ambisieuse voornemens geformuleer het in ‘n oomblik van dronkenskap?

En tog is daar uitsonderings; tog is daar mense vir wie die aanbreek van ‘n nuwe jaar inderdaad ‘n heel nuwe lewensfase beteken. Soos wanneer ‘n kind vir die eerste keer skool toe gaan. Of hoërskool toe. Of universiteit toe. Of weermag toe – as jy een van die ongelukkiges is wat terugdateer na die tyd van die Groot Krokodil.

Tyd om skouer aan die wiel te sit. Tyd vir ‘n nuwe roetine, nuwe vriende en ‘n nuwe sillabus. En natuurlik nuwe terries om op te skiet – as jy terugdateer na die tyd van die Groot Krokodil.

My broerskind (kan iemand asseblief ‘n beter Afrikaanse woord uitdink vir “niece”?) staan aan die begin van een van hierdie fases: haar eerste jaar by Helpmekaar Hoërskool het so pas afgeskop – toevallig dieselfde skool waar my puisies en ek ‘n leeftyd gelede opgedaag het vir ons eerste dag in Standerd 6 (of Graad 8, soos hulle vandag daarna verwys).

En tog is dit eintlik glad nie dieselfde skool nie. Nou weet ek dat dit net Grey Kollege se oudleerlinge is wat enigsins waarde heg aan presies waar’n persoon sy of haar hoërskooljare deurgebring het, maar ek sal tog probeer verduidelik…

In my dae het die strengste vorm van Apartheid byvoorbeeld nog by Helpmekaar gegeld – nie net in terme van die rassesituasie wat regoor die land van toepassing was nie, maar ook wat betref die fisiese skeiding tussen seuns en meisies. Die twee geslagte het hulleself bevind in twee afsonderlike skole aan weerskante van Mellestraat – dieselfde naam, selfde wapen, selfde skoollied, maar verskillende personeel en verskillende eksamenvraestelle. Ons het mekaar net gesien wanneer dit absoluut nodig was, soos by atletiekbyeenkomste en garage-partytjies.

En ek dink die feit dat daar net seuns in die klas was, het beteken dat die meeste van ons onderwysers op die ou end ‘n effens kwaaier benadering gehad het tot die sillabus. Tarka het my byvoorbeeld deur die eerste paar jaar van Latyn geslaan, en Piet Britz het my deur Wiskunde gevloek. In die meeste ander skole sou hulle vir seker nie daarmee weggekom het nie, en in die moderne omgewing sou hulle waarskynlik gedagvaar kon word vir hulle styl van klasgee. Maar dit het redelik goed gewerk, al moet ek dit self sê, en tot vandag toe onthou ek nog meeste van my naamvalle sowel as ‘n meetkunde-stelling of twee.

Sedertdien het alles egter verander. Tarka is dood in een van daai “tipiese” Suid-Afrikaanse terreurvoorvalle, Piet Britz het eers aangeskuif en toe afgetree (ek bedoel MENEER Britz, ingeval hy dalk hierdie onder oë kry – jammer, Meneer…), en vandag is die plek skoon ‘n privaatskool. Die ergste van alles is egter dat Apartheid intussen ook geheel en al afgeskaf is. En weer eens verwys ek nie na ras nie: nee, MEISIES is intussen toegelaat tot my ou skool!

En ís die mense deesdae ernstig daar! In die eerste week van Desember vertel my broerskind my van die taak wat sy moet klaar hê voor die eerste skooldag. Maar is dit dan nie veronderstel om nou vakansie te wees nie, wil ek weet. En hoe kan mens in elk geval huiswerk kry by ‘n skool waar jy nog nie eers begin het nie?

Maar lyk my dis hoe dit werk in die rekenaar- en internet-era. Nie net moet sy ‘n taak doen oor een of ander Belangrike Persoon nie, maar sy moet allerlei inligting oor die skool behoorlik onder die knie hê voordat sy vir die eerste keer by die hekke instap. Vir hierdie doeleindes het sy ‘n rekenaarskyf deur die pos ontvang, met ‘n hele multi-media aanbieding vol praatjies, foto’s en video-insetsels. Elke onderwyser het onder andere iets te sê oor homself of haarself: die een se leuse in die lewe is byvoorbeeld “Hou noord” (ek wonder wat presies bedoel die dame daarmee?); ‘n ander een sê “Just do it” (ek annvaar dit kan seker ‘n handige verskoning wees as my broerskind ooit in die hoof se kantoor beland vir een of ander vorm van kattekwaad?).

Dis nou as sy enigsins tyd het om kattekwaad aan te vang. Want teen die pas wat die arme kinders se jaar begin, is hierdie jaar se Graad 8’s waarskynlik al klaar met Einstein se Relatiwiteitsteorie sowel as die versamelde werke van Shakespeare teen die tyd wat jy hierdie lees.

Vir al die ander mense wens ek ‘n rustige 2007 toe. Gegewe dat Saddam Hussein en Shane Warne kort op mekaar se hakke van die toneel verdwyn het, kan die wêreld net ‘n beter plek wees vir almal van ons. Miskien wen Suid-Afrika dalk die krieket-wêreldbeker in Maart…. mens mag mos maar droom, of hoe?

En as daar enigsins twyfel in jou gemoed opkom, hou noord!


Voetstoots van Tonder
7 Januarie 2007
< # afrikaans ? >