Sunday, July 29, 2007

Die kalf is in die put

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

Toe ek grootgeword het, was heilige koeie vir my maar net nog ‘n spreekwoord – soos die agteros wat uiteindelik ook in die kraal kom, en ou koeie wat van tyd tot tyd uit die sloot gegrawe word. Oftewel iets wat van die plaas af kom; iets wat te doen het met ons Boere se geskiedenis op die plaas; iets wat seker maar verband hou met ons liefde vir goeie boerewors.

Eers later sou ek leer dat die uitdrukking egter ontstaan het in die Hindoeïsme en die geëerde plek wat hierdie gewer van melk (en biefstuk) in dié geloof beklee. Nie dat Hindoes die biefstuk-aspek nou juis waardeer nie, natuurlik…

Ek het nog altyd gesukkel om dit te verstaan.

En toe skaf ek laasjaar ‘n boek aan met uitlatings van Mahatma Gandhi. En daar lees ek die volgende:

The Central fact of Hinduism is cow protection. Cow protection to me is one of the most wonderful phenomena in human evolution. It takes the human being beyond his species. The cow to me means the entire sub-human world. Man through the cow is enjoined to realize his identity with all that lives. Why the cow was selected for apotheosis is obvious to me. The cow was in India the best companion. She was the giver of plenty. Not only did she give milk, but she also made agriculture possible…

Cow protection is the gift of Hinduism to the world. And Hinduism will live so long as there are Hindus to protect the cow…

Hindus will be judged not by their tilaks, not by the correct chanting of mantras, not by their pilgrimages, not by their most punctilious observances of caste rules, but their ability to protect the cow.


Ek sal lieg as ek sê dat die skille van my oë afgeval het toe ek hierdie stuk die eerste keer gelees het, maar tog het dit my begrip so ‘n bietjie aangehelp. Vir my is daar ‘n analogie met jazz-musiek: heelparty fundi sal saamstem dat dit die “hoogste vorm” van musiek is; dít, ten spyte daarvan dat baie ander mense daarop sal aandring dat jazz eintlik glad nie behoorlike musiek is nie…

Hoe dit ookal sy, ‘n heilige koei met bees-tuberkulose by ‘n Hindoe-nedersetting genaamd Skanda Vale in Wes-Wallis het die afgelope tyd behoorlik opslae gemaak in die Engelse pers – amper meer as die vloede in Tewkesbury en al daai dokters wat bomme plant (dit reën in elk geval deesdae te veel in Engeland om enigiets anders te plant).

Die Manne Met Die Wit Jasse het naamlik ‘n paar maande gelede besluit dat Shambo die siek koei ‘n Gevaar Vir Die Samelewing is, en die arme dier moes derhalwe uitgesit word. Maar dit was maar net die begin van al die aksie. ‘n Paar appélle het gevolg – onder andere een wat aanvanklik geslaag het omdat Shambo se teregstelling blykbaar onregmatig sou wees ingevolge die Europese Konvensie van Menseregte.

Menseregte, vra jy?

Jip, ek weet ook nie.

Elkgeval. ‘n Paar hoofstukke later in die storie is Shambo toe wel nou die dag tot die dood veroordeel – dít, ten spyte van die ondersteuning van Hindoes van oraloor (mense het self van Nieu-Seeland af gereis in simpatie met die stomme koei). En verlede Donderdag het Shambo toe uiteindelik wel die tydelike met die minder tydelike verwissel.

Soos jy kan dink is die Hindoes hoogs ontsteld. Vreedsame verset was miskien die strategie van Mahatma Gandhi, maar die inwoners van Skanda Vale het nog lank nie gaan lê nie – veral noudat daar sprake is van verdere heilige koeie wat moontlik in die slag gaan bly.

Ja-nee, die kalf is behoorlik in die put.

Maar persoonlik verkies ek om te fokus op die positiewe aspekte van die storie. Dink so daaraan: gegewe dat een standaard-koei elke dag genoeg wind breek om net soveel metaangas in die atmosfeer vry te stel as ‘n trans-atlantiese vlug, beteken dit derhalwe dat die pas van globale verwarming nou heelwat stadiger is te danke aan Shambo se afsterwe.

Met ander woorde die koei se dood is die ysbeer se brood.


Voetstoots van Tonder
29 Julie 2007
< # afrikaans ? >