Thursday, August 16, 2007

Indië in die dinges

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket
Indië is besig om die prys vir sy (haar?) ekonomiese vooruitgang te betaal - op vele fronte.

Vandag lees ek bv. in die Engelse pers oor die Yamuna-rivier in Delhi. Die Hindoes dink die rivier se water was hulle sondes weg; intussen is die wetenskaplikes bekommerd oor die feit dat die rivier eintlik maar net 'n riool-kanaal is.

En die minister wat opgeskeep sit met die probleem?

Haar naam is Sheila Dikshit.

Ek lieg nie - lees hier.

Sunday, August 12, 2007

Die land van melk en heuning (en vinnige kêrels)

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

Vandat die Britse Setlaars oorspronklik in 1820 besluit het om Port Elizabeth toe te seil sodat hulle die Grahamstadse Kunstefees kan bywoon, is ons ou landjie aan die suidpunt van Afrika gereeld in die nuus hier in die Engelse pers.

Net jammer dis gewoonlik slegte nuus.

As dit nie Hugh Masekela is wat die land wil verlaat omdat hy as kunstenaar ingeperk voel nie, is dit kabinetslede wat ge-fire word omdat hulle kwansuis nie langs dieselfde vuur sit as die President nie. Of een van die vele Suid-Afrikaners wat vir die onder-presterende Engelse krieketspan uitdraf wat die span in die steek laat (wat my laat wonder: as Matt Prior dan so sleg is, kan hulle nie maar 'n Ingelsman kry om in sy plek te speel nie?).

Maar na 'n harde week, 'n paar berigte in Saterdag se koerante wat darem 'n Suid-Afrikaner se hart laat warm klop.

Eers was dit Jancis Robinson wat in die Financial Times skryf van die prag en die goeie wyne en restaurante van die Franschhoek-vallei.

En toe sien ek hierdie artikel in The Times se gesondheisbylae, waar 'n Suid-Afrikaanse meisie kla dat haar Engelse kêrel darem maar net te stadig vir woorde is.

Ja-nee, g'n wonder die Britse Setlaars het nooit wou terugkeer Moddereiland toe nie.


Voetstoots van Tonder
12 Augustus 2007

Sunday, August 05, 2007

Cowes week?

Photo Sharing and Video Hosting at Photobucket

So dis weer Cowes Week hierdie week. Oudste regatta in die wêreld. Een van die grootste jaarlikse geleenthede op die Engelse sosiale kalender. Vir sewe dae lank is die hele Isle of Wight in rep en roer.

Maar – en vergewe my asseblief vir die simpel woordspeling – dit was verseker nie die koeie se week in die Wanborough-omgewing in Surrey nie. En dis nie nog ‘n heilige- koei-met-bees-tuberkulose-storie nie. Nee, hierdie keer is dit ietwat erger: ‘n ligte epidemie bek-en-klouseer wat uitbreek, en siedaar, drie arme boere se kuddes word gans en al van kant gemaak.

Wat natuurlik beteken – aan die hand van die onberispelike logika soos uiteengesit in my vorige inskrywing – dat die snelle pas van globale verwarming waarskynlik nou meer onder beheer is as ooit tevore, baie dankie.

Maar moenie glo nie. Want sien, net mooi hierdie naweek lees ek ook dat een of ander wetenskaplike in die VK “bewys” het dat dit nou erger vir die planeet is om winkel toe te loop as om met die gemiddelde voertuig soontoe te ry.

Hoe so, hoor ek jou vra.

Wel, so werk dit: gegewe dat die stappie winkel toe jou ietwat meer gaan uithonger as ‘n paar minute agter die stuurwiel, beteken dit dat jy later vandag heelparty ekstra kalorieë gaan nodig hê om liggaam en siel aanmekaar te hou. En op die aanname dat jy derhalwe vanaand ‘n groter stukkie beesvleis sal wil verorber (en/of dalk selfs ‘n melkskommel gaan afwurg), is die logiese gevolgtrekking dat jou stappie winkel toe uiteindelik bevorderlik is vir die beesboer-industrie.

En ons weet mos nou reeds: elke keer wat ‘n koei burp in Surrey, vrek daar ‘n ysbeer in Groenland.

Ja-nee, soos Pienk Zuit net nou die dag geskryf het, met sogenaamde "navorsing" kan 'n mens ook enigiets bewys.

Maar ten minste het ek nou ‘n verskoning vir die feit dat ek so min oefen. Nie net dit nie, maar ek gaan verder ook ophou melkskommels drink en eerder werk aan my bier-verbruik.

Want sien, dis alles goed vir die “omgewing”.


Voetstoots van Tonder
5 Augustus 2007
< # afrikaans ? >