Sunday, February 26, 2006

Oor kragonderbrekings en suur druiwe

Suid-Afrika se elektrisiteit is op. Die afgelope week was daar so baie kragonderbrekings in die Wes-Kaap dat die mense begin dink het al die robotte is eintlik nou flikkerligte. Terloops, ‘n robot is ‘n verkeerslig (vir daardie Londense lesers wat Afrikaans nie verstaan nie).

Shoprite dagvaar vir Eskom, want al die roomys in hulle winkels het gesmelt, die hoenderborsies het ontvries, en die vrugte het vrot geword. Almal is kwaad; die verkramptes blameer regstellende aksie, en die verligtes se ligte is uit (verskoon die woordspeling). Dis ‘n treurmare.

Met globale verwarming wat die afgelope tyd so baie in die nuus is, is ek egter redelik verbaas dat niemand oënskynlik nog op die goeie nuus gefokus het nie: as gevolg daarvan dat Suid-Afrika se elektrisiteit nou so gereeld afgeskakel word, is ons land se bydrae tot die vrystelling van allerhande skadelike gasse natuurlik skielik soveel minder as voorheen. Wat beteken dat die gat in die osoon langer gaan vat om hand-uit te ruk, die noordpool smelt ‘n bietjie stadiger, en die gemiddelde ysbeer gaan ‘n hele paar jaar langer oorleef. Kan iemand asseblief die Eskom-voorsitter nomineer vir ‘n Nobel-prys of iets?

Gister toe ek in Marks & Spencer tussen al die gevriesde roomys en hoenderborsies rondloop, het ek gedink aan my vriende en familie in Suid-Afrika, en hoe almal van hulle letterlik in die duister moet tas op die oomblik. En ek het veral ook aan hulle gedink toe ek ‘n pakkie druiwe uit die land van my herkoms aanskaf: £2.49 vir 400 gram.

Weet jy hoe min is 400 gram druiwe? Wel, dis nogal min, laat ek jou vertel, omtrent net mooi een handvol. En weet jy hoe baie is £2.49? Wel, dis nogal baie, laat ek jou vertel, met ‘n bietjie geluk kan jy vir daardie prys amper ses biere koop op ‘n special by jou plaaslike Tesco.

Maar wat my die meeste pla van die Suid-Afrikaanse druiwe wat ek in Marks & Spencer koop, is nie die prys nie, maar die feit dat die goed nooit vrot word nie. Ek het byvoorbeeld ‘n paar maande gelede ‘n pakkie daarvan in my yskas vergeet, en dit eers omtrent ses of agt weke later weer ontdek. Geen probleem nie, dit het ewe kraak-“vars” gelyk as die dag wat ek dit gekoop het. Die chemikalieë wat hulle kant moes bring op die lang vlug van Kaapstad Internasionaal af, was uiteraard nog hard aan die werk.

Ek het egter nie die vrede vertrou nie, en ek het die pakkie toe maar buite die yskas gelos sodat ek kon onthou om dit weg te gooi wanneer ek later die week die vullissakke uitsit. Geen probleem nie: ‘n paar dae later was dit steeds ewe kraak-“vars”, selfs na aanhoudende blootstelling aan die kamertemperatuur (wat natuurlik nie noodwendig hier in Engeland altyd so warm is nie, moet ek seker toegee).

Wat op aarde gebruik hulle om die ingevoerde vrugte te preserveer, wonder ek? En hoe lank nog voordat ek die een of ander dodelike kanker as gevolg daarvan ontwikkel?

Ja-nee, as ek dink aan al daardie duur, noodwendig onvarse, soms smakelose, altyd chemikaliese produkte wat uit my eie land uit aangevlieg word Engeland toe, kry ek sommer suur druiwe, en ek wens vir ‘n oomblik dat ek terug was in sonnige Suid-Afrika.

Want kyk, daar’s miskien nie op die oomblik krag in die Kaap nie, maar een ding wat daar hierdie tyd van die jaar is, is fantastiese druiwe. Vra my, ek het sewe jaar lank daar gewoon voordat ek die lang pad na Moddereiland toe aangedurf het, en een van my gunsteling dinge was om elke Saterdagoggend in Maart na die sirkel aan die bopunt van Constantia Nek te ry, en vars hanepoot by die Kleurling met die gehawende lorrie te koop. Terloops, ‘n sirkel is ‘n roundabout, wat losweg ook vertaal kan word as rond-en-bont (vir daardie Londense lesers wat Afrikaans nie verstaan nie).

Met ‘n klein bietjie geluk, is die druiwe wat jy daar langs Constantia Nek se sirkel koop, vroeër die oggend nog gepluk, net so ‘n entjie af met die bult (nogmaals bevorderlik vir die osoon, want daar word nie soveel uitlaatgasse veroorsaak in die kort rit na die verkoopspunt toe nie, laat staan nog ‘n vliegtuigrit oor halfronde heen). Verder wil ek nou nie soos my oorlede oupa begin klink as hy eers pryse uit sy jeugjare begin aanhaal het nie, maar as ek reg onthou kon jy die annerdag nog ‘n boks van seker amper vyf kilogram vir minder as vyftig rand aanskaf – met ander woorde ten minste 85% goedkoper as in Engeland. En nodeloos om te sê dat die druiwe boonop suikersoet is, veral as hulle so bietjie gelerig is van die son se steek.

Die beste van alles is egter dat daardie hanepoot-druiwe behoorlik vrot word, selfs binne-in ‘n yskas, en selfs al gaan die krag nooit eers af nie. Binne ‘n paar dae moet jy maar al hoe vinniger begin eet, want ‘n week later kan jy die goed maar weggooi. Omdat dit nie ver hoef te vlieg nie, is daar heelwat minder preserveermiddels en chemikalieë in ‘n hele boks van Constantia Nek se druiwe as in een korreltjie van Marks & Spencer. Wat beteken dat die mense in die Kaap se kans om eendag kanker te kry, natuurlik ook soveel minder is.

Ja-nee, die les wat hierdie druiwestorie ons leer, is dat dit eintlik nog baie goed gaan in Suid-Afrika – al moet die mense dan ook elke twee minute back-ups maak, en selfs al sukkel hulle om die iPods te laai. Om alles te kroon het hulle nog hierdie week ‘n EKSTRA vakansiedag ook, net om die ANC te gaan instem vir die plaaslike owerhede. Ongelukkig wil my baas hier in Londen my nie daardie dag afgee nie, selfs ten spyte van my Suid-Afrikaanse paspoort; nog ‘n rede vir suur druiwe.

So, as jy dalk toevallig hierdie naweek in Kaapstad is, ry asseblief Saterdagoggend Constantia Nek se kant toe en gaan koop ‘n kissie hanepoot, selfs al is dit ook net vir my onthalwe. Dis nou as daar nie ‘n kragonderbreking is wat dit onmoontlik maak om jou kar agter die elektriese deure van die garage uit te kry nie.

Terloops, ‘n garage kan ook ‘n vulstasie beteken, so wees asseblief versigtig as jy ooit die term gebruik (vir daardie Londense lesers wat Afrikaans nie verstaan nie).


Voetstoots van Tonder
26 Februarie 2006

Monday, February 20, 2006

Maar in Amérika…


Toe ek jare gelede by ‘n internasionale firma in Johannesburg gewerk het, was daar ‘n jong bestuurder wat pas teruggekeer het van ‘n tweejaarperiode in die maatskappy se Texas-kantoor. Ek dink die man was waarskynlik redelik arrogant, selfs voordat hy ‘n klap van die VSA weggehad het, maar by sy terugkeer was hy voorwaar ‘n gesertifiseerde pyn in die nek. In gesprekke sou hy altyd eers luister na ander se opinies, en dan sou hy keelskoonmaak, en sy reaksie inlei met ‘n meerderwaardige “Maar in Amérika…”. Dan moes ons maar net weet: die storie wat volg, sou ongetwyfeld erger, of beter, of groter wees, of sommer al drie tegelyk, in vergelyking met enigiets anders wat tot dusver in die geselskap kwytgeraak is.

Alhoewel ek hierdie kêrel betreklik lanklaas gesien het, het ek nou die dag onwillekeurig aan hom begin dink in die konteks van die wêreld se Vise-Presidente en Adjunk-Staatshoofde wat skynbaar deesdae in kompetisie met mekaar is om te sien wie kan die grootste krater van hom- of haarself maak. Vat byvoorbeeld onse eie Me. Phumzile Mlambo-Ngcuka, sy wat onlangs besluit het om haar hele gespuis te vat om hyskrane te bekyk in die Midde-Ooste. En dit alles natuurlik op die onkoste van die Suid-Afrikaanse belastingbetaler, nogal.

In die Verenigde Koninkryk is niemand seker presies wie die land se Adjunk-Staatshoof is nie, maar beide Prins Charles en Gordon Brown maak seker sterk aanspraak op die titel – afhangend hoe jy daarna kyk. En albei van hulle doen en sê gereeld goed wat grens tussen die belaglike en die lagwekkende; die gevoel wat die twee van hulle in ons wakkermaak is nie regtig respek of ontsag nie, maar eerder daardie tipe deernis wat ‘n mens voel vir ‘n ou labrador, net voordat jy die hond uitsit.

Maar in Amérika… kyk, dáár gooi die mense nou naam weg met styl. Iemand soos byvoorbeeld Vise-President Dick Cheney het nog nooit juis ‘n baie goeie reputasie gehad nie, gegewe dat hy (net soos President Bush self) sy geld gemaak het op ‘n hoogs twyfelagtige wyse in die dae voor sy politieke loopbaan. En meer onlangs was hy die grootste advokaat van die fabel oor Irak se wapens van massa-vernietiging; sover ek weet het die man tot vandag toe ook nie eers om verskoning gevra vir hierdie leuen, en al die onskuldige lewens wat dit intussen gekos het nie.

Asof dit alles egter nie erg genoeg is nie, moet ons nou leer dat Cheney nog boonop ‘n vrot skut ook is: hy rig sy haelgeweer op ‘n 78-jarige prokureur op ‘n afstand van skaars tien treë, en al wat hy kan regkry, is om die teiken te kwes. ‘n Mens kan net sidder as jy daaraan dink dat karakters soos hy op die ou end verantwoordelik is om bykans die hele westerse wêreld in ‘n oorlog te dompel…

En dan sê President Bush nog dat Amerika besig is om die stryd teen terreur te wen. Ek wonder hoe voel Dick Cheney se vriende oor so ‘n stelling: hulle wat nie eers op ‘n jagtog kan gaan, sonder om deur die Vise-President self geterroriseer te word nie; dit alles laat Guantanamo Bay en Abu Ghraib na ‘n grap lyk.

Maar in Amérika… dáár word ‘n mens mos hof toe gevat as jy jou naaste ‘n skewe kyk gee, of as jy ‘n hamburger aan iemand verkoop wat dalk daartoe kan lei dat jou slagoffer ‘n paar pond aansit. So die vraag is: hoe lank nog voordat Dick Cheney gedagvaar word in verband met sy vrot skietwerk? Teen hierdie agtergrond kan ‘n mens egter ook nie Cheney se bedoelings bevraagteken nie: soos reeds vermeld, was die teiken van sy skiet-oefening juis ‘n prokureur, en almal weet dat daar heeltemal te veel regsgeleerdes in Amerika (sowel as die res van die wêreld) is.

In die goeie ou dae is daar in die cowboy-flieks geskop, geskiet en gedonder, en in die Withuis het die mense gevry. Maar in Amérika… dáár is netmooi die teenoorgestelde klaarblyklik deesdae van toepassing, met Brokeback Mountain wat waarskynlik eersdaags ‘n hele tros Oscars gaan inpalm, en die Vise-President wat sy jagmaats een vir een probeer afmaai.

Ja-nee kyk, om jou vriende in die rug te steek is een ding, maar om op hulle los te trek met ‘n haelgeweer, is heel iets anders.


Voetstoots van Tonder
19 Februarie 2006

Sunday, February 12, 2006

'n Stil bek is 'n heel bek


Wanneer mense praat oor dáái spotprente van die profeet Mohammed, sê ek nie veel nie, want van kleins af het ek geleer dat daar nooit rêrig ‘n vreedsame uitkoms is as jy eers oor geloofsake begin stry nie.

Vat byvoorbeeld vir Naas Botha. Ja, ek weet die man was goed, en hy het die Blou Osse gehelp om ‘n kasvol trofeë in te ryg in die tagtigerjare ten spyte daarvan dat hy al hulle balle weggeskop het. Maar dit het nooit beteken dat ek van die kêrel gehou het nie, want ek was ‘n Johannesburger, ‘n Vaalpens, en ‘n Rooibonte, gebore en getoë in ‘n omgewing waar almal vir Transvaal geskree het. Nie omdat hulle die beste was, of die mooiste rugby gespeel het nie – inteendeel, ek het al daai maer jare beleef waar my span vir dekades lank nooit die Curriebeker geruik het nie – maar bloot omdat dit is hoe dit in ons huis gewerk het. Nooit het ek selfs vir een oomblik daaraan gedink om hierdie lojaliteit te bevraagteken nie, en dis presies hoe die meeste ander gelowe vandag nog werk.

Menigmaal het ek in Naas Botha-argumente betrokke geraak, en meer as een keer het ek bloedneus daarvan afgekom. Op die ou end het ek geleer om te leef en te laat leef, en dat selfs die horinghoedjie-brigade van Loftus Versfeld seker ook hulle plekkie in die son verdien. En later in my lewe het ek hierdie beginsel begin uitbrei na verdere gelowe ook, insluitende die Moslems, die Jode, en die Apostoliese laaitie in my Graad 2-klas wat hopelik teen dié tyd al gedoop is.

Daar was inderdaad ook tye wat ek nie net mense van ander gelowe verduur het nie, maar selfs ook saam met hulle aanbid het – soos wanneer Naas Botha van tyd tot tyd in ‘n Springboktrui teen een of ander semi-oor-die-muur rebellespan uitgedraf het.

En ek was nie die enigste gelowige wat uitsonderings gemaak het in met betrekking tot my basiese, fundamentele oortuigings in die lewe nie. Vat byvoorbeeld die Christendom. In my Sondagskoolklas het ek geleer dat dit nie net ‘n probleem is om my naaste se os of sy esel te begeer nie, maar dat mens ook nie ‘n afbeelding mag maak van wat in die hemel daarbo is, of op die aarde hieronder, of in die water onder die aarde nie, en veral dat jy hierdie beelde ook nie mag vereer of dien nie. My Sondagskooljuffrou het my verder geleer dit beteken mens mag nooit eers na prentjies van Liewe Jesus kyk nie.

Dis natuurlik ook nie die enigste prentjies wat ons ontsê is in daardie slegte ou goeie dae van die stokou Suid-Afrika nie. En nee, ek praat nie van die sterretjies op die kaal vrouens se borste in die Scope-tydskrif nie… ek praat van Nelson Mandela. Nie net was die man dekades lank veilig weggebêre in die tjoekie nie, maar geen afbeelding van hom is ooit gepubliseer in enige van die koerante en tydskrifte wat ek in daardie dae te siene gekry het nie. Die paranoïese Broederbond-regering het seker gedink dat elkeen van ons na ‘n kragstasie sou soek om op te blaas as ons sien hoe ‘n terroris agter die tralies dan nou eintlik lyk.

Die eerste keer wat ek op die ou end wel ‘n foto van Nelson Mandela gesien het, was ten tye van my eerste besoek aan Londen. Dit was in November 1987, en ek het by die Africa Book Centre (net om die draai van Covent Garden af) rondgeblaai in ‘n boek wat vir seker in my eie land verban was. Dit het my behoorlik stout laat voel, min of meer soos daai dag toe ek my eerste trek van ‘n sigaret gevat het (ek was sewe jaar oud, en ek het besluit om ‘n oorskiet-stompie aan die brand te steek in die gees van navorsing).

Maar terwyl ek nou weer terug is by my kinderdae, wil ek opnuut fokus op die Tweede Gebod. Toe Andrew Lloyd Webber die fliek Jesus Christ Superstar in 1973 gemaak het, wou ek nie eers die baniere van hierdie rock opera te siene kry nie, want ek was bang dis dalk sonde. Maar twintig jaar later, toe Mel Gibson op dieselfde onderwerp fokus met The Passion of Christ, het selfs my ma daarna gaan kyk – sy wat nooit eers sou droom daarvan om doelbewus te sondig nie

Het die interpretasie van die Tien Gebooie intussen verander? Of het die Christene maar net besluit om ‘n uitsondering te maak omdat Mel Gibson se film ‘n betreklik respekvolle en smaakvolle interpretasie was van die kruisiging op Golgota? Skynbaar is nie eers die feit dat die rol van Jesus Christus vertolk is deur ‘n Australiër, as godslasterlik afgemaak nie.

Dit sal nie help om vandag te skop daarteen dat Moslems minder verdraagsaam is teenoor uitsonderings op hulle ekwivalent van die Tweede Gebod nie; publiseer die spotprente, of neem sterk standpunt in daaroor, op jou eie risiko. Dis eenvoudig nie ‘n konstruktiewe argument om hulle standpunt aan te val in terme van spraakvryheid nie. Ons glo in vryheid van spraak, en hulle nie, en dis dit.

Presies soos die geval Naas Botha.

Nog ‘n voorbeeld. Ek onthou nog die dag, omtrent vyf jaar gelede, toe daar ‘n foto verskyn het op die voorblad van al wat koerant is in Suid-Afrika, waar Thabo Mbeki en Robert Mugabe ewe in hul noppies gelyk het in mekaar se geselskap. As ek reg onthou was dit net na die uitslag van nog ‘n gekookte verkiesing in Zimbabwe, en albei staatshoofde het blommerangskikkings om hulle nekke gedra ter viering van Mugabe se “oorwinning”.

Oraloor het hierdie voorval gelei tot kritiek op Mbeki, en tot vandag toe verstaan meeste van ons steeds nie sy optrede nie. Maar ek onthou nog ‘n vergadering daardie dag, by my destydse werkgewer in sonnige Suid-Afrika, waar ‘n klomp van ons die president se optrede bevraagteken het. Ek wou saamgesels, totdat twee swart kollegas van Soweto-afkoms opgestaan het en vir die res van ons gesê het dat ons whiteys maar net nooit sal verstaan hoe Afrika se kop eintlik werk nie. En let wel, hierdie was twee mense vir wie se opinies ek die meeste ander dae net die hoogste ontsag gehad het. Maar hulle is seker reg: as jy nie self klipgegooi het in Soweto in 1976 nie, sal jy die gees van daardie tyd seker nooit heeltemal verstaan nie.

Jip, net soos Naas Botha.

So, wat my betref gun ek al wat Moslem is vandag sy opinie oor die spotprente, en persoonlik stel ek nie eers veel belang om ‘n kopie daarvan te sien nie. ‘n Stil bek is ‘n heel bek.

Ter afsluiting wil ek dit ook net duidelik maak dat ek nog nooit my naaste se os of haar esel begeer het nie, en ook nie haar chihuahua (wat my laasnag uit die slaap gehou het) nie. Verder het ek lankal vir Naas Botha vergewe vir al sy dade, en ek is nog steeds ‘n getroue Transvaal-ondersteuner – selfs ten spyte van al hulle hartverskeurende vertonings op die speelveld, seisoen na seisoen. Behalwe dat ek nie eers meer heeltemal seker is hoe my span na hulleself verwys nie: Leeus? Highveld Strikers? Gauteng?

Ai, hoe eenvoudig was geloofsake tog nie in my prille jeug nie.


Voetstoots van Tonder
12 Februarie 2005

Sunday, February 05, 2006

Pleks het ek lankal gebel

As jy op soek is na ‘n les of wat oor Engeland, en oor presies hoe die Engelse nasie se koppe nou eintlik werk, hoef jy niks verder te gaan as Kensington Gardens se Lancaster Gate-ingang nie. Aan die binnekant van hierdie hek, so neffens die Italiaanse tuine, is daar ‘n klein standbeeldjie van twee bere wat mekaar omhels. Die konstruksie is veronderstel om ook ‘n waterfontein te wees waar besoekers aan die park hul dors kan les, maar ongelukkig is die krane vir geruime tyd nou al so droog soos ‘n Barbie-pop se neusgate.

Vir lank moes die arme twee bere hulle omhelsing uitvoer agter ‘n groot kennisgewing wat aangedui het dat daar “onlangs” begin is met werk aan die fontein; in die verlede was daar altyd ‘n modderspul, selfs erger as die een by Prinses Diana se veelbesproke gedenk-moeras. Daar was ten minste twee redes vir die probleem: die afvoerpyp wat die oorloop-water moes wegvoer, was voorheen eenvoudig te smal, en die ondergrondse dreineringstelsel het ook nie baie goed gewerk nie.

Die kennisgewing (wat teruggedateer het na die 24ste Oktober 2005) het verder gemeld dat ‘n diamantboor-kontrakteur ingespan sou word om die afvoerpyp onder die fonteintjie te vergroot. Hierdie afvoerpyp sou dan verbind word met ‘n drein van ‘n nabygeleë Tweede Wêreldoorlog-kamp wat eers onlangs weer ontdek is. Daarna sou ‘n steekpalm-heining om die standbeeld geplant word, ten einde die Graad II sertifisering van die hele gedoente behoorlik gestand te doen. En as jy nog enige verdere vrae het, skakel asseblief die Royal Parks Authority by 020 7298 2117.

Iets wat mens verder opval, is die koperplaat aan die voetstuk van die konstruksie. Dié weet te vertel dat die fonteintjie in 1939 opgerig is deur die Metropolitan Drinking Fountain & Cattle Trough Association, ter herdenking van hulle tagtigste bestaansjaar. Die feit dat hierdie organisasie ‘n kwarteeu ouer is as ‘n stad soos Johannesburg – tekenend van die Britte se ryk en hulle trotse geskiedenis – is maar net die eerste van al die baie lesse wat daar te leer is wanneer jy vandag gaan kyk na die twee bere wat op hulle eie fontein staan in passievolle omhelsing.

Nodeloos om te sê dat ‘n verdere les doodeenvoudig handel oor Londen se blootstelling aan die eerste twee Wêreldoorloë (om nie eers te praat van die derde een wat beslis eersdaags gaan uitbreek as gevolg van ‘n paar strokiesprente in ‘n Deense dagblad nie). En dan is daar natuurlik ook ‘n les te leer oor die Engelse se beheptheid met die sertifisering van al wat konstruksie is – elke tweede kleinhuisie op Moddereiland is mos ‘n nasionale monument.

Die belangrikste les gaan egter oor hoe die Engelse werk. Dié van ons wat elke Maandagoggend tot Vrydagmiddag ons brood in hulle aanskyn moet verdien, weet maar te goed hoe lank dit vat om enigiets gedoen te kry in hierdie land. In my vorige lewe, in ‘n kantooromgewing in sonnige Suid-Afrika, sou ek en my kollegas op ‘n gereelde grondslag vinnig vergader, besluit wat gedoen moet word, en siedaar; sigbare resultate sou tipies volg binne ‘n dag, ‘n week, of ‘n maand, afhangende van die omvang van die projek.

‘n Mens sou dink dat dit soortgelyk behoort te werk in ‘n eerste-wêreld omgewing soos Engeland – maar moenie glo nie. Hier moet jy mos eers met elke lid van die vergadering probeer konkel nog voor jy die vergadering self belê, net om seker te maak dat die mense ontvanklik is vir jou gedagtes. En dan vat dit nie een vergadering nie, maar drie, as jy gelukkig is, voordat jy hoegenaamd by ‘n besluit uitkom. Die besluit lei egter ook nie tot aksie nie – nee, jy moet eers seker maak jy kry ten minste vyf kwotasies, asook al die nodige toestemmings van die plaaslike owerheid, die belastinggaarder, die landlord, en die mense van Health & Safety.

En so gepraat van Health & Safety. Maak tog net seker dat dit nie te koud is wanneer jy die dag die besluit wil deurvoer nie. Ook nie te warm nie, noudat jy dit noem. En moenie van enigiemand verwag om op ‘n leer te klim nie – dis veels te gevaarlik. Soos in die geval van Gouelokkies van ouds, moet al die omstandighede net mooi reg wees, anders gaan jou hele span oombliklik huis toe.

So kan ek aanhou: dis nie aldag maklik vir ‘n Suid-Afrikaner om aan te pas in hierdie stadige omgewing nie.

Maar daar is ook ‘n ander les te leer uit hierdie staaltjie van die twee beertjies, en dit gaan oor die Engelse en hulle ordentlikheid. Jy weet mos: hierdie ou nasie sal vir ‘n helse lang tyd net mooi niks vir jou doen nie, maar ten minste maak hulle seker dat jy behoorlik ingelig bly in die tussentyd. Dink maar aan al daai kere wat jy op al op ‘n trein gesit het tussen Swindon en Reading, en een na die ander afkondiging vra om verskoning vir die vertraging wat veroorsaak is deur blare op die spoor, van alle dinge.

Kan jy jou indink dat die Johannesburgse munisipaliteit ‘n amptelike kennisgewing sou aanbring wanneer hulle aan ‘n publieke waterfontein werk vir ‘n paar maande? Is daar enige publieke waterfonteine in Johannesburg?

Nou die dag, met die kennisgewing amper drie maande oud, en nog geen sigbare vordering met die werk aan die konstruksie nie, besluit ek toe om die Royal Parks Authority se nommer te bel – alles in die gees van navorsing vir hierdie artikel. Niemand het geantwoord nie, maar daar was darem ‘n boodskap-fasiliteit. In my beste Ingelse aksent vra ek toe maar hoe lank nog, en ek los my nommer. ‘n Paar dae later kry ek so wrintiewaar ‘n boodskap terug: nee wat, nie meer lank nie, en baie dankie vir my belangstelling.

En lyk my dis al wat nodig was: ‘n week later is die werk gedoen, en die kennisgewing is verwyder. Die steekpalm-heining is nou wel nog nêrens in sig nie, maar ek neem aan die dreinering werk nou. Ongelukkig kon ek dit egter nie bewys toe ek dit gisteroggend op my draffie probeer toets het nie – die waterkrane self is steeds kurkdroog.

As jy dit nog drie maande gee, sal dié seker ook reg wees. Indien nie, belowe ek om weer te bel.


Voetstoots van Tonder
5 Februarie 2006
< # afrikaans ? >