Sunday, August 27, 2006

Kom ons verbeter die geskiedenis

Photobucket - Video and Image Hosting

In reaksie op die hele Darrell Hair sage stel ‘n vriend van my voor dat die krieket-annale sodanig aangepas behoort te word dat hierdie skeidsregter se rampspoedige effek op die sport oor ‘n periode van 14 jaar totaal uitgewis word. En ek moet toegee: dis voorwaar ‘n rein gedagte.

Maar dit het my aan die dink gesit: hoekom dan nou stop by Hair? Ons kan darem tog seker die vlerke heelwat wyer sprei as ons eers die geskiedenisboeke begin aanpas om dit te suiwer van beamptes se kwaadwillige invloed op Suid-Afrikaanse sport, nie waar nie?

Wat van Clive Norling, byvoorbeeld? Wie onthou nog hierdie vet Wallieser wat ons die reeks gekos het toe die Springbokke in 1981 deur Nieu-Seeland gereis op die berugte meelbomtoer?

Ja, lesers wat jonger as omtrent 40 is sal seker sukkel om dit te glo, maar daar was ‘n tyd wat die Springbokke nog behoorlike rugby kon speel. Meer nog, hulle was selfs in staat daartoe om die All Blacks af en toe ‘n loesing toe te dien. En dit nogal op die Nieu-Seelanders se eie bodem ook, om alles te kroon.

Miskien het dit iets te doen gehad met die feit dat meeste van die All Blacks se spelers in daardie dae nog in Nieu-Seeland gebore was, en nie op die res van die Suidsee-Eilande nie. Ook nie in Suid-Afrika nie, noudat iemand Greg Rawlinson se naam noem. Hy wat tien jaar gelede nie eers Durban High School se eerste span kon haal nie.

Maar terug by 1981. Lesers wat jonger as omtrent 40 is sal seker nie onthou nie, maar toe die Suid-Afrikaanse span op daardie rampspoedige dag by Eden Park opdaag vir die derde en beslissende toets van ‘n dramatiese toer, was alles op die spel vir die twee spanne met die reekstelling wat staan op 1-1. Nie dat Ray Mordt juis daardeur ontsenu is nie; voor mens jou oë kon uitvee het die man drie drieë gedruk. En jy moes nog letterlik jou oë uitvee in hierdie dae want die wedstryd het vieruur in die oggend (Suid-Afrikaanse tyd) begin – dit was die dae voor spreiligte. (Terloops, vir die voordeel van lesers jonger as 40: Ray Mordt was ‘n vleuel, met ander woorde amper soos Breyton Paulse, net ‘n bietjie groter en sterker.)

Die feit dat die Springbokke daardie dag te staan gekom het teen ‘n gemotiveerde All Black-span sowel as ‘n vyandige skare asook die Nieu-Seelandse Luftwaffe wat gewapen was met omtrent tienduisend meelbomme, was egter nie die grootste uitdaging nie. Die ergste van alles was dat die skeidsregter ook nog alles in sy vermoë gedoen het om seker te maak dat Suid-Afrika nie ‘n kans staan om die wedstryd te wen nie. Ten spyte daarvan het die Bokke ‘n verbete stryd opgesit, en met die telling 22-22 elk na 80 minute het dit sowaar gelyk asof die Suid-Afrikaners teen alle verwagtinge dalk die reeks sou deel.

Maar moenie glo nie, Clive Norling was nog nie klaar met hulle nie. Hy het nie minder nie as nege minute se beseringstyd nodig gehad het voordat hy ‘n vryskop kon toeken teen Robert Cockrell. Omdat hy ‘n voet in die skrum opgelig het, nogal (dit was wel nog teen die reëls in daardie dae).

En toe die Bokke nie vinnig genoeg terugval na Norling se sin nie, verander die man toe sommer die vryskop in ‘n strafskop – én hy gee dit tien treë nader. Op die ou end was Allan Hewson se skop pale toe min of meer ‘n formaliteit. Net om natuurlik direk daarna gevolg te word deur die eindfluitjie.

Eintlik wil ek nie eers regtig daaroor praat nie. En ek vra om verskoning dat ek jou daaraan herinner het.

Persoonlik vermoed ek egter dat Darrell Hair dalk daai dag op die pawiljoen was by Eden Park; as mens kyk na die man se oordeel oor die jare heen dink ek Clive Norling was duidelik een van sy rolmodelle.

Ja-nee, die geskiedenis sal sommer heelwat beter wees as ons ‘n nuwe blaadjie omslaan en hierdie twee here se invloed op Suid-Afrika se sportreputasie geheel en al uitwis. Soos George Orwell destyds gesê het: the past was erased, the erasure was forgotten, the lie became truth. En almal sal heelwat gelukkiger wees in die proses, wil ek byvoeg.

Die enigste vraag wat nou oorbly is dit: moet ons dalk oorweeg om nou ook dieselfde te doen met Jake White?


Voetstoots van Tonder
27 Augustus 2006

Sunday, August 20, 2006

Hoe ruik triasetoon triperoksied?

Photobucket - Video and Image Hosting

BA Baracus was sonder twyfel een van my gunsteling televisie-karakters van alle tye. Hierdie lid van die A-Team kon mos feitlik enigiets doen: hy was groot en sterk en hy het altyd ‘n plan gehad. Gee die man ‘n tou en twee stukkies kougom, en hy blaas die vyand se vesting op vinniger as wat Macgyver ooit sou kon droom. Chuck Rogers se gat.

Maar daar is een ding waarmee BA Baracus wel gesukkel het, en dis vlieg. Die een oomblik lyk hierdie blok van ‘n man nog asof hy eiehandig die hele All Black-voorry kan aanvat, en kort daarna kerm hy soos ‘n babatjie wanneer hy in ‘n vliegtuig moet klim. En dit was twintig jaar gelede: ek wonder wat hy deesdae sou sê, noudat daar elke keer ‘n kans is dat een van Osama Bin Laden se trawante ook nog langs hom kan eindig op ‘n vlug oor die Atlantiese Oseaan.

BA se noemnaam was natuurlik kort vir “Bad Attitude” – en ek dink dis nogal ‘n goeie alternatiewe naam vir British Airways ook. En dis juis aan BA Baracus wat ek gedink het toe ek ‘n week of wat gelede ‘n vliegtuig bestyg het om ‘n inter-kontinentale reis op die Bad Attidude lugdiens terug Londen toe aan te pak, skaars drie dae nadat die nuutste rondte opwinding by Heathrow aangebreek het. Die rede was nie net die feit dat ek so min lus was vir die vlug nie, maar wel die kwaai antie wat voor my in die tou gestaan het by sekuriteit en ‘n bietjie soos BA Baracus gelyk het.

Nee, sy was nie swart en gespierd met ‘n baard en ‘n Mohican-haarstyl nie. Maar sy het wel al die juwele in haar besit tegelykertyd om haar nek gedra, net soos BA Baracus van ouds. Of so het dit gelyk, in elk geval; ek vermoed dit was dalk net haar truuk om verby die streng beperking op handbagasie te kom. En dis ‘n slim plan: daai sekuriteits-eksperts by Heathrow wat intussen besluit het dat ‘n rekenaarsak mag saamvlieg in die kajuit (maar nie ‘n standaard-aktetas wat ‘n duim of twee groter is nie) het immers nog nooit ‘n verbod op verloofringe, borsspelde en hangertjies aangekondig nie.

Daar was in elk geval nie plek in die tannie se handbagasie vir enige juwele nie: dié was gans te vol van al die sepies en sjampoe wat sy die vorige dag uit die hotel se badkamer gegaps het. En dit was nogal interessant om te sien hoe sy keel opsit toe die mense amper hierdie komplimentêre items by haar konfiskeer. Op die ou end het sy haar sin gekry en sy kon meeste daarvan saamvat, maar nie voordat die wag eers sorgvuldig al wat houer is oopgemaak en daaraan geruik het nie.

Ek kon nie help om te wonder waaroor die kêrel dink terwyl hy so staan en snuif aan botteltjie vir botteltjie met ‘n uitdrukking van groot konsentrasie op sy gesig nie. Was hy en al sy trawante in die laaste paar dae op ‘n crash course sodat hulle nou skielik weet presies hoe ruik triasetoon triperoksied en ander vloeibare plofstowwe? Ek dink nie eers hulle sal die tipiese Blou Bul-ondersteuner, wat elke Saterdag sy nartjies met Klipdrift inspuit, by Loftus Versveld se hekke kan uitvang nie…

Hoe dit ookal sy, die antie met die humeur en die juwele en die gratis koekie seep was een van die gelukkiges. As sy byvoorbeeld uit Londen gevlieg het (eerder as terug soontoe), sou sy natuurlik glad nie weggekom het met enige vloeistowwe in haar handbagasie nie. ‘n Vriendin vertel my byvoorbeeld dat haar duur ontwerpers-lipstiffie hierdie week by Heathrow gekonfiskeer is.

Bid jou aan: lipstiffie! Wat dink hulle wou die stomme vrou daarmee doen? Die vliegtuig skaak en die kaptein dwing om Kaïro toe te vlieg – anders doen sy netnou die man se lippe? Of dalk meng met een van haar mede-passasiers se moedersmelk (wat een van die dae seker net in die oorspronklike houer sal kan saamvlieg – mits ‘n wag vooraf daaraan proe) en die hele vliegtuig opblaas? Ek dink nie eers hierdie vriendin van my weet hoe spel ‘n mens El Kyda nie (sy is blond). Of Al Qaeda. Watookal.

Maar dis die inkonsekwentheid wat my die heel meeste pla. Op die een vlug mag jy nie lipstiffie saamdra nie, op ‘n ander een kom jy weg met sjampoe. ‘n Rekenaarsak is OK, ‘n aktetas nie. Maar die rekenaarsak is ook net aanvaarbaar solank jy hom nie regtig gebruik nie: sodra jy die ding volgepak het, is hy te breed om aan die maksimum spesifikasies te voldoen.

Eet jou vliegtuigkos met ‘n plastiekmes, maar in die besigheidsklas-sitkamer is daar langsteel-sjampanjeglase. Maar het jy al gesien hoeveel skade ek kan aanrig met een van dié as ek die ding eers gebreek het en in die lug begin rondswaai? En wat van daai pen van my wat hulle nog nooit gekonfiskeer het nie – dis immers ‘n baie gevaarliker potensiële wapen as enige naelknippertjie?

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek weet die mense doen net hulle werk. Ek dink net nie hulle base dink aldag ewe mooi voordat hulle die reëls aanpas nie. En ek wed jou dis nie meer baie lank nie, dan’s ons terug waar ons ‘n paar weke gelede was, met al die ou “normale” handbagasie-reëls. Tot daar weer een of ander voorval is, dan begin ons van voor af.

Dink jy in elk geval die tipiese terroris is simpel? Hoekom sal hulle nou probeer toeslaan en die kans staan om uitgevang te word terwyl almal so verskriklik paranoïes is? Ek vlieg môre weer, en ek sien uit na die vlug. As dit ooit waar was dat dit veiliger is om te vlieg as om in jou kar te klim en rond te ry, dan’s dit juis nou.

Nie dat BA Baracus noodwendig daarmee sou saamstem nie. Want soos die man tereg eenkeer opgemerk het: as vlieg dan wel veiliger is as ry, hoekom rus hulle nie motorvoertuie uit met valskerms nie?


Voetstoots van Tonder
20 Augustus 2006

Sunday, August 13, 2006

Erger as die doodstraf

Photobucket - Video and Image Hosting

Dis inderdaad wonderlike nuus dat die Britse geheimediens verlede week in staat was om ‘n grootskeepse terreuraanval te verhoed in die lugweë tussen Engeland en Amerika. Die groot vraag is egter wat hulle nou gaan doen met die twintig vermeende terroriste wat op hierdie opwindende dag gearresteer is. Persoonlik hoop ek van harte dat die bende nie lewenslank in ‘n maksimum sekuriteit-gevangenis gehou gaan word nie; dit sal ook nie eers help om die doodstraf terug te bring vir hulle nie.

Nee wat, die swerkaters verdien om veel meer gemartel te word as dit.

My voorstel is dat hulle die mense opsluit in ‘n lughaweterminaal êrens. Verkieslik een wat betreklik vervalle en klaustrofobies is, met ‘n lae dak en slegte lugversorging, soos Heathrow se Terminaal 2 en 3. So kan die blikskottels hopelik ‘n idee kan kry van hoe dit voel vir die tipiese passasier wanneer sy of haar vlug vir ‘n onbepaalde periode vertraag is.

Laat die klomp vir ure lank toustaan. Gee vir hulle die versekering dat dit nie meer te lank behoort te wees nie indien hulle dalk begin vrae vra, maar maak seker dat jy hulle so oningelig as moontlik hou. Blameer ‘n besigheidsmodel ingevolge waarvan jy meer kaartjies vir elke vlug verkoop as wat daar sitplekke op die vliegtuig is. Maak asof dit die normaalste ding op aarde is.

Stuur die mense om ‘n bietjie belastingvrye inkopies te doen, net om hulle aandag van die situasie af te trek. Gee vir hulle ‘n keuse tussen ‘n klomp onnodige produkte waarin hulle nie regtig belangstel nie. Dring aan daarop dat hulle ten minste een botteltjie oorpryste parfuum aanskaf, plus ‘n vieslike Hermes-das of twee. Asook natuurlik ‘n arbitrêre boek van John Grisham waarvan hulle in elk geval nooit meer as die eerste twintig of dertig bladsye gaan lees nie.

Moet hulle nie uithonger of ryswater voer nie: dwing hulle om vliegtuigkos te eet. Met plastiek-eetgerei wat ombuig wanneer jy probeer om dit te gebruik. Laat hulle kies tussen chicken & beef. Maak seker dat hulle eerste keuse nooit beskikbaar is nie.

Wys dan vir hulle ‘n fliek, en wel op ‘n skerm wat nie veel groter is as ‘n sigaretboksie nie. Gee vir hulle oorfone waarvan die konneksie net werk as jy die kabel heeltyd na die een kant toe trek. Onderbreek die rolprent elke vyftien minute met ‘n belangrike aankondiging van die kaptein. Skakel die stelsel af en konfiskeer die oorfone twintig minute voor die einde van die fliek, net wanneer die romantiese held dit regkry om uiteindelik aan die beeldskone prinses se been te vat en almal wonder waar dit alles gaan eindig.

Moenie vir die mense beddens gee nie: laat hulle sit en slaap op stoele wat kleiner is as die goedkoopste sitplekke in een van die West End se oudste teaters. Skop hulle elke nou en dan van agter af net wanneer hulle begin dut. As dit hulle nie wakker hou nie, organiseer ‘n baba of twee in die nabyheid wat die hele nag lank skree.

Klim elke nou en dan oor hulle om toilet te gaan. Stop hulle egter wanneer dit hulle beurt is om die geriewe te gebruik; oortuig hulle dat dit in die belang van hulle eie veiligheid is om te wag – die kaptein sê so. Gee uiteindelik die groen lig ‘n halfuur later, en laat hulle dan ‘n toilet gebruik wat kleiner is as die gemiddelde council flat se besemkas.

So kan ek aanhou, maar ek dink jy kry die prentjie.

Die belangrikste van alles is egter dat jy die hele groep terroriste op die ou end laat registreer vir ‘n lojaliteitskema. Vertel vir hulle met groot genoegdoening van al die lugmyle wat hulle verdien het wanneer die hele petalje eers klaar is. Verduidelik hoe dit werk: indien hulle bereid is om die hele proses nog sowat vyftien keer te herhaal, sal hulle kwalifiseer om dit nog eenmaal te doen – dié keer heeltemal gratis.

As dít hulle nie vir eens en vir altyd afskrik van hulle bose aktiweite nie, dink ek nie enigiets sal nie.


Voetstoots van Tonder
13 Augustus 2006

Sunday, August 06, 2006

DA! is nie meer daar nie

Photobucket - Video and Image Hosting

In hoeveel plakkershuise was jy al in jou lewe? Ek moet bieg dat ekself nog nie baie van hulle besoek het nie, maar ‘n paar weke gelede het ek dit wel gedoen. Op die hoofstraat van Kensington, van alle plekke.

Dit was inderdaad ‘n plakkershuis met ‘n verskil. Skuins-oorkant die Royal Garden Hotel, daar waar die Springbokke gereeld tuisgaan wanneer hulle in Londen is vir hulle jaarlikse nederlaag teen die Engelse Rosies op Twickenham, is daar naamlik ‘n vervalle ou gebou wat ‘n hele paar jaar al leegstaan. Die vet weet hoekom: die eienaars se verlies aan huurinkomste uit ses onbesette vloere in hierdie gesogte area moet seer sekerlik miljoene beloop.

Photobucket - Video and Image Hosting

Net soos my ma my altyd geleer het dat ‘n mens nie jou kos moet mors nie, is daar dan ook ‘n groepie kunstenaars wat een mooi dag besluit het dat spasie soos hierdie ten alle koste benut moet word – al moet hulle dan ook by die plek inbreek. Wat hulle natuurlik toe weldra gedoen het. Alhoewel die voorbok, ‘n argitektuurstudent genaamd Simon McAndrew, daarop aandring dat dit nie inbraak was nie: hy het maar net eendag toevallig teen die stellasie aan die buitekant van die gebou uitgeklim en per abuis ‘n oop venster gevind. En siedaar.

Maande later het vier van die groepie nog steeds die boonste paar verdiepings van die gebou geokkupeer; intussen het hulle verder ook ‘n galery vir opkomende kunstenaars op die grondvloer oopgemaak. Die kommissie wat hulle gehef het wanneer iemand ‘n kunswerk gekoop het, was presies gelykstaande aan die huuruitgawes, met ander woorde niks, nul, gratis, nie eers ‘n appel of ‘n ei nie.

Die hele projek – dis nou as jy na ‘n plakkerskamp kan verwys as ‘n projek – het bekendgestaan as DA! SQUAT. Maar moenie toelaat dat dit jou afsit nie, dit het niks te doen met Tony Leon en sy Demokraties Alliansie nie, die plek se naam is bloot ‘n afkorting vir Direct Access, Space Quietly Utilised, Artistically, Temporarily.

Toe ek die dag by die galery instap, was die reuk die eerste ding wat ek opgelet het, daai effense mufreuk wat mens kry wanneer jy ‘n ou kelder binnetree. Die reuk van ou boeke in die donker. Die klam reuk van ‘n dromerige verlede. Is dit hoe ‘n snuf in die neus ruik?

Maar toe tref min of meer 6,000 desibels se musiek my en ek word met ‘n skok teruggebring na die naakte werklikheid. Wat se liedjie is dit daai, skree ek vir Simon. Hy check sy ipod wat aan die luidsprekers gekoppel is; dis inderdaad ‘n plakkershuis met ‘n verskil hierdie. Of luister die mense in Khayelitsha ook deesdae so na hulle musiek? Ek vermoed hulle doen waarskynlik. Dis die Mozzarella Swastikas deur ‘n “sanger” genaamd Adam Green, roep hy terug, grynslag op die gesig. Hoe sjarmant, dink ek. Ek moet tog onthou om nooit dié CD te koop nie.

Photobucket - Video and Image Hosting

Ek stap rond en verkyk my aan die kuns. Ek hou veral van ‘n stuk wat lyk soos ‘n verrinneweerde vlieër, gemaak uit ‘n paar ou fotorame en ‘n geskeurde sykous. Intussen staan Simon McAndrew by die galery se voordeur en deel pamflette uit aan die mense wat verby “sy” galery loop. Hy nooi hulle uit na die fliek wat vanaand daar gewys gaan word, sowel as volgende week se “privaat” uitstalling.

Voor ek waai, praat ek vir ‘n wyle met hom. Hy bevestig dat hulle plakkery onder meer as ‘n protes-aksie teen vermorste spasie geïnterpreteer behoort te word, en hy vertel my van die uitsettingsbevel wat die gebou se eienaar (‘n versekeringsmaatskappy) teen hulle laat uitreik het. Nie net dit nie, maar die regter in die distrikshof het nog gelas dat hulle £5,000 se koste ook moet betaal. Daar’s ‘n bak vol kleingeld by die voordeur, alle donasies is welkom. Plakkers is hulle miskien wel, maar hulle is eerbare plakkers, vas van plan om die skuld te betaal.

McAndrew aanvaar dat hulle dae in die gebou getel is, die balju kan enige dag opdaag om hulle uit te skop. Die skrif is aan die muur, net soos wat dit letterlik aan die binnekant van die galery is (alhoewel dit in daai geval veronderstel is om ‘n kunswerk te wees: ‘n collage boodskappe getiteld “30 dinge wat minder vervelig is as teken”).

Wat gaan julle dan doen, wil ek weet. Sal maar sien, kom die antwoord, Londen is vol leë geboue. Dis goed om te weet dat ‘n winsgewende besigheidsmodel soos hierdie nie sommer netso gaan uitsterf nie…

Ek groet die man en wens hom sterkte toe. Op pad uit gooi ek my pennies in die bak by die deur.

En toe, ‘n week gelede, toe ek weer daar verbystap, is DA! weg, die groot glasdeure weggesteek agter ‘n klomp onooglike houtpanele wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. Ek bel vir Simon McAndrew (ons het nommers uitgeruil toe ek hom die dag ontmoet het) – hy’s ‘n plakker wat nie net ‘n ipod het nie, maar ‘n selfoon ook. Asook sy eie webtuiste, noudat ek daaraan dink, selfs al het hy dan ook nie ‘n fisiese blyplek van sy eie nie…

Die balju was toe Dinsdag daar, sê Simon vir my, daar sou geen punt wees om teen te stribbel nie. Was blykbaar heel hoflik, het geduldig gestaan en wag terwyl hulle al hulle besittings uitgedra het op die sypaadjie. Dit alles het amper vier ure gevat.

En wat nou? Die council het vir hulle akkommodasie gegee, ‘n woonstel in Ladbroke Grove. Darem maar ‘n beskaafde klomp, die Engelse, besef ek opnuut. Maar dis net tydelik. So hy moet wikkel, en nog ‘n gebou vind waar hulle volgende kan plak. Om waarskynlik van voor af uitgegooi te word, ‘n paar maande later, dink ek. Tog interessant om te sien hoe party mense lewe.

Klink dit nie vir jou ook redelik opwindend nie? Indien wel, kan jy altyd by die groepie aansluit.

Laat my weet as jy belangstel: ek het nog steeds McAndrew se telefoonnommer.


Voetstoots van Tonder
6 Augustus 2006
< # afrikaans ? >