Sunday, July 30, 2006

Wat op aarde doen ‘n astro-fisikus?

Photobucket - Video and Image Hosting

Jy sal nooit raai wat ek laas Vrydagaand omstreeks middernag gedoen het nie. Moenie worry nie, sensitiewe kykers hoef nie hulle oë toe te hou nie; selfs die kinders kan ook maar verder lees.

Ek het debat toe gegaan. De-wat, hoor ek hoe vra die mense. Jip, de-bat. In Kensington Gardens nogal, van alle plekke. By die Serpentine Galery.

Weet nie wanneer laas jy in dié wêreld ‘n draai gemaak het nie, maar die mense het mos annerdag ‘n yslike groot lugballon daar staangemaak as ‘n semi-permanente struktuur vir die volgende maand of wat. Lyk soos ‘n massiewe gloeilamp wat oor die park staan en glim wanneer jy laat in die aand verby ry in die nagbus. Word gebruik vir allerlei gebeurtenisse terwyl die somer met ons is, vertonings, uitstallings, konferensies, partytjies en dies meer. En debatte. Of, om meer spesifiek te wees met betrekking tot laas naweek, ‘n 24-uur praatsessie tussen ‘n klomp kunstenaars, filosowe en ander weirdo’s. Sesuur Vrydagaand afgeskop, sesuur Saterdagaand eers weer halt geroep. Goeie plek vir ‘n debat, in elk geval, nie meer as ‘n katspoegie van Speakers’ Corner af nie.

Die voorsitters van die hele spulletjie, die manne wat vir ‘n hele nag en ‘n hele dag lank rondgesit en vrae gestel het aan 65 van hulle heel beste vriende, was twee here by name Rem Koolhaas en Hans Ulrich Obrist. Ironies, nie waar nie. Reël ‘n marathon-debat in sentraal Londen, en dan kry jy twee mense wat gebroke Engels praat met ‘n swaar aksent om die ding te lei. Maar op die ou end is dit seker maar tekenend van die Londen van vandag: hier’s in elk geval meer uitlanders as mense; al die Engelse wat nog nie afgetree het in Provence nie, is in Duitsland waar hulle wag vir die voetbalseisoen om te begin sodat hulle hul sokkerboef-aktiwiteite kan hervat.

Koolhaas is die Hollandse argitek wat verantwoordelik was vir die lugballon-struktuur waar die hele geleentheid afgespeel het. Obrist is ‘n kunskenner en kurator uit Switserland. En die res van die sprekers was ‘n mengelmoes mense uit die kreatiewe wêreld; behalwe vir Damien Hirst en Doris Lessing het ek nog nooit voorheen gehoor van enigeen van hulle nie.

Toe ek middernag daar instap, is dit die beurt van Richard Wentworth, Marcus du Sautoy en Pedro Ferreira om die podium in te neem. Wentworth is ‘n beeldhouer, du Sautoy is ‘n Professor in Wiskunde, Ferreira is ‘n astro-fisikus. En waaroor gesels die mense?

Oor niks besonders nie, om heeltemal eerlik te wees. Wat het jou tipiese beeldhouer in elk geval te sê vir die gemiddelde wiskundige of astro-fisikus? As ek hoegenaamd ‘n idee gehad het wat dit beteken om ‘n astro-fisikus te wees, het ek dalk self probeer om dié vraag te antwoord. Persoonlik vermoed ek dat ‘n astro-fisikus waarskynlik min of meer dieselfde doen as ‘n konsultant of ‘n direkteur. Met ander woorde nie verskriklik baie nie, maar dit klink redelik belangrik.

Hulle praat oor die verwantskap tussen vrees en obsessie. Hulle filosofeer oor die skoonheid opgesluit in mislukking. Hulle bespreek hulle gunsteling priemgetalle. Ek gaap en kyk om my rond na die res van die gehoor. Watse tipe mens gaan in elk geval na ‘n debat toe, middernag op ‘n Vrydagaand? Dis nou behalwe vir normale mense soos ekself, natuurlik…

Ek tel die toeskouers: daar’s omtrent 120 van ons. Langs my sit ‘n brandmaer vrou met ‘n zebra-gestreepte langbroek en ‘n sonbril; sy herinner my aan Fransie Geringer. Waarvoor die sonbril, wonder ek, dis laat in die nag? Skuins voor my is ‘n man met uitpeeloë wat lyk soos Lyle Lovett. En hy dra hoed – hoekom? Aan die ander kant van die vertrek is ‘n verwagtende vrou met ‘n groen tent vir ‘n rok. Teen dié tyd behoort jy lankal aan die slaap te wees, dink ek, wat van die arme baba wat besig is om blootgestel te word aan al hierdie snert!

Drie ure en nege sprekers later het ek genoeg pret gehad vir een aand. Ek besluit om te verkas. En dit was aand en dit was môre en dit was die volgende dag. Die res van die naweek is ek moeg – is dit omdat ek laat in die bed gekom het? Of is dit die vervelige gesprekke wat my so uitgeput het?

Maar hoekom het ek dan gegaan, wil jy weet. Vir wat het ek vyftien pond betaal om te sit en luister hoe gesels ‘n klomp mense van wie ek nog nooit gehoor het nie oor onderwerpe waarin ek glad nie belangstel nie, terwyl ek reeds in die bed kon gewees het, vra jy. Goeie vrae, dié.

Ek is self nie so seker nie. Uit nuuskierigheid, miskien, want ek het in die koerant gelees van die geleentheid en ek wou sien hoe dit werk. Of dalk maar net uit pure verveeldheid, en ek sukkel in elk geval om te slaap in hierdie hitte. Moontlik het die gloeilamp-effek van die helder-verligte lugballon my maar net aangetrek, soos ‘n mot na ‘n kers.

Maar op die ou end dink ek eintlik dat ek maar net gegaan het omdat ek kon. Soos ‘n hond wat… jy weet mos.

Ja-nee, dis die tipe ding wat jy kan doen as jy jouself in ‘n plek soos Londen bevind, middernag, op ‘n Vrydagaand, as jy niks anders aan het nie, en jy weet daar’s ‘n klomp weirdo’s om die draai van jou af wat besig is om nonsens te praat oor niks besonders nie.

So, dalk sal ek selfs volgende jaar weer gaan as hulle nog een van dié goed reël.

Miskien moet ek in die tussentyd maar net seker maak presies wat doen ‘n astro-fisikus.


Voetstoots van Tonder
30 Julie 2006

Sunday, July 23, 2006

Die Engelse en hulle reëls

Photobucket - Video and Image Hosting

Wat op dees aarde is dit met die Engelse en hulle obsessie met die vervoer van beeste? Feitlik elke keer wat die sonnetjie sy kop uitsteek agter die wolkbank oor Groot-Brittanje, waarsku al wat koerant is mos dat dit ingevolge die regulasies te warm is om vee te verskuif op die tubes en die busse.

So what? Mense wat klippe gooi, bly nie in glashuise nie; as jy aan hoogtevrees ly, behoort jy nie valskermspring as ‘n sportsoort te kies nie, en sover ek weet het g’n plaasdier enigiets verloor op die London Underground nie.

Of het jy al ooit iemand gesien wat met ‘n bees opdaag by Leicester Square en vra vir twee kaartjies op die Piccadilly-lyn, Heathrow toe? Afgesien van enigiets anders, gaan jy redelik sukkel om jou metgesel by die roltrappe af te kry; dit gaan byvoorbeeld ‘n neukery afgee wanneer mense probeer verbysteek en Blommetjie die Koei se is nie in staat om ver genoeg regs te hou vir haar boude om uit almal se pad te bly nie.

Maar dis wel nogal interessant dat die Health & Safety reëls in hierdie land – wat so verskriklik baie te sê het oor minimum temperature, en selfs reguleer hoe hoog ‘n mens teen ‘n leër mag uitklim voordat jy ‘n stellasie moet laat bou wanneer jy wil hê dat ‘n gloeilamp vervang word – so tjoepstil is oor die hitte. En dit gaan nie net oor publieke vervoer nie: wanneer die hoogsomer so stomend raak dat selfs die treinspore begin smelt, moet jy ook maar net opsnork in jou warm kantoor. Ja-nee, lugverkoeling is voorwaar ‘n voorreg in Engeland en geensins ‘n reg nie. As jy wil, kan jy verlof insit en by die huis verder gaan ly, maar die regulasies gaan jou g’n niks help nie.

Toe die lugverkoelingstelsel in ons kantoor verlede week inkonk en ek uitvind van Health & Safety se doodse stilswye in hierdie verband, het dié stukkie “logika” my so ontstel dat ek in ‘n hewige argument met my baas betrokke geraak het oor die Engelse en hulle simpel reëls. En ek weet nie of dit die hitte was wat hom ook aangetas het nie, maar ek dink nie die man het dit met die nodige diplomasie en grasie hanteer nie; sonder om te aarsel, het hy my reguit hel toe gestuur. Ek het nogal uitgesien na die trip: ek’s redelik seker dat dit dáár heelwat koeler sou wees as wat dit dié betrokke middag in Londen was.

Uiteindelik het ek besluit om die kantoor te verlaat en gym toe te gaan; daar het ek toe maar in die sauna gaan sit totdat ek op die ou end genoegsaam afgekoel het.

Intussen is een van die dames wat saam met my werk swanger. Die anderdagmôre stap die man van HR by haar kantoor in met ‘n vraelys wat hy oënskynlik van Health & Safety af kom. Is daar dalk blootstelling aan verbode chemikalieë of gifstowwe wat enigsins ‘n nadelige uitwerking kan hê op die ongebore kind, wil hy onder meer weet. Ek hoop regtig nie so nie – maar wat van die res van ons? Is daar dan niemand wat omgee oor al die lewensgevaar waarin ek myself dag vir dag in die kantoor bevind nie? Wat van my baas en sy gereelde effek op my bloeddruk?

Dit het egter geheel en al die koek gevat toe ek nou die dag lees oor die lot van die Stockwell-skerpskutters, ja hulle wat ‘n jaar gelede verantwoordelik was vir die onnodige dood van ‘n onskuldige jongeling uit Brasilië. Aanvanklik het dit mos gelyk asof niemand aan die pen gaan ry vir hierdie ligte misverstandjie nie, maar toe kom dit op die lappe dat die verantwoordelike partye hulself dalk tog in die warm water kan bevind… en dít op grond van die Health & Safety regulasies.

Praat van die Engelse en hulle subtiele sin vir humor. Dis met ander woorde geen probleem as jy van jou arbeiders verwag om in te kom werk toe in ‘n bus of ‘n tube waar die temperature styg tot 40 grade Celsius of meer nie, en die kantoor se lugverkoelingstelsel kan ook maar breek sonder dat jy nodig het om iets vir hulle te doen. Maar skiet per ongeluk iemand dood in die uitvoering van jou pligte, en daar is wel ‘n kans dat jy dalk net te ver gegaan het in die aantasting van sy of haar gesondheid en veiligheid.

Dankie tog daarvoor, dit alles behoort my heelwat lekkerder te laat slaap vanaand. Behalwe dat ek op die dood nie aan die slaap kan raak nie.

Dis net te bleddie warm.


Voetstoots van Tonder
23 Julie 2006

Sunday, July 16, 2006

Salig is dié wat niks weet nie

Photobucket - Video and Image Hosting

Italië het miskien voetbal se Wêreldbeker ingepalm, maar Suid-Afrika sit vandag met iets veel beter: die wêreldkampioen haarkapper, aldus ‘n koerantberig wat ek verlede week raakgelees het. Dink so daaraan: voetbal is miskien ‘n redelik internasionale sport met deelnemers van feitlik regoor die aardbol, maar dit sal nooit as te nimmer kan kers vashou by haarkappery nie.

Vat Antarktika, byvoorbeeld, ‘n plek is waar dit redelik moeilik is om ‘n sokkerwedstryd aanmekaar te slaan. Om mee te begin, gaan jy sukkel om genoeg mense bymekaar te kry vir twee spanne asook drie beamptes en iemand om halftyd die lemoene aan te dra, laat staan nog die toeskouers. Behalwe daarvoor is dit in meeste dele van die kontinent ook nie maklik om ‘n voetbalveld se wit buitelyne raak te sien nie. Dit alles dra by daartoe dat hulle in 2010 waarskynlik weer nie gaan kwalifiseer vir die Wêreldbeker-toernooi nie.

So kan ek aangaan. In die Sahara is daar nie genoeg gras vir ‘n voetbalveld nie, in Nieu-Seeland reën dit te veel en in Mosambiek is al die stadions wat daar voorheen was vir geruime tyd nou al vol landmyne geplant. So kan ek aangaan; die punt is bloot dat voetbal nooit regtig ‘n volwaardige internasionale sport sal kan wees nie.

Maar haarkap… daar is nou vir jou ‘n ander storie. Feitlik almal van ons het immers hare, en dit groei gedurigdeur, elke oomblik van die dag en nag. Teen die tyd wat jy hierdie skrywe klaargelees het, liewe leser, gaan jou eie hare derhalwe effe langer wees as wat dit tans is (dis nou tensy jy moontlik Zinadine Zidane is, wat ek vermoed heel waarskynlik nie die geval is nie). En dink net hoe gereeld moet jy jou hare sny, waar jy jouself ookal bevind in die wye wêreld – ja, selfs al is dit dan ook in Antarktika of Mosambiek.

Dit is hoekom die storie van Xoli Ntshilinga my so beïndruk het: beide die BBC en The Times het verlede week berig hoe hierdie 40-jarige haarlose haarkapper uit die Transkei as kampioen uit die stryd getree het in die Wêreldkampioenskap vir Haarkappers wat onlangs in Moskou gehou is. Of moet ek eerder na hulle verwys as haardoeners?

Ek kon nie help om te wonder nie: hoe werk hierdie kompetisie? Kyk hulle wie kan die meeste mense se hare sny binne sê maar dertig minute, amper soos in die geval van die internasionale skaapskeerkampioenskappe? Gaan dit dalk eerder oor uithouvermoë, met deelnemers wat vir periodes van 24 uur of langer onophoudelik met kam in die een hand en knipper in die ander staan en werskaf? En hoekom word dit alles nie regstreeks op SkySports uitgesaai nie?

Hoe dit ookal sy, ‘n wêreldkampioen is ‘n wêreldkampioen, en daarom was ek aanvanklik heel trots toe ek lees van Xoli, veral in hierdie dae wat die Springbok in sak en as verkeer. Maar tog het ek besluit om bietjie navorsing te doen. En groot was my ontnugtering toe ek op die ou end uitvind dat onse Xoli nie regtig as algehele wenner van die kompetisie uit die stryd getree het nie – want daar bestaan inderdaad nie so ‘n toekenning nie. Maar sy het wel een van die Wêreldkampioenskap se 128 afdelings gewen.

Miskien moes hulle dit eerder die Olimpiese Spele vir Haarkappers genoem het: daar is mans- en damesafdelings, vir juniors sowel as seniors, in allerlei style en klassifikasies. Soos wat ek deur al die verskillende kategorieë geblaai het, het ek later begin verwag dat daar waarskynlik ook ‘n vyfkamp, gemengde dubbels, ‘n paar aflos-items en ‘n onderwater-resies ook sou wees. Asook verskillende gewigte, soos in boks.

Ek het nie ‘n idee hoe kompeterend die “Black Trophy Hair by Night”-kategorie was waarin Ntshilinga die oorwinning behaal het nie, maar wat ek wel kan rapporteer is dat Suid-Afrikaners ook die tweede en derde plek agter haar ingeneem het. Sowel as die sesde en sewende plek. En verder was een van die drie beoordelaars in hierdie eksklusiewe afdeling ook van Suid-Afrika. Moet ek lag oor al ons land se goeie haarkappers, of moet ek huil oor die feit dat ek oënskynlik so mislei is deur die Engelse media se ooropgewonde beriggewing?

Dit alles het my laat dink aan my kinderjare toe Jan Wilkens een van my helde was: hy wat deur die destydse Suid-Afrikaanse media aan die publiek opgedis is as die Rofstoei-Wêreldkampioen in die Super-Swaargewigafdeling. Dit was in die vroeë dae van televisie in Suid-Afrika – baie lank voor die ontstaan van die WWF – en elke paar maande is daar nog ‘n paloeka uit een of ander uithoek van die wêreld ingevoer om teen Jan te kom verloor.

En weet jy wat? Ek het al die nonsens geglo, en ek was bitter trots daarop; daar het selfs ‘n dubbelbladfoto van onse Jan met sy kampioen-gordel uit die Huisgenoot teen my muur gepryk. Eers heelwat later moes ek uitvind dat Wilkens weliswaar net wêreldberoemd was in sekere dele van Suid-Afrika, dat die “sport” korrup is, en dat elke land ‘n internasionale liggaam het met sy eie “kampioen”. En as gevolg van ons land se sportisolasie sou die werklike wêreldkampioen – as daar ooit een was – in elk geval nie eers Suid-Afrika toe gekom het om sy titel te verdedig nie. Ek het eers nou die dag oor die teleurstelling gekom.

Partykeer wens ek dat ek nooit grootgeword het nie, en ek wens dat die taai klappe van die lewe my minder sinies gelaat het. By sulke tye verwens ek selfs die internet, want dit het die aardbol veels te klein en oor-ingelig en onromanties gemaak. Dertig jaar gelede het ons nie nodig gehad om te gryp na Harry Potter om weggevoer te word na ‘n sprokieswêreld nie, ons het bloot na die SAUK se nuus geluister. En ons het vas geglo in Jan Wilkens en Vader Kersfees en die Paashasie en die tandemuis en PW Botha.

“Ignorance is bliss” sê die Engelse, en ek dink hulle is reg: salig is dié wat nooit uitvind hoe die lewe werk nie, want hulle sal nie ontnugter word nie.

Al wat ek nou nog wonder, is waar kan ek ‘n plakaat van Xoli Ntshilinga kry om teen my muur op te hang?


Voetstoots van Tonder
16 Julie 2006

Sunday, July 09, 2006

So kan dit waaragtig nie aangaan nie

Photobucket - Video and Image Hosting

As jy nou nou al ooit ‘n geween en ‘n gekners van tande aanskou het, moet jy bietjie ‘n kopie van verlede Donderdag se The Times onder oë kry. In ‘n volbladartikel braak Alastair Campbell gal oor die BBC se eensydige en oppervlakkige dekking van die Sokker-Wêreldbeker. Die opskrif vat dit goed saam: Forced to watch the World Cup through a lens marked ‘England’.

Ja, hier gaat ons alweer. As jy moeg is om te lees oor die voetbal, dan moet jy weet hoe gatvol is ek om daaroor te skryf. Na laasweek het ek gedink dis nou klaar, maar moenie glo nie; die gebeure van die laaste sewe dae het my genoop om tog maar weer die pen op te tel (of dan ten minste die skootrekenaar nader te sleep) vir een laaste swanesang.

Dit was of dit, of die eenjaar-herdenking van Londen se bomme. En die lewe is veels te kort om weer daardie ou koei uit die sloot te grawe.

Alastair Campbell is een van Tony Blair se beste vriende. Tot ‘n paar gelede was hy die kommunikasiehoof van die Arbeidersparty, die spindokter van alle spindokters. Hy het uit sy posisie bedank nadat daar ‘n storm om sy kop losgebars het oor stories wat die Britse regering na bewering gefabriseer het oor Irak se wapens van massa-vernietiging. Die man weet ook ‘n ding of twee van sokker: net nou die dag het hy in ‘n span saam met Diego Maradonna op die veld gedraf.

En Alastair Campbell is ‘n Skot. Met ander woorde hy kyk effens meer objektief na die Wêreldbeker as die gemiddelde man op straat hier in Londen, wat verklaar hoekom die media se partydigheid hom so dwars in die krop steek. Ek kan nie anders as om met hom saam te stem nie.

Dit het my veral gepla toe Frankryk in verlede week se halfeindrondte-wedstryd te staan gekom het teen Portugal. Ja, ek was aan die Portugese se kant ter ere van die Nando’s hoender, maar ek besef ook dat hulle in terme van Blackshaw se Reël seker nooit veel van ‘n kans gestaan het teen die superieure wynmakers van Frankryk nie. Toe ek egter die aand my televisiestel aanskakel om na die wedstryd te kyk, kon ek eenvoudig nie glo hoe eenparig al die kommentators in die ateljee die Porras verdoem nie.

Een en elk van hulle het saamgestem dat Frankryk se span verreweg die beste was; deur die bank wou almal van hulle hê dat die Franse moes wen. Elke keer wat ‘n Fransman ‘n aanskoulike duikslag uitgevoer het is dit veroordeel as Portugese aggressie (insluitende die keer toe Thierry Henry se oordrewe reaksie op die beslissende strafdoel uitgeloop het). Portugal kon eenvoudig niks reg doen in die oë van die kommentators nie en Frankryk niks verkeerd nie. Ja, dis nou dieselfde Frankryk wat in die eindstryd weer ‘n strafdoel aangeteken het nadat een van hulle spelers nogmaals geduik het, en Zinadine Zidane toe ‘n bietjie later van die veld af gestuur is na die kopstamp van alle kopstampe.

Die ergste van alles is dat ek nog nooit voorheen ‘n Engelsman raakgeloop het wat enigiets goed te sê het oor die Franse nie (of omgekeerd, noudat ek daaraan dink). Ja, die Britte hou daarvan om vir ‘n dagtrippie oor te skiet Calais toe om goedkoop drank aan te skaf en almal van hulle wil aftree in Provence. Maar agter toe deure kryt die inwoners van hierdie twee lande wat geskei word deur ‘n kort treinrit mekaar steeds elke dag uit as Frogs en Rosbifs.

Die rede vir die BBC se eenogigheid verlede week is natuurlik voor-die-handliggend: suur druiwe, na Engeland se nederlaag teen Portugal in die vorige rondte van die Wêreldbeker. As ‘n mens alles moet glo wat die koerante hier opdis, is die hele treurmare van Engeland se mislukte toernooi toe te skryf aan Christiano Ronaldo se onnutsige knipoog nadat Wayne Rooney nou die dag van die veld af gejaag is.

Asseblieftog, man, wat is dan nou regtig erger? ‘n Bedorwe brokkie wat sy speelgoed gooi, of ‘n skobbejak wat ‘n ander man trap wanneer hy lê?

Nou hoor ek dat die Engelse selfs sover gaan om hulle vakansies in die Algarve te kanselleer. Die mense sal sowaar enigiets doen om die Portugese terug te kry vir hulle eie nasionale weemoed wat eintlik maar net toe te skryf is aan ‘n oorbetaalde en oorskatte span wat ALWEER met mening gaan lê het.

Ja-nee, al hierdie suur druiwe is die rede hoekom die Engelse nooit goeie wyn sal kan maak nie. Ingevolge Blackshaw se Reël het hulle met ander woorde ook nie ‘n kans om ooit die Wêreldbeker te wen nie. Om die waarheid te sê, weet ek nie eintlik hoe hulle dit in 1966 reggekry het om die trofee in te palm nie (ek was toe nog bitter klein) – het hulle dalk destyds goeie wyn gemaak in Engeland?

Ter opsomming: die BBC-span se houding tydens die Frankryk-Portugal wedstryd was genoeg om van siek te raak. En net daar en dan het ek besluit: so kan dit waaragtig nie aangaan nie. Hoe kan ek regtig vir die Engelse span skree as daar so ‘n groot gaping is tussen dit wat ons glo? Hoe kan ek hulle ondersteun wanneer ons emosionele belewenis van dit wat op die veld aangaan, nie eers naastenby op dieselfde golflengte is nie?

Beproef alle dinge, behou die goeie, so sê die Bybel. En ek het oor die laaste maand ‘n daadwerklike poging aangewend om my self te beproef as ‘n ondersteuner van die Engelse span. Maar dis tyd om die feite vierkantig in die gesig te staar: dit was nie goed nie. Trouens, al wat dit was, is ‘n beproewing. Ek is bitter jammer, maar ek kan dit nie behou nie; vir Engeland wys ek vandag die spreekwoordelike rooi kaart. Dan skree ek eerder vir Serbië en Montenenegro.

Om terug te keer na Alastair Campbell toe: ek was toevallig nou die dag by ‘n geleentheid waar die man opgetree het as gasspreker. Toe ‘n lid van die gehoor hom vra wie hy as Skot ondersteun in die Wêreldbeker, was sy reaksie dat hy hoop Engeland doen baie goed. En hy het dit opgevolg met die stelling dat hierdie anwoord hom verhinder om te sê wat mense dink hy sê terwyl hy besig is om dit te sê.

Self kan ek dit nie beter stel nie.


Voetstoots van Tonder
9 Julie 2006

Sunday, July 02, 2006

Probeer 'n bietjie harder, Engeland...

Photobucket - Video and Image Hosting

So daar word “my” span toe uitgeskakel; ten minste was ek reg toe ek voorspel het dat Eng-er-land waarskynlik op hulle herrie gaan kry lank voor die Wêreldbekertoernooi verby is. Dat dit moes gebeur met Wayne Rooney wat een van die Portugese spelers trap waar ‘n man nie getrap wil word nie, was op die ou end maar net die kersie op die koek.

Maar die vuilspel het eintlik al voor die tyd begin. Toe ek Saterdagoggend my koerant oopslaan, moet ek vaskyk in ‘n advertensie vas van Mastercard. Portugese gelukbringer: 6 euro; St George wat die hoender slag: prysloos. En die prentjie daarmee saam? Nando’s se hoender, uitgeknip.

Dis net mooi toe wat ek besluit: kyk, nou het die Engelse te ver gegaan. Vat aan die Nando’s hoender, dan vat jy aan my; van nou af skree ek sommer vir Portugal. Soos ek ‘n week of twee gelede te kenne gegee het, was dit in elk geval moeilik genoeg om by my besluit te bly om die bleekvelle van Engeland te ondersteun.

Toe ek ‘n bietjie verder daaroor dink, besef ek dat ek in elk geval dalk die punt gemis het toe ek nou die dag op ‘n analitiese wyse probeer het om vir myself ‘n span te kies om te ondersteun in die Wêreldbeker. Hoekom het ek nie van die begin af gegaan vir die Portugese nie? As dit immers nie vir hulle was nie, sou die Hottentotte waarskynlik vandag nog oor die Kaap regeer het, en nóg jy nóg ek sou Afrika se stof aan ons voete gehad het. Wat meer is, Nelson Mandela sou waarskynlik doodgegaan het as ‘n onbekende skaapwagter in die boendoe, Desmond Tutu sou uitgedraai het as ‘n toordokter, en die wêreld sou gespaar gewees het van Jurie Els.

Dit alles het my genoop om die geskiedenis bietjie na te slaan, nie net van Nando’s se peri-peri hoender wat in 1987 in Rosettenville in die diep Suide van Johannesburg ontstaan het nie, maar ook van die Portugese seevaarders wat vyfhonderd jaar gelede ons land “ontdek” het. Lank voordat Jan van Riebeeck en sy trawante ‘n volk kom plant het, was Bartholomeus Dias mos die eerste Europeër wat te doen gekry het met die Kaap van Storms toe hy van koers af gewaai is in 1488 en naby die Tsitsikammabos aan wal gestap het; vandag nog is die wêreld se hoogste bungee-springplek in die omgewing om die gebeurtenis te gedenk. Tien jaar later het Vasco da Gama van Europa af om die Kaap gevaar tot by Indië; die feit dat hy nie in die proses van die aardbol afgeval het nie, het die man met soveel optimisme gevul dat hy die eerste een was wat begin praat het van die Kaap van Goeie Hoop. En behalwe vir die voorvaders van Herrie die Strandloper, was Antonio de Saldanha die eerste persoon wat Tafelberg uitgeklim het in 1503.

Terloops, ek verstaan die Portugese was dalk ook verantwoordelik vir die ontdekking van Australië, soveel soos tweehonderd jaar voor Kaptein Cook daar gearriveer het. Maar vir daai een sal ek hulle maar vergewe.

Leer deesdae se kinders nog van al hierdie goed op skool? Of word die stelselmatige kolonisering deur die destydse Europese moondhede deesdae afgemaak as ‘n misdaad teen die mensdom, iets om te verban uit die kollektiewe bewussyn?

Die feit dat ek vandag is wie en wat ek is te danke aan die Porras, is egter nie die enigste rede hoekom ek op die ou end redelik simpatie gehad het met die Portugese voetbalspan toe hulle Saterdag die Engelse afgestof het nie. Daar is ook Blackshaw se Reël van Neutraliteit in Sport, iets waarop ‘n vriend my attent gemaak het die dag voor die wedstryd. Ek het nie ‘n idee wie Blackshaw is of was nie, maar kortliks kom dit daarop neer daarop dat mens altyd die land behoort te ondersteun wat die beste wyn maak; dis nou tensy jy moontlik ‘n direkte patriotiese belang by ‘n wedstryd het.

As jy daaraan dink, het Blackshaw se Reël nogal goed gewerk in hierdie hele Wêreldbekertoernooi. Die top vier spanne wat byvoorbeeld hierdie week se halfeindstryde gaan beslis, is onderskeidelik die makers van sagte Bordeaux-versnitwyne en sterk barolos, sowel as die beste rieslings en die heerlikste port wat geld kan koop. Kan dit die rede wees daarvoor dat Brasilië laas Saterdag vasgeval het teen Frankryk? Verklaar dit hoekom Tunisië en Iran so vrot gespeel het? En beteken dit dat Bafana Bafana se probleme eintlik daai dag begin het toe die KWV groenrissies in die sauvignon blanc gegooi het?

So, daar is die Porras nou in die halfeindstryd van die Wêreldbeker, of dit nou te danke is aan Blackshaw se Reël aldan nie. Ek hoop hulle doen goed. En nooit weer sal enigeen van ons kan wegkom met al daai flou grappies nie. Jy weet mos: hoekom kan Portugal nie kompeteer in sokker nie? Want elke keer wat hulle ‘n corner kry, maak hulle ‘n groentewinkel oop…

Of ‘n Nando’s, natuurlik. Ken jy die storie van daai sexy hoender met die wilde kuif op hierdie kitskos-kettinggroep se embleem? Dit simboliseer ‘n legende uit die dorpie Barcelos, waar ‘n kêrel ter dood veroordeel is vir ‘n moord wat hy nooit gepleeg het nie. Die regter was besig om gebraaide hoender te eet – standaard prosedure by ‘n Portugese hofsaak, neem ek aan… Die beskuldigde roep toe uit: as ek onskuldig is, laat daai hoender uit die dode opstaan! En siedaar: oomblike later begin die kuiken op die bord kekkel, die regter skrik homself nugter, en die gevangene stap skotvry weg. Lieflike storie, is dit nie?

Om Portugal se oorwinning te vier en hierdie pragtige staaltjie te gedenk, het ek toe maar Sondagmiddag by die Nando’s op Westbourne Grove gaan eet. Al daai peri-peri sous het ‘n snikheet dag selfs warmer laat voel; dit was heerlik. En ek’s dankbaar om te kan rapporteer dat die hoender darem nie wakkergeword het op my bord nie.

Ter afsluiting, ‘n boodskap vir die Engelse voetbalspan terwyl hulle besig is om die trane af te droog in Baden Baden.

Probeer asseblief ‘n bietjie harder wanneer dit weer tyd is vir die Wêreldbeker oor vier jaar. Probeer om ‘n afrigter met persoonlikheid te kry. Probeer om julle tone mooi op te pas. Probeer om heelwat minder in die nuus te wees vir al julle meisies se inkopies, en heelwat meer vir julle uitnemende voetbal. Probeer dalk selfs om ‘n paar penalties in die tussentyd te oefen.

In ruil daarvoor belowe ek om weer te probeer om julle te ondersteun.

Dis nou behalwe as julle dalk die dag teen Suid-Afrika speel (‘n moontlikheid, aangesien ons as gasheer immers deel gaan wees van 2010 se kompetisie).

Want sien, ons maak immers beter wyn as julle – groenrissies of te not.


Voetstoots van Tonder
2 Julie 2006
< # afrikaans ? >